René van Zyl debuteer in 2018 met ’n romanse uitgegee deur Lapa, en volg dit op met meer Romanzas asook ’n SuperRomanza. Aan die einde van 2019 vind ons haar in ’n drasties verskillende genre, toe Die Alfadokument deur Wenkbrou uitgegee word. Hierdie naelbyt samesweringsriller volg die korrupte werkinge van die Nikolaïete Orde en die pogings van Josh Young en Kayla Cohen om die booshede te ontmasker. Die randkarakter, Krisjan, sorg vir welkome oomblikke van asemskep, want beide Josh en Kayla is intense, gedrewe karakters wat jou hare laat rys met hulle onverskrokke aksies.
Die geskiedenis is deurspek van sektes en organisasies wat met bedrog en manipulasie derduisende volgelinge werf en beheer. Daarom is die Orde wat ons skrywer bedink het, nie vergesog nie. Dit skep tewens ’n wye spektrum van moontlikhede vir sameswering, vervolging, uitbuiting en vergelding. Die storielyn is kompleks en sorg strykdeur vir verrassings. Die element van satanisme is ook nie vreemd nie, hoewel ontstellend.
Godsdienstige oortuiginge word vreesloos bevraagteken. Ek kon as leser nie onbetrokke bly nie. Jou eie geloof en siening oor eindtydfenomene soos ’n wêreldkerk en -geldstelsel word insgelyks uitgedaag. Beslis ’n eerste in die Afrikaanse mark.