Foxtrot van die liefde was vir my meer as net nóg ’n uitstekende liefdesverhaal. Dit het my aan die hart kom raak, want, om Franco se woorde te gebruik, sal ek, soos Katalaya, my sestigste verjaarsdag nie weer in die truspieëltjie sien nie. Die ooreenkomste was byna oorweldigend; ook sewe en dertig jaar getroud, twee kinders grootgemaak, langs bejaarde ouers se beddens in siekeboë gestaan, getreur oor hulle verlore lewenskwaliteit. Daarom kon ek spesiale waardering hê vir die sensitiwiteit en eerlikheid waarmee Kristel Loots die karakters geskets het, terwyl sy tog nie haar kenmerkende humorsin in die slag laat bly het nie.
Katalaya is ’n sestiger wat skielik ’n eensame toekoms in die gesig staar, ten spyte van haar funky klere en platinumblonde hare. Maar sy is taai, sy wil nog lewe en sy wil nog liefhê.
Wanneer haar ma, wat klaarblyklik demensie het, begin praat oor die man met die Elvis-kuif, moet Katalaya gebeure in haar kinderjare herbesoek. Kristel Loots bewys haarself weereens as ’n meesterverteller wat ’n storie laag vir laag afskil en die karakters en die lesers keer op keer kom verras. Ek hou van die positiewe noot waarop die verhaal eindig, met die vooruitsig dat die foxtrot nog lank gedans gaan word.