Sonder waarskuwing, trek die eienaar die mat uit onder die voete van die personeel van Conferences Etcetera deur aan te kondig dat hy die besigheid gaan sluit. Vir Kristin, die geleentheidsbestuurder, is dit ’n dubbele slag, want sy was ook in ’n verhouding met Ray. Wanneer hy haar boonop summier die perseel verbied, is sy in sak en as, sonder liefde óf werk.
Dit is op hierdie punt waar die storielyn my nie heeltemal oortuig nie. Haar terugbons uit die dilemma was vir my te vinnig, gegewe wat sy alles verloor het. Nietemin ’n verhaal wat lekker vloei en die leser, soos in ván die skrywer se vorige werk, laat kuier op Stellenbosch en omstreke. Ook ’n agter-die-skermskykie gee in die modus operandi van ’n geleentheidsbestuursfirma en alles wat kan skeef loop.
Ek dink menige ongetroude leser sal kan droom om ’n held soos Ryno raak te loop. Hy is oopkop, vrygewig en baie lojaal, hoewel hy soms vinnig afleidings maak sonder om vrae te vra. In kontras, is daar ’n paar karakters wat meer twyfelagtig is, wat motiewe en optrede aanbetref. Die paar probleme wat opduik, help beslis om die verhaal te balanseer, gegewe my voorbehoud dat dinge byna te maklik in plek geval het.