• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: June 2020

’n Verjaarsdagheld

29 Monday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

Op 5 Junie 2005 maak Lapa Uitgewers geskiedenis met die loods van die druknaam, Romanza, onder leiding van Cecilia Britz. Haar visie was om liefdesverhale van hoë gehalte beskikbaar te maak, en haar hoop het nie beskaam nie. Vyftien jaar later spog Romanza met talle suksesvolle skrywers en stories wat duisende lesers aan die blaai hou.

Die eerste vier Romanzas het vandeesmaand ’n splinternuwe baadjie gekry, in treffende swart en wit. Ek was omtrent gretig om hierdie veHeldrsamelstukke te ontvang. Die eerste waarop ek my hand gelê het, was Op soek na ’n held, deur die immergewilde Chanette Paul.

Heel gepas is die heldin, Kiara, ’n skrywer van liefdesverhale, maar met ’n dilemma. Haar storieboekheldin, Leandra, is nie tevrede met die helde wat Kiara vir haar bedink nie. Kiara besef mettertyd dat sy ook, soos Leandra, soekende is na ’n held in haar eie lewe. Die skrywer was ambisieus genoeg om so veel as drie potensiële helde in die storielyn te gebruik. Ek wonder of die eerste Romanzalesers daardeur geflous was?

Die skrywer se liefde vir meerminne kom dus al so ver as vyftien jaar, want Kiara voer lustig gesprek met ’n meermin teen die muur van haar pasella-huurhuis by die see. Oor skryfstyl en storie- en karakterontwikkeling hoef ek niks te sê nie. Dit was toendertyd, en is steeds, in die kol. Die lees van hierdie “ou” storie was suiwer genot.

Die bondel van vier verjaarsdaguitgawes kan direk by Lapa gekoop word (teen afslag) deur op die foto hier onder te kliek. E-boeke is ook beskikbaar by die volgende skakel:
Junie EBoeke

Somtotaal

26 Friday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

Met die lees van die treffende eerste sin van Somtotaal, het skrywer, Anchien Troskie,  my volle aandag gehad. Ook daarin geslaag om dit einduit te behou. Terwyl die aanvangsparagrawe dit duidelik gemaak het dat daar verwydering was tussen Ester en Nonthando Majolo, haar hartsuster, ontknoop die skrywer met geduld en dissipline die geheime en drama van die verskillende karakters en hulle verhoudings. My teorieë oor die aard van die skuld wat vir Ester uitmergel, is almal uiteindelik verkeerd bewys.

Die somtotaalstruktuur van die storielyn was goed beplan en ingedeel onder afdelings wat uiteindelik die lewensloop van Milagro, Nonthando se dogter, perfek opsom: vrees, verlies, verandering, vernedering, verdriet, vrede, vreugde. Dit was vir my realisties dat vrede vreugde moes vooruitgaan, want sonder vrede oor die verlede is vreugde, myns insiens, nie moontlik nie.

Die verhaal het baie te make met die toestande in die apartheidsera, maar spoel oor na die post-apartheidstyd. Ek gaan myself nie begewe in politieke kommentaar nie, want die emosionele stryd binne die onderskeie verhoudings, is dié aspek wat my die meeste aan die hart gegryp het. “Almal het ’n geheim, ’n skande, ’n vernedering of ’n verwerping wat soos ’n doring in die vlees sit.” (Bl