• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: February 2017

“Vandat jy weg is”, ’n trefferverhaal

28 Tuesday Feb 2017

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

img_46261

Gemeet aan die mate waarin die leser emosioneel betrokke raak by die karakters, en by uitstek by die hoofkarakter, Jessica, is Vandat jy weg is, ’n uitmuntende stuk skryfwerk. Santie van der Merwe slaag daarin om die leser toe te laat om as’t ware in die kop, maar ook die lyf van Jessica te kom. Jy beleef haar emosies wat wipplank ry, jy voel hoedat die gebeure haar liggaamlik raak, hoe sy afgerem is en ure omslaap.

Die titel impliseer die verlies van ’n geliefde.’n Huwelik van byna vyf en twintig jaar, is op die rotse. Die effek daarvan, nie net op die hoofkarakter nie, maar ook op haar kinders en ander mense in haar onmiddelike ruimte, word met deernis en begrip weergegee. Ek het deurentyd die gevoel gekry dat die skrywer in beheer is van die verhaal. Aksies en ruimte word met oortuiging beskryf.

Hierdie opwindende nuwe skrywer sorg vir ’n verhaal wat enduit boei. Vandat jy weg is, skop af met ’n wending wat jou binne die eerste hoofstuk onkant betrap. Daar is vir my by die lees van ’n boek, gewoonlik ’n punt waarby ek dit nie meer wil neersit nie, waar ek dit wil deursien na die einde. In hierdie geval, was dit sommer van meets af aan die geval. Ek kan die boek ten sterkste aanbeveel, maar lees verseker eers Gelyke kans, wat hierdie verhaal voorafgaan. Die twee boeke is ‘n aaneenlopende verhaal, sonder baie gedetaileerde terugverwysing na die eerste boek.

 

Viva la Vida

20 Monday Feb 2017

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Viva la Vida was net my tweede kennismaking met die skryfwerk van Bernette Bergenthuin. Die eerste was ’n heerlike novelette in RomanzaLiefde met die titel Kersie bo-op. Viva la Vida stel nie teleur nie.

Die skrywer het óf ’n verbasende gawe, óf sy doen deeglike karaktersketse alvorens sy die verhaal aanpak, wanvidat sy het ’n handvol rolspelers geskep wat enduit honderd persent binne hulle karakters opgetree het. Eerstens was daar natuurlik Vida Maria, soos haar ouma haar konsekwent aanspreek. Sy verpersoonlik die moderne beroepsvrou, sterk, onafhanklik en ambisieus, maar tog baie lojaal, met min geduld met pretensies en aanstellerigheid. Vida se gewoonte om ’n geykte uitdrukking ’n nuwe, en gewoonlik komiese verwerking te gee, het my menigmaal laat lag.

Dan is daar Rudi, haar beste pel sedert kleintyd. Sy stel Rudi se belange knaend voorop, dikwels ten koste van haarself. En natuurlik die nimlike ouma Wollie wat stuit vir geen duiwel en uiters uitgesproke is. Die rolle van die ander newe-karakters word ewe goed ontgin. Daar is genoeg teenpole onder die karakters, om die verhaal lewend en interessant te hou.

Die romantiese fiksiegenre dikteer weliswaar ’n gelukkige einde, maar die skrywer het baie goed daarin geslaag om die hoe en wanneer tot op die laaste uit te stel. Dit is ’n boek wat jy nie graag wil neersit as jy eers op dreef is daarmee nie.

Gelyke Kans

13 Monday Feb 2017

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

Gelyke Kans is reeds in 2015 gepubliseer, maar ek is so beïndruk met die verhaal, dat ek tog my pond vleis wil lewer. Ons het hier nie te doen met ingewikkelde feitestelle, of ’n besondere komplekse storielyn nie. Dit gaan primêr oor emosies, en die skryimg_0489wer slaag daarin om met pynlike eerlikheid te skryf oor die gevoelens betrokke by ’n huwelik wat verbrokkel na vyf en twintig jaar.

