• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: May 2019

Soet beloftes

27 Monday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

’n Dogter wat haar skatryk pa verloor en dan ’n bankrot boedel erf, wou byna herinner aan Helene de Kock se Kruispad vir Kara, maar dit is waar die ooreenkoms geëindig het. Lezanne is, anders as Kara, nie ’n student nie; tewens, sy is nie vir enigiets gekwalifiseer nie. Sy wyk uit na die klein dorpie, Vergesig, en hou haar agtergrond geheim wanneer sy vir haarself daar ’n nuwe bestaan oetbelofteprobeer vestig.

Soet beloftes, die nuutste SuperRomanza van veteraan liefdesverhaalskrywer, Dina Botha, het my deurentyd ’n warm gevoel om die hart gegee. Die skrywer het ’n paar dinge verfrissend anders laat verloop: die heldin is nie ’n bedorwe brokkie nie. Sy het nie vir hoofstukke lank gewroeg oor die verlies van haar rykdom en status nie. Dan is daar die drie weeskinders wat nie klein monsters is nie, inteendeel. Die held het weliswaar ’n paar maal die spreekwoordelike klap teen die oor verdien wanneer hy oorhaastig en oningelig oordeel, maar sy ontwikkeling deur die loop van die verhaal, sal enige romanseleser laat glimlag.

Die gehalte van Dina Botha se skryfwerk, is soos gewoonlik in die kol en die storielyn so meesleurend dat mens dit in so kort moontlike tyd wil deurlees om al die struikelblokke uit die weg te ruim. Dit verdien ’n goeie 4/5 in die geselskap van liefdesverhale.

Hekel en word heel

24 Friday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 5 Comments

Kombineer die woordvaardigheid van Nadia de Kock en die kreatiwiteit en talent van Hilda Steyn, en die uitkoms is ’n hekelboek van ’n heel unieke aard. Voeg nog daarby een en twintig ware lewensverhale, en dit word veel meer as ‘n handwerkboek. Die stories is uiteenlopend, die gemene delers die trauma, verlies en ontnugtering wat die betrokke mense en gesinne beleef het. Die mooi lê egter in die getuienisse van hoe hekel elkeen uit die diepste depressie en vertwyfeling gehelp het. Keer op keer lees ek dat die ritme van die hekelaksie, die tel van steke, selfs die gevoel van die jaarn, wondere verrig vir die gemoed wat swaar trek. Baie van die mense het ook in hulle onderhoude vertel van die bevrediging om vir ander gehekelde artikels te maak.

hekelEk hou baie van die volledige tabel met Afrikaanse, Britse, en Amerikaanse hekelterme, asook simbole wat in diagramme voorkom. Ek het summier een van die patrone op die proef gestel en die blom van die Sigeurnerroos-kopband gemaak. Ek het die tabel geraadpleeg waar die Afrikaanse terme my gepootjie het. Dit is ’n pluspunt dat die geskrewe patrone, sowel as diagramme beskikbaar is.

Die patrone is vars en modern en daar behoort iets vir elke smaak te wees. Die volkleurfoto’s is besonders; die fotograwe en modelle verdien beslis ‘n pluimpie of tien. Ek kan regtig nie ’n rede vind om die boek nie 5/5 te gee nie.

Ontmoet die vywervroue

22 Wednesday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Ek het my geskaar by die menigte Chanette Paul-aanhangers en met groot verwagting uitgesien na die eerste in die Vywervrou-trilogie, en wel die verhaal van Lira. Ek het verder my tande geslyp vir ’n boek van meer as 500 bladsye vir die #Lekkerleesuitdaging. Die hoop het nie beskaam nie.

Die lees daarvan het my herinner dat ek matelose respek het vir ’n skrywer wat ’n verhaal van hierdie omvang en diepte kan voortbring. Daar is ’n menigte karakters, elk met sy eie bagasie en voorgeskiedenis, en die storielyn verslap op geen stadium nie. Telkens word daar nog ’n stukkie intrige oopgeskryf wat die leser kompulsief laat blaai. Die kaLirarakters het elk sy of haar eie stem en oortuig ten volle.

Opskrifte wat aangebring is wanneer tyd, plek en fokaliseerder verander, help die leser om kop te hou deur 573 bladsye.  So ook die lys van karakters vooraan.

Hoewel daar elemente van gesinsgeweld, selfs moord, voorkom, wyk dit af van die meer onlangse reekse van die skrywer, in dat dit as verhoudingsroman geklas kan word, eerder as spanningsroman. Die skrywer is ewe tuis in beide genres. Sy is ook geen onbekende met die skep van ’n legende nie. Die legendariese vywervrou met haar visstert en die lot wat haar te beurt geval het, word soomloos met die storie verweef.

