Vandeesmaand se Romanza’s is prentjiemooi, ook so dié een deur Ernalize du Toit. Dit volg die verhaal van Teda en Will. Teda is ‘n toegewyde beroepsvrou met baie hooi op haar vurk. Sy ontwerp stelle vir TV produksies, sy doen binneshuisversiering en het ‘n droom vir ‘n dekorwinkel. Sy kom uit ‘n afbrekende verhouding en romanse is nie op haar radar nie. Will, ‘n suksesvolle sakeman met ‘n tienerseun, laat ongevraagd haar hart vinniger klop met sy Engelse aksent en al. Hy kom egter ook met bagasie, ‘n “donkerte” waarvoor hy nog nie raad het nie en wat hy nog nie geredelik wil deel nie.

Nadat ‘n aanvanklike misverstand opgeklaar is, ontwikkel hulle verhouding verbasend vinnig en gladweg. Will se tienerseun, Richard, is ook nie die gewone pyn-in-die-nek-rebel wat ‘n vlieg in die salf is nie. Inteendeel. Dus het my ooraktiewe verbeelding begin wonder oor moontlike toekomstige struikelblokke, wat dan ook kom aanmeld in die vorm van ‘n onstabiele peetsuster van Will, wat vir Teda trompop loop en probeer verwilder.

Ek moet erken dat Teda se reaksie op die debakel my ietwat verras het. Dit was vir my bietjie té heftig, veral omdat Will beslis aan haar kant was. Dit was egter funksioneel in die sin dat dit juis die struikelblok verskaf het wat oorkom moes word voordat die storie suksesvol kon ontknoop. Will bly deurentyd die onkreukbare held met ‘n vaste voorneme om Teda se hart te wen.

Ek het lekker gelees aan hierdie eerste vollengte romanse deur hierdie skrywer. Sy het voorheen twee novelles gepubliseer onder Lapa se voormalige Romanzaliefde vaandel.

Koop die gedrukte boek hier, en die e-boek hier.