• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: August 2020

Dagstukkies vir 2021

31 Monday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

2020 was en is ’n jaar soos ons nog nooit beleef het nie. Die konstante vrees vir ’n onbekende virus, inperking, verlies aan inkomste, verbod of beperking op eredienste en ander byeenkomste; dit is maar ’n paar van die uitdagings wat ons te beurt geval het in 2020. Genoegsame rede om reikhalsend uit te sien na ’n nuwe jaar met, hopelik, minder probleme.

Ek het onlangs ’n ekstra rede gekry om uit te sien na 2021. Die nuwe uitgawe van die ou bekende, Uit die beek, is by my afgelewer. Dit was interessant om in die voorwoord te lees dat hierdie dagstukbundel reeds vanaf 1929 jaarliks in Afrikaans verskyn. Die huidige formaat is ’n pragboek in sagteband met gemaklike lettertipe en uitleg.

Die beproefde resep word steeds gevolg: ’n opskrif om die tema in te lei, ‘n teksvers uit die gelese gedeelte vir die dag, gevolg deur ’n kort oordenking. Vir die nuwe jaar het die skrywer plek gelaat vir langer gebede, met die doel om regtig stil te word rondom die Woord.

2021 se rooster is die eerste van ’n vier-jaar projek om die Bybel van voor na agter deur te lees. Dit begin by Genesis en verskeie Ou-Testamentiese boeke kom aan die beurt, afgewissel met ’n paar Nuwe Testament boeke.

Skaf gerus die dagboek vroegtydig aan, en sien saam met my uit na die aanvang van 2021 en ’n vars stap saam met Jesus deur die boeke van die Bybel.

Die man langsaan

31 Monday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Hierdie nuutste liefdesroman uit die pen van Cynthia Robertson, was vir my ’n emosionele wipplankryery. Die diepgaande kwessies wat vir Paloma gevorm het om die mens te wees wat sy is, op iets oor die veertig, is beide ontstellend, maar ook realisties. Daar ís mense wat jou sal afkraak oor jou liggaamsbou, eetversteurings kan die direkte gevolg daarvan wees. Jy kán gelaat word met ’n oortuiging dat jy nie goed genoeg is nie.

Die hartseer gebeure rondom Bibi, het my tot trane gedryf omdat ons gesin baie onlangs deur ’n soortgelyke ervaring is. Verfrissend, aan die meer positiewe kant, was die borrelende Sindisiwe en ’n potensiële stiefdogter wat nie ’n probleemkind en opperste klein feeks is nie. Daar was egter sommer twee antagoniste in die gedaante van jaloerse vrouens wat baie graag Arno se aandag wou hê.

Die buurman was net mooi alles wat mens in ’n held soek, en sy eksentrieke ma was ’n baie interessante karakter. Teen 80% gelees, het ’n paniekaanval gedreig, want ek het besef iets móét nog skeefloop en ek was só bang dat Arno voete van klei sou hê.

Nog ’n raakpunt met die storielyn: ekself het veertig jaar gelede met die man langsaan getrou. Ek het die verhaal besonder baie geniet, en gee maklik vier sterre.

Koop die E-boek hier

Die papierboek is beskikbaar by bostaande skakel

Kies-jou-avontuur

31 Monday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Mario is sy skool se rekenaarspeletjiekampioen. Nikos, die eienaar van die winkel waar hy sy speletjies koop, gee vir hom ’n USB-geheuestokkie, onder oënskynlike groot geheimhouding oor die speel van die speletjie wat daarop gestoor is. Teen hierdie tyd het die leser reeds ’n keuse uitgeoefen, maar nou raak dit baie interessant, en neem die storie vele wendings aan, telkens na aanleiding van die keuse wat die leser uitoefen. Die risiko bestaan deurentyd dat die leser vir Mario blootstel aan wesenlike gevaar, of selfs sy soektog na die ses goue muntstukke kan beëindig.

Giga, in ‘n verskeidenheid van formate, vergesel vir Mario op sy skrikwekkende reise na die sewe wonders van die antieke wêreld. Die uitstekende illustrasies van Johann Strauss dra grootliks by tot die bekoring van die boek.

Wie gaan hierdie boek geniet? Jongmense met ’n voorliefde vir avontuur, rekenaarspeletjies en fantasie. Maar ook ouer mense wat bietjie wil ontsnap uit die daaglikse sleur en voorspelbaarheid. Gelukwense aan De Wet Hugo is beslis in orde. Dit moes fyn beplanning en kophou gekos het om die hele intrige aanmekaar te weef. Dit verdien vyf goeie sterre.

Raaiselsee

27 Thursday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Raaiselsee is die derde in Troula Goosen se suksesvolle Raaiselreeks. Dit is al beskryf as ’n “spannende historiese jeugroman wat tegelykertyd fantasie-, avontuur- en spookverhaal is.”

