Ek geniet dit om tussen nuwe publikasies deur, van tyd tot tyd ’n boek op te tel wat vanweë sy gewildheid, ’n tweede publikasie beleef het. Lemoenseisoen van Kristel Loots is ’n tipiese voorbeeld. Ons ontmoet vir Suzy Louw, Mevrou Dominee. Die eerste hoofstuk word grootliks gewy aan haar misnoegdheid met die voorspelbaarheid en saaiheid van haar lewe as eggenote van die Frederick Louw. Haar lewe is in ’n vorm gegiet wat totaal bepaal word deur sý voorkeure en afkeure. Haar seksualiteit moet sy onderdruk, en van romanse en samehorigheid is daar geen sprake nie; selfs met haar dogter stamp sy koppe.
Met die humor wat so tiperend is van Kristel Loots se skryfwerk, word die bordjies egter verhang wanneer Suzy, wat ’n deeglike skoot voortvarentheid weg het, besluit dat sy vir ’n skatryk en charismatiese CEO van ’n groot onderneming gaan werk, kom wat wil. In Suzy het ons ’n uiters interessante karakter wat vir geen oomblik verveel nie. Vir Frederick word mens genoegsaam boos, en Dante del Marco hou die leser aan die wonder tot diep in die verhaal.
Suzy se onkonvensionele optrede is baie vermaaklik, maar die verhaal is allermins ligsinnig. Tewens, daar is ’n groot hartseer wat haar dryf om weer in Engeland te kom. Wanneer die volle verhaal van haar lewe ontknoop, wil die leser saam met haar huil, en gelukkig ook uiteindelik saam met haar juig.
Geloofwaardige karakters, ’n vol storielyn en knap skryfwerk maak van Lemoenseisoen ’n heerlike leeservaring.