Sewe verhale uit die pen van deurwinterde skrywer, Helene de Kock, is presies waarvoor ek kon vra terwyl ek tans in ’n besige huishouding is en leestyd skraps is. Boonop kan die digitale boeke van VivA-Uitgewers op ’n slimfoon óf ’n rekenaar gelees word. Die komplimentêre klankbane kan ingespan word as jy eerder wil. Karen Loots, Viljé Maritz, Albert Maritz, en Anneke Langer verskaf die stemme wat die voorlesings knap hanteer.
Die deurlopende gewaarwording by die lees van elkeen van die stories, is dat die skrywer mense, met hulle emosies, hulle vrese, hulle versugtinge, baie goed verstaan en met sukses weergee. So goed word dit verwoord, dat ek telkens iemand wat ek ken, kan herken in die tipe wat die skrywer uitbeeld. So is daar die persoon wat nooit haastig enige besluite neem nie, eers kop in orde kry. Of iemand wat as kind nie gemaklik was in sy eie vel nie en selfs as volwassene ietwat alleen staan. Of die persoon wat groot besluite met oortuiging neem en selfs ander beïnvloed en konflik oplos, maar hopeloos is met klein dingetjies.
So kry ons ook ’n simpatieke blik in die ontreddering van iemand wat deur regstellende aksie geraak is, met die fokus op die persoon se emosies, eerder as op die politiek wat dit onderlê. Die stories is dus tegelyk kontemporêr, maar daar loop ook ’n skeut nostalgie deur die storielyne.
Afskeid word hanteer, verkeerde keuses, beroepe wat geliefdes vervreem en die onthou van vroeëre tye. Nuwe kanse in verskeie gedaantes is ook ’n bousteen van die verhale.
Dit is regtig maklik om sommer vandag Ou Kennisse en ander, te lees. Dit is aanlyn beskikbaar op die webwerf van VivA-Uitgewers.