Raaiselsee is die derde in Troula Goosen se suksesvolle Raaiselreeks. Dit is al beskryf as ’n “spannende historiese jeugroman wat tegelykertyd fantasie-, avontuur- en spookverhaal is.”

Die hoofkarakter is veertienjarige, Daniel, wat besluit om ’n lewe van steel agter te laat en ’n eerbare lewe te voer, maar die voorneme word sommer baie gou getoets wanneer hy ’n besondere pêrelhangertjie sien om die nek van ’n meisie in ’n rolstoel. Juffrou Caitlin, soos sy heet, is ’n venynige siel, maar Daniel kom gou agter dat daar iets sinister is aan haar optrede. Sou dit verband hou met die vreemde vrou en haar wolf wat langs die see verskyn? Of met die pêrelhangertjie wat vreemd gloei?

Die karakters ontwikkel en groei besonder goed soos die storielyn al hoe meer spannend en geheimsinnig raak. Al die misterieuse elemente word uiteindelik netjies vasgeknoop.

Ek het die voorreg gehad om op Boekemakranka gesprek te voer met die skrywer, en eerstehands te verneem waar sy die inspirasie vir die storie gekry het. Raaiselsee word aanbeveel vir lesers van 14+, maar ek kan getuig dat volwassenes net so lekker daaraan kan lees. Elkeen van die drie stories wat die Raaiselreeks uitmaak, kan onafhanklik gelees word. Kyk gerus ook uit vir Raaiselklip en Raaiselster.

Om meer uit te vind oor die skrywer en die reeks, en spesifiek Raaiselsee, luister na die gesprek op YouTube by https://youtu.be/1zziDQkdtbI.

Roep van die naguil

25 Tuesday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

As ek moet oordeel aan die gemaklikheid waarmee die storielyn in Roep van die naguil vloei, die effektiewe taalgebruik met net genoeg beeldspraak om dit interessant te hou sonder om te oordoen, dan sou ek raai dat dit nie die eerste maal is wat Rina Cilliers haar hand aan skryfwerk waag nie, hoewel hierdie haar eerste romanse is onder Lapa se Romanza druknaam.

Nurinke se loopbaan, tewens haar hele lewe, neem ’n onverwagte wending wanneer sy van ’n spieëltafel afval, haar enkel breek en harsingskudding opdoen. Dit terwyl sy uit haar onderwyspos bedank het. Hierdie omstandighede laat haar paaie kruis met Lood, haar ouma se buurman met die befoeterde gesig en blou oë wat haar wêreld laat kantel.

Hierdie romanse merk al die boksies: die enigmatiese held, die impulsiewe en hardkoppige heldin, ’n verhouding met ’n jeugliefde wat nie haar hartklop laat versnel nie, ‘n skelm of twee wat sorg vir ’n lekker spanningsvolle wending, fyn humor, oorgenoeg misverstande en natuurlik ’n baie gelukkige einde.

Bestel die E-Boek hier, of die papierboek deur op die banier te kliek

https://lapa.co.za/roep-van-die-naguil-eboek?acc=140f6969d5213fd0ece03148e62e461e

Raaiselsee – ’n boekgesprek

24 Monday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Trisa Hugo en Analize Viljoen het baanbrekerswerk gedoen toe die pandemie boekgesprekke effektief gehalt het. Talle nuwe boeke is reeds aanlyn bespreek, en is steeds geskikbaar om na te luister op Boekemakranka se YouTube kanaal.

Moderne jeugboeke is baie gewild, selfs by lesers wat “tegnies” te oud is daarvoor, soos die uwe. Juis daarom het Boekemakranka vandeesweek weer ’n gesprek geskeduleer oor jeugboeke, by name die Raaiselreeks van Troula Goosen. Die derde in die reeks, Raaiselsee, het pas verskyn. Ek gaan met Troula gesels oor haar skrywersloopbaan, agtergrond en dan spesifiek die nuutste storie in die reeks.

Sluit gerus Woensdagaand, 26 Augustus, 19:00 op Boekemakranka se Facebookblad by ons aan vir lekker saamkuier.

Reënboogmelodie

21 Friday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Die pragtige buiteblad van Anzil Kulsen se nuutste geestelike fiksieroman mag ’n voornemende leser dalk ietwat mislei. Wees gewaarsku om nie ’n standaard gesinsroman met ’n versuikerde evangelieboodskap te verwag nie. Die skrywer skroom geensins om die harde werklikheid van verskillende verslawings en versteurings nugter oop te skryf nie. reenboog

Ek wil met opset nie detail verklap nie, want die oorsake van die probleme waarmee die karakters worstel, lê diep en word stelselmatig ontknoop soos die verhaal vorder. Die storie word beurtelings vertel vanuit die oogpunte van Diané en Robert. Elkeen van hulle moet hulle monsters konfronteer, want hoewel Diané se eetversteuring onder beheer is, moet sy nog ‘n hele paar ongemaklike ontdekkings maak en feite in die oë kyk, wat haarself, haar man en haar kind aanbetref.

