Binne enkele paragrawe slaag die skrywer daarin om die vreemde omstandighede aan die begin van die Covid pandemie, weer duidelik in herinnering te roep. Lara se ontnugtering, die surrealistiese gevoel wat sy kry in die lughawe, grense wat sluit en vlugte wat gekanselleer word, dit alles voel skielik weer so bekend. Dit bied natuurlik ‘n wonderlike geleentheid om ‘n storielyn te bou, veral vir hierdie skrywer wat goed bekend is met die kultuur en omgewing in Thailand. Sy gebruik dan ook ‘n welsynsorganisasie, wat onder andere Karen-meisies bemagtig en olifante rehabiliteer en versorg, as inspirasie vir die fiktiewe karakters en storie van hierdie Romanza, welke erkenning sy dan ook in ‘n outeursnota gee.

Die verhaal speel grootliks af in die oerwoud noord van Chiang Mai, waar Lara as vrywilliger gaan werk, en die eienaar, die enigmatiese Khun Ti ontmoet. Hoewel sy haarself nie vry voel om liefde in haar lewe toe te laat nie, kan die fisieke aantrekkingskrag tussen die twee nie lank gesystap word nie. Khun Ti, oftewel Teagan O’Sullivan, is ‘n Ierse Thai, maar hy versuim om aan haar sy volle verhaal te vertel. Die vlugtige tussenkoms van mevrou O’Sullivan, veroorsaak dat Lara die oord verlaat en by die eerste geleentheid, terugkeer na Suid-Afrika.

Getrou aan die karakter van die romanse, word probleme in die weg van die liefde, wel gunstig uitgeklaar, en kan die held en heldin hulself uiteindelik vry voel om lief te hê. ‘n Gesellige romanse, wat humor, drama en ‘n paar stomende tonele suksesvol kombineer teen die agtergrond van die pandemie.

Bestel die gedrukte boek hier, en die e-boek by hierdie skakel.