Eienaars van volbloed staffies weet dat daar tydens ’n ordentlike hoëveldse donderstorm, nie veel sprake is van rustige slaap nie. Slaap die diertjie buite, gaan hy paniekerig om die huis begin storm en uiteindelik teen jou kamervenster kom vasspring. Daardie spronge gaan hy meedoënloos herhaal totdat sy baas bes gee, met dieselfde resultate as by die staffie wat binne slaap. Soos onse Coco.
Kort nadat sy haar intrek in ons huishouding geneem het, het ons agtergekom dat ‘n pienk laken tussen ons twee op die bed, ding saak vergemaklik. Sy word bang, spring op en kry haar sit of lê op haar laken. Weliswaar met die nodige geblaas en geritteltit, maar só kon ons wel ’n mate van rus inkry. Ongelukkig was die goeie plan se sukses van korte duur. Haar huidige modus operandi is ’n maniese op-en-af-springery. Hierdie aksie word altyd aan my kant van die bed uitgevoer. Ek word getrap en bespring tot huilens toe.
Gisteraand was besonder drukkend voordat die storm ons bereik het. Dus is ons kombers by die voetenent opgebondel. Ons laken was meer as voldoende. Kort voor lank was dit pienk-laken-tyd. Iewers moes die storm bedaar en sy tot ruste gekom het, ons genadiglik ook. Ek word op ’n stadium bewus dat sy op die punt van die bed lê, waar my voete behoort te wees. Omdat mens nie slapende honde wakker maak nie, maak ek ander plan met my voete en tas op die bed rond totdat ek die laken kry en my toetrek. En verder slaap.
Wat is die slaap … ’n Soete ding wat vinnig weer verbreek word, hierdie keer deur Coco wat van die bed afspring. In die skemerte van die vroegoggend maak ek die figuurtjie uit wat staan en hyg en blaas. Wonder toe of daar nog weer in die lug is, maar ek hoor niks. Draai my kop in my man se rigting, en sou hardop kon lag, as ek net nie so moeg is nie. Hy lê op die naat van sy rug, op die rand van die bed, tot by sy ken toegetrek onder die pienk laken! Verdere ondersoek wys dat ek ons laken oor my het, waar ek op my rand van die bed lê.
Die raaisel van haar vreemde vroegoggend hygende gedrag, klaar my man toe later op: hy is badkamer toe kort tevore, en kon haar nêrens sien nie. Tas toe op die bed rond, en vind haar pens en pootjies, heeltemal bedek deur die kombers op die voetenent. Ek ys om te dink hoe warm sy gebak het teen die oggend! Gelukkig het haar grond- of eerder, bedverdeling daardie bakoond van ons af weggehou. Dit sou die laaste strooi wees op ’n nag soos die een wat ons sopas deurworstel het.