Ek het nog nie die suksesvolle internasionale treffers in die spanningsgenre wat as domestic noir bekend staan, gelees nie, en die skrywer Elsa Hamersma is ook vir my nuut. Daarom kan ek onomwonde die stelling maak dat ek Die mense langsaan, oopkop en sonder enige voorafopgesette idees of verwagtinge, aangepak het. Ek was van meets af aan, baie beindruk met beide die storielyn en die aanbieding. Die verhaal word afwisselend vanuit die perspektief van Zebith en Christine vertel.
Christine is Zebith se departementshoof, en Zebith beleef haar as ’n enigma, afsydig, dalk snobisties. So vroeg soos die twintigste bladsy, kry die leser egter insae in Christine se optrede by die skool. Sy geniet dit om daar bevele te gee, want tuis word sy emosioneel afgebreek deur haar man, Frikkie, se dominerende en verkleinerende houding. Hy maak die reëls en sy moet spring om dit uit te voer. Hulle nuwe buurman is die direkte teenoorgestelde en versterk haar begeerte om van Frikkie ontslae te wees. Zebith verhuis na ’n sekuriteitskompleks en verander van werk. Ook sy word gekonfronteer met bure wat haar lewe traumaties verander.
Terwyl die twee verhale ontvou, bou die spanning byna onopsigtelik op, en lewer dit een na die ander skokkende verrassing op, die laaste waarvan eers op die heel einde aangebied word. Dit is ‘n verhaal wat my laat nadink het oor hoe die werklikheid verskil van dit wat op die oppervlak sigbaar is. Ook oor die mate waarin die agtergrond waaruit ’n persoon kom, sy optrede bepaal. Lesers wat daarvan hou om te lees oor plofbare en spanningsvolle verhoudings, kan hierdie boek met gerustheid aanskaf. Dit sal diegene beslis gretig aan die lees hou