Die verhaal word uit beide die man en vrou se perspektief geskryf. Die karakters word vol uitgebou. Die leser se simpatie lê aanvanklik uitsluitlik by Jessica, wie se man, Anton,  haar verruil vir ’n baie jonger weergawe. Die skrywer plant wel ’n saadjie van twyfel of Jessica volkome vrygeskeld kan word. Haar winkel het tog die belangrikste ding in haar lewe geword nadat die kinders uit die huis is. Het Anton afgeskeep gevoel en was hy daarom ’n maklike prooi vir ’n buite-egtelike verhouding?

Dit word meer as ‘n voorspelbare liefdesdriehoek wanneer Jessica se jeugliefde ook by die verhaal betrek word. Dit neem ‘n verdere interessant wending wanneer Anton aandring op ’n gelyke kans waaroor hulle as jonggetroudes ooreengekom het.

Sonder pretensieuse taalgebruik of pogings tot “mooi” skryf, wend die skrywer beeldspraak oordeelkundig aan om die leser midde ’n situasie te plaas. Enige leser wat al tyd spandeer het in ’n huis met kleuters, sal byvoorbeeld presies verstaan waarom daar verwys word na die “puin van ’n dag” in die lewe van ’n tuisblymamma.

Ek kan heeltemal verstaan waarom hierdie debuutroman van Santie van der Merwe ‘n finalis was vir die ATKV Woordveertjie 2016 in die afdeling Liefdesromans. Dit het ‘n skrywer van die formaat en ervaring van Irma Joubert gekos om haar te klop.

Gelyke kans sal ek met groot vrymoedigheid aanbeveel by lesers wat dit ook, soos ek, misgeloop het toe dit gepubliseer is Ek is besonder bly om te sien dat daar ‘n opvolgboek geskryf is, en ek gaan moeite doen om dit te lese te kry. Chanette Paul is gekwoteer op die omslag van Gelyke kans dat sy die boeke al sien opstapel. Paul is reeds korrek bewys, want in minder as twee jaar, kan Santie van der Merwe spog met vier publikasies, wat nog heerlike leesure beloof.

 

Vlug wes saam met Irma Joubert

02 Thursday Feb 2017

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Immer Wes is ’n baie gepaste titel vir die reis waarop Irma Joubert haar lesers neem, en wel deur die oë van Hildegard, ’n dogter uit die Oos-Pruisiese adel. As dogtertjie van vyf jaar, vlug sy saam met haar ouers en haar Engelse oppasser uit Sint Petersburg na Königsberg. Van daar na Berlyn, as die vrou van ’n mediese dokter, dan na Düsseldorf. Uiteindelik bevind sy haar in Duitswes-Afrika sonder heenkome. Dit is dan ook hier waar haar pad weer kruis met Gustav, wat sy jare gelede geken en bewonder het, toe sy as kind in Königsberg gewoon het.img_0374

Die leser beleef saam met Hildegard die wreedheid, ontbering en menseslagting van beide die Groot Oorlog en die Tweede Wêreldoorlog. Hoewel dit ’n baie somber storielyn is, is dit boeiende leesstof. Die skrywer deel ontsettend baie besonderhede van die geskiedenis en politiek van daardie tydvak, terwyl die emosionele en fisiese ervaringe van Hildegard en haar mense, sorg dat dit nie ’n kliniese oordra van feite word nie.

Wat my in besonder opgeval het, was hoe effektief die beskrywings en dialoog in pas was met die ouderdom van Hildegard. Bondige sinne wat weergee wat die klein dogtertjie dink of sê, brei algaande uit totdat dit duidelik is dat daar ’n volwasse vrou aan die woord is, en wel een wat gereduseer word van adel na werkersklas.

Die verhaal, wat die eerste in ’n trilogie is, eindig wel op ’img_0374n hoopvolle noot. Ek sien bepaald uit na die volgende boek.

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy