Ek dink Hanlie Retief het met die skryf van Anton Goosen se biografie, besonder goed daarin geslaag om agter die eerstepersoonverteller in te skuif. Sy stem is konstant versoenbaar met die persoon wat die leser leer ken deur die lywige 300+ bladsye van Liedjieboer.
In my jonggetroude dae het ons die eerste musiek van Anton Goosen suf gespeel, en ek het met die lees van die biografie baie aanklank gevind by die vertellings uit daardie era. Weliswaar was ek nooit by ‘n konsert nie, maar waarskynlik saam met hom in die teater toe Chris de Burgh destyds in die Colosseum in Johannesburg opgetree het. Dit was baie interessant om te lees met hoeveel bekendes Anton Goosen skouers geskuur het in die lang loopbaan as liedjieskrywer en sanger.
Hy praat met groot eerlikheid oor die uitdagings wat saam met die sukses gekom het. “Dis te veel aandag en te min tyd, die mense dink jy is ’n god, hulle dink jy is ’n worsmasjien, jy kan net al hierdie songs uitdraai. Maar jy kan nie op water loop nie” (bl 85)
Liedjieboer lees soos ’n ensiklopedie oor die ontwikkelinge in die Afrikaanse musiekbedryf en raak aan die loopbane en lewens van talle kunstenaars soos Sonja Herholdt, Laurika Rauch, Lucas Maree, Johannes Kerkorrel, om maar ‘n paar te noem. Die breedvoerige vertellings van die binnewerkings, koppe stamp en suksesse van die musiekindustrie het my ietwat verloor toe dit handel oor dié deel van Goosen se loopbaan waar ek nie meer aktief geluister het nie.
Kerneels Breytenbach noem hom ’n rebel én rigtinggewer, en dit was hy bepaald. Maar hy was ook dié mens wat sê: “Al wat ons weet, is dat ons eintilik niks weet nie; hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde.” (bl 299)
Die biografie is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers, en is te koop by boekwinkels en aanlyn.
Lees gerus ook Louise Viljoen se resensie oor hierdie ikoniese musikant.