Toe ek begin lees aan hierdie roman, Die lanternswaaier se opvolg, het ek gewonder waarom die skrywer nie ’n stamboomskets saam met die kaart geplaas het nie. Dit sou help om tred te hou met die groot hoeveelheid karakters. Baie gou het ek agtergekom waarom dit nie kon werk nie, juis omdat die navors van familielyne, en die soeke na identiteit die storie ten diepste onderlê. Die “dooies” van Die Lanternswaaier word as’t ware lewend in hierdie tweede aflewering van die Lourense, die Uyse en die MacFarlanes.
Twee tydperke, die eerste beginnende in 1895 en die tweede wat in 2011 afskop, word meesterlik vervleg en volg die verloop van die lewens van drie vroulike hoofkarakters, Sophie Lourens, Maryna Lourens en Hanna Bagiano.
Dit is boeiende leesstof met oorgenoeg verrassende openbarings en intriges. Groot stukke geskiedenis vorm die basis vir die fiktiewe verhaal wat SD Fourie met soveel oortuiging aanbied dat mens byna verwag om vandag nog die nageslag van die karakters in die Strandveld te vind.
Ek het byna oorhaastig gelees aan die boek, deels om die raaisels waarmee Hanna moet deel, opgelos te kry en deels omdat ek skaars kon wag om met Noorman te begin. Die Strandveld trilogie gaan beslis op my rak bly, en weer in die toekoms herlees word. Dit verdien volpunte!