Ek wil niks noem om die storie te verklap nie, hoewel daar soveel is wat ek sou wou aanhaal. Ek sal volstaan daarby om te sê dat ek verskriklik opgewonde is om te sien dat die volgende twee vywervroue se verhale ook vir hierdie jaar geskeduleer is.

 

Bibi Slippers en fotostate

15 Wednesday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Van poësie kan die kat en sy safraan my waarskynlik nog iets leer. Matriekletterkunde lê immers baie ver in die verlede, maar Bibi Slippers het my laat moed skep. Sy beweer dat poësie ervaar moet word, eerder as verstaan word.

Hierdie interessante mensie het vanoggend opgetree as gasspreker by die Vriende van die Kempton Park biblioteke se maandelikse leeskringbyeenkoms. Haar bekroonde digbundel, Fotostaatmasjien, was die boek onder bespreking. Bibi het aan die hand van verskeie gedigte wat sy self voorgelees het, aan die dames ‘n kykie gegee in die proses wat die boek voorafgegaan het.

Die bundel is die produk van haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns en het baie jare en baie navorsing geverg. Dit is ’n kombinasie van navorsing oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en mense, en haar persoonlike lewe. Sy bely ook haar beheptheid met fotostaatmasjiene, en hoeveel fotostate sy op ’n stadium opgegaar het.

Sy haal ’n treffende beeld aan uit Ruth Padel se boek, The poem and the journey. ’n Gedig word vergelyk met ’n trampolien wat kan meegee. Sommige woorde plooi maklik, maar ander gee weerstand, moeiliker om te begryp.

Ek het nie self die bundel onder oë gehad nie. Sommige van die gedigte het blykbaar die potensiaal om lesers te ontstel, en van die dames het daaroor opmerkings gemaak. Bibi het in antwoord die stelling gemaak dat sy vir haar grense stel wat haar ruimte verbreed en dat sy haar nie kan aan bande laat lê deur lesers se grense nie.

Hoewel die digkuns baie verander het, meer toeganklik geraak het, waarsku sy dat dit steeds nie ’n genre is wat baie boeke verkoop nie.

fotostaat
bibi1
bibi2

Die Parkers

11 Saturday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Didi Potgieter bewys haarself keer op keer as heeltemal bekwaam om ’n reeks romanses op te dis wat haar lesers laat blaai en wens vir nog. Trouens, die vyfde aflewering in die sage van die skatryk Parkers, het sopas die lig gesien, en beloof om net so gewild te wees as die voorgangers.

John en Linda staan aan die hoof van die gesogte Parker ryk. In Liefde vir ’n vuurvreter het Robert Parker die liefde van sy lewe, Imke, ontmoet. Hy het dit egter nie dadelik besef nie, en haar byna verloor in die proses.

Robert en Imke se dogter, Emma Parker gaan anoniem Suid-Afrika toe, en gaan werk vir Pieter Joubert, die eienaar van ‘n wildsplaas, Ukuvusa. Hulle storie word vertel in Liefde vir ’n vlinder.

Volgende aan die beurt, is Emma se broer, Jack Parker wat teësinnig betrokke raak by Annabel en haar dogtertjie, Ami. Liefde vir ’n ridder was benoem vir ’n ATKV woordveertjie en die wenner van die ROSA Imbali toekenning vir Afrikaanse romanses in 2018, genoegsame bewys van hoe gewild hierdie reeks geword het.

Jack en Annabel se Ami, sorg vir die opwinding in Liefde vir ’n cowboy. Sy trou met ’n countrysanger, maar kry ernstige moeilikheid van die kant van haar eksman.

Die nuutste wat nou op die rakke is, is Liefde vir ‘n feëprinses. Emma en Pieter se seun, John, besit ook ‘n wildslodge soos sy ouers, en gaan die opvolger wees van sy oom in die bestuur van die Parker Hotelgroep. Hy het ‘n mislukte huwelik agter hom en ’n moeilike seuntjie. Sy soeke na nóg ’n au pair, bring vir Inge Jonker in sy lewe, en niks is daarna weer dieselfde nie.

parkersEk sal graag die reeks mettertyd wil herlees, want die karakters kom klim in jou hart. Die aanvaarde norme van ’n rykmansbestaan word telkens getroef deur die liefde, en dit is mos waarvan ons hou!

 

 

 

Vir wie dit wil waag…

10 Friday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Wat lesertipe aanbetref, huiwer ek iewers tussen sensitief en baie sensitief. Daarom dat die spanningsromans van Jan Vermeulen my iewers tussen die duiwel en die diep blou see vaskeer. Die voorblad en flapteks van sy nuutste roman, Ondier, het my alreeds senuweeagtig gehad. Aan die ander hand weet ek egter uit sy bekroonde jeugboeke en eerste riller vir die volwasse mark, Die vyfde Aspoester, dat hy ’n woordsmid van formaat is. Vir ’n goeie skryfstyl en mooi omgaan met ons taal, het ek matelose respek. Daarom het ek op my tande gekners en Ondier oopgemaak.

Uit ondervinding met ’n paar onlangse spanningsromans, was my mikpunt om die eerste eksplisiete en grusame hoofstuk te oorleef. Dan sou die storielyn my inslurp en belangriker word as die wrede detail. Dit is dan ook presies wat gebeur het.

Bondieraie gou kon ek die boek beswaarlik neersit. Die ontsaglike en blywende skade wat ondervindinge in die kleintyd veroorsaak, is die spil waarom die verhaal draai. Dit is waar van beide die reeksmoordenaar en die profileerder en sielkundige, Olaf Demeyer. In laasgenoemde se geval, word hy boonop gekonfronteer met die gevolge van sy vorige sekskapades, want DNS is onverbiddelik. Hy merk tereg op: “Partykeer is familieduiwels die wreedste.” (bl 42)

Ek wil voorstel dat die leser werklik met aandag lees, want die storielyn is veelvlakkig en gekompliseerd. Dit kan ook help om jou geheue te verfris met Die vyfde aspoester, omdat hierdie verhaal daarby aanhaak. Ondier kan egter ook op sy eie staan.

Die dapperes wat nie wegskram vir bloed en wreedheid nie, moet hierdie spannende roman nie by hulle laat verbygaan nie.

Een bundel – drie verhale – elke maand

07 Tuesday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Die lesers van romantiese fiksie het waarskynlik reeds agtergekom dat uitgewers, soos byvoorbeeld LAPA se Romanzaklub, graag nuwe lewe blaas in die ouer verhale van hulle gevestigde skrywers.  Deur dit saam te bondel en as omnibusse uit te gee, kry die skrywers opnuut blootstelling, en die lesers het opnuut toegang tot die keur van hulle skrywers se verhale. Ek hou sommer baie van die idee.

Ek wag gretig op die eerste omnibus van Annatjie van Tonder, en wel onder haar nuwe skryfnaam Anna van Tonder. Altyd wink die liefde verskyn vandeesmaand. In die afgelope maande het bundels verskyn van onder andere Serena Steyn, Marijke Greeff, Cecilia Nortjé, Alma Cartens, Susan Olivier, om maar ’n paar te noem.

omnibusse

Ek weet ek deel die sentiment van menige ywerige leser wanneer ek sug na meer ure per dag. Buiten ontspannende liefdesverhale is dan immers nog spanningsverhale, goue oues, biografië, en al die heerlike leesuitdagings om mee rekening te hou. Dus, gegroet tot volgende keer; ek gaan nou lees!

Kanker Schmanker

06 Monday May 2019

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Toe ek ’n tyd gelede vir Madelein Rust ontmoet het, wou ek weet of sy werk aan ’n nuwe Renata Malan. Eers “iets anders”, was haar antwoord. Geen manier dat ek sou raai dat sy besig was om haar reis met borskanker neer te pen nie; trouens, geen manier dat ek kon vermoed dat sy kanker gehad het nie.

Kanker Schmanker is enige tyd net so boeiend soos haar spanningsverhale, want Madelein het ’n baie besondere taalvaardigheid wat nie beperk kan word tot een genre nie. Voeg daarby die nugtere en eerlike, soms humoristiesekanker, vertelling van haar belewenis van die hele proses, vanaf diagnose tot aan die einde van die behandeling, en ek kan waarborg dat die boek met moeite neergesit word. Ek het frases weer en weer gelees, soos die beskrywing van haar skoonma: “… sy is min van woord, maar haar oë is wel ter tale.” (bl 45).

Dit was vir my ’n nostalgiese lees, want ek het jare gelede hierdie kankerpad gestap saam met my ma, maar op geen stadium het dit my teneergedruk nie. Daarvoor is die aanslag van die boek te positief, selfs uitdagend. Swaar sluk of selfs trane afvee, dit gaan jy wel. Ek stem een honderd persent saam met die ontdekking waartoe die skrywer gekom het: “Ons bemoedig die lyers, ons vier die oorlewendes en ons eer dié wat gesterf het.” (bl. 106)

Elke vrou behoort hierdie boek te lees, maar ek sal ook die manne aanmoedig om te gaan kers opsteek by Jaun, die skrywer se man. Die waarde van ’n eggenoot se ondersteuning en begrip, kan nooit oorbeklemtoon word nie. Ook nie die onwrikbare vertroue wat die skrywer deurentyd gehad het in die genade van haar Here nie. Bravo, Madelein Rust, jy het kanker trompop geloop en nie gehuiwer om jou goeie en slegte dae met ons te deel nie. Kanker schmanker!

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy