Met Bewustelik joune, waag bekroonde romanseskrywer, Elsa Winkler, haar hand vir die eerste maal aan ’n SuperRomanza. Met heelwat meer woorde om te benut, gebruik sy die geleentheid om nie alleen haar hoofkarakters nie, maar ook ’n paar newekarakters, goed te ontwikkel. Ons sien ook ‘n paar kragwoorde, wat gewoonlik nie in Romanzas toegelaat word nie, weliswaar in karakter en gemotiveerd. Dit spruit meestal uit die seksuele spanning wat van meets af aan baie sterk aanwesig is by ons held, ultra-atleet, Luca Morkel. Hy het nie tyd of lus om betrokke te raak by die beeldskone Kris, wat ongevraagd in sy huis en sy lewe verskyn nie.
Ek het met die lees van die verhaal, vir die eerste maal kennis geneem van die dissipline by name Bewustelikheid. Die konsep word goed saamgevat op bladsy 97: “Alles wat gebeur het, het gebeur. Daaraan kan sy niks doen nie. Wat vanaand of môre gebeur, is ook buite haar beheer. Daar is net nou.” Meditasiegebruike speel ook ‘n beduidende rol in die plot, en hoewel die boek my nie gaan oortuig om meditasie of bewustelikheid te beproef nie, is dit ’n oorspronklike storielyn wat die romantiese lyn goed aanvul.
Ek wonder of die skrywer vir ons die aap uit die mou sal laat: gaan ons in die toekoms meer lees van Lien en Nicol? Ek bespeur verseker ’n storie daar! Die besondere mooi voorblad het in die eerste plek my aandag getrek; kyk gerus uit daarvoor as jy hou van ’n volbloed liefdesverhaal.