Oor sommige boeke kan ek onmiddellik my sprak sprook nadat ek die laaste woord gelees het, maar dan is daar ander wat eers moet lêplek kry in my gemoed voordat ek ’n indruk daaroor kan neerpen. Soos baie beslis in die geval van Anoniem, die vyftigste roman uit die pen van bekroonde en geliefde skrywer, Chanette Paul. Hier loop die storielyn so wyd en diep dat daar nie ligtelik daarmee omgegaan kan word nie. Selfs die skrywer bieg in die outeursnota dat dit die moeilikste boek is wat sy nog ooit geskryf het. Dit, terwyl dit vir my so logies geklink het dat sy hierdie tema sou kies vir haar mylpaalroman.
Daar is in wese eintlik meervoudige storielyne wat telkens terugwentel na Lula Prins, oftewel Tallie Lategan, of dan in die eerste plek Talulah Verduyn, welke identiteit sy gepoog het om te begrawe vanweë die aanslag wat dit op haar gewete maak.
Een sodanige storielyn, wat die skrywer met groot geduld eers baie laat in die boek oopskryf, is die rampspoedige verloop en veral die einde van Lula se huwelik met Handré Verduyn. Eers dan kan die leser verstaan waarom anonimiteit vir Lula so belangrik is dat sy haarself vestig op ’n klein dorpie in die Overberg. Haar verblyf aldaar, onderstreep sommer ook die twispunt van ekonomiese vooruitgang versus die behoud van ’n landelike omgewing se karakter en die houding jeens inkommers, veral van ’n blanke in ’n oorwegend bruin gemeenskap.
Dan is daar die storie van die drie Kruger broers, wat op verskillende maniere Lula se pad kruis. Daar is die twee belangrike vrouekarakters, May-Ella en Lilibet wat elk verdere diepte verleen aan ’n reeds komplekse storie.
En dan is daar die liefdesverhaal van Lula en Kriek Kruger. Kriek met sy “intense behoefte om weer te kan glo daar is eerbare vroue.” (p.106) Kriek, wat keer op keer ontnugter word, oorreageer en eers later optree en regstel.
Anoniem is ’n goeie voorbeeld van genrevermenging, die tendens wat Lula Prins verduidelik by haar eerste skryfskool op Heydendal. Die goeie skeut spanning, verweef met die verhoudingsuitdagings en ingekleur deur die moontlikheid van moord, is bewys daarvan.
Hier is veel meer as ’n goeie storie – dit ook ja. Dit het byvoorbeeld die vreemde wêreld van Irlen-sindroom vir my oopgebreek, iets waaroor ek totaal onkundig was. En dan natuurlik die binnewerking van die uitgewersbedryf wat onder die loep kom, die positiewe daarvan en ook die gebreke. En deurlopend is daar oorsaak en gevolg. “Vir elke aksie is daar ’n gelyke en teengestelde reaksie. Maar wie glo nou vir Newton. Tot ’n mens daartoe gedwing word.” (p. 391)
Vir deurwinterde skrywer, Chanette Paul, hoef ek geen lans te breek nie. Binne etlike dae nadat haar vyftigste boek verskyn het, pryk dit reeds op boekwinkels se rakke onder die gesogte #1. Maar indien daar mense is wat nog wik en weeg, gaan lees dit gerus. Dit is op Lapa Uitgewers se webwerf beskikbaar in gedrukte, sowel as e-boek formaat, en in goeie boekwinkels en aanlyn.