Daar is ook genoegsame spanning bygewerk, anders as blote emosionele toetse waaraan die karakers blootgestel word. ’n Kriminele element dra verder by dat dit nie jou standaard geestelike fiksie is nie. Ek wil glo dat dit ’n breë spektrum van leesvoorkeure bedien. Dit skok, dit ontroer, maar dit skep ook hoop dat selfs ’n oënskynlik onmoontlike situasie kan beredder word.

Voor ’n oop deur

18 Tuesday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Wie wil sy wees: Marguerite Rossouw, Magriet, Melissa? Ware identiteit is meer as net ’n naam. Eintlik wil sy net doodgewone Nina wees, wat stilweg vir Aaron weer sin gee aan die lewe? Durf sy glo dat sy iets daarmee te make het dat hy gelukkiger lyk as toe sy hom ontoopdeurmoet het?

Die tema van geheueverlies is nog nie tot vervelens deurgetrap in romanses nie, daarom het dit gesorg vir ’n aangename lees. Die uiteindelike konfrontasie met Paul Rossouw was, gegewe die prentjie wat die leser vooraf vorm van hom, dalk te maklik. Daar is ’n skamele drie bladsye daaraan afgestaan. In die finale ontknoping lees mens wel dat daar tyd en moeite ingegaan het in die afhandeling van haar sake in die Kaap, wat dit meer in balans bring.

Die slottoneel is in die kol. Die heldin omhels haar identiteit, die held kry sy meisie… Dit is mos wat ’n romanseleser wil hoor.

Koop die E-Boek hier

Papierboek te kry by onderstaande skakel

’n Diamant vir Tersia

12 Wednesday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Tertia

Lesers wat, soos ekself, ’n besoek aan Namibië op hulle wenslys het, moet dit in 2020 maar ter syde stel weens die wêreldwye pandemie. Daar is darem ’n opsie om saam met Tersia Linde te vertrek na Lüderitz en sommer by Kolmanskop aan te doen. Sossusvlei is ook op die reisplan, maar hopelik haal ons nie ’n vloed op die hals nie.

Ek het dit natuurlik oor Ida Bester se nuutste Romanza, Tersia se Namibdiamant. Die leser kry nogal heelwat insig in die omgewing en toeristebedrywighede aldaar, maar effens ten koste van karakterontwikkeling. Dieter kom vir my nie heeltemal tot sy reg nie. Die storielyn maak baie staat op vrae waarmee die hoofkarakter worstel en wat herhaaldelik opduik, sonder antwoorde. ’n Pluspunt is ’n baie mooi slottoneel, simbolies van die vurige verhouding waarop Tersia en Dieter afstuur.

 

Koop die E-Boek hier

Kliek op die foto hier onder vir die papierboek

Slegs op versoek!

05 Wednesday Aug 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Ek het al male sonder tal ’n boek klaar gelees en steeds nie die kloutjie by die oor kon kry oor die titel nie. Te dikwels kry mens byna die gevoel dat daar naarstigtelik gewroeg is om ’n gepaste titel te vind, en ongelukkig dikwels sonder noemenswaardige sukses. Wat hoegenaamd nie die geval is met Dina Botha se nuutste Romanza, Soen my, asseblief, nie.soen my

Die titel maak hier ’n integrale deel uit van die storielyn. Dr Anika Stadler kom as nuwe ginekoloog en verloskundige aan boord by die Krynauw, en kruis reeds swaarde met dr Rynard Krynauw nog voordat sy haar motorfiets mooi staan gemaak het. Sy maak dit spoedig duidelik dat indien sy gesoen wil word, sy daarvoor sal vra. Dit sorg vir ’n lekker deurlopende kat-en-muisspeletjie namate hulle algaande meer by mekaar betrokke raak.

Dit was verfrissend dat die noodwendige bagasie wat sy uit haar verlede saamdra, nie die byna standaard verbrokkelde verhouding is nie. Beide karakters groei sterk deur die loop van die verhaal en besweer hulle spoke en vooropgesette idees.

Soos mens van Dina Botha te wagte is, lees die storie baie lekker en is daar net wenners aan die einde, insluitende die randkarakters wat ook hulle probleme bylê.

Koop die e-boek hier

← Older posts

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • March 2021
  • February 2021
  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel

 
Loading Comments...
Comment
    ×
    Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
    To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy