’n St
orielyn wat iets nuut en oorspronklik bied, is die uitdaging waarvoor elke skrywer te staan kom. Sommiges slaag wonderbaarlik daarin, ten spyte daarvan dat daar tog net sóveel maniere is waarop karakters kan ontmoet, lief kry, sterf, vermoor word, vermis raak. Sou ’n skrywer besluit om die verwysingsraamwerk uit te brei om die paranormale in te sluit, verbreed die opsies natuurlik geweldig. Dit is dan ook wat Vita du Preez gedoen het met die verhaal van McKenna Wilde, in Wilde Klawer. McKenna is ’n vurige, onafhanklike Ier, wat saam met haar ma en ouma in die Riebeeckvallei woon, ver verwyderd van die stryd van haar voorsate in Noord-Ierland. Ek hou as ’n reël verby die esoteriese, nie gemaklik met visioene en stemme van die Ander Kant nie. Ten spyte daarvan, kan ek nie ontken dat die skrywer my vanuit die staanspoor geboei het nie.
McKenna ontvang ’n brief uit Noord-Ierland en voel verplig om daarheen te gaan, op soek na waarheid. Haar pad kruis met twee uiteenlopende mans, en sy word met baie skokkende onthullings gekonfronteer. Die pas van die verhaal is flink, met net genoeg beskrywing om die leser as’t ware deel te laat voel van hierdie wêrelddeel met sy bloedige geskiedenis.
Die slothoofstuk en ook die einde van die Vinkel & Koljander-Vrouereeks, bring die vorige rolspelers moeiteloos bymekaar en sluit die reeks af op ’n aangename noot. Ek wil die skrywer en uitgewer komplimenteer met ’n uiters gepaste titel en lieflike voorblad. Hierdie boek kan wel in isolasie gelees word, maar ek kan sterk aanbeveel dat die reeks gevolg word. Elke boek het sy eie unieke karakter en spreek telkens ’n heel ander kwessie aan, met die deurlopende tema van vriendskap, en natuurlik, die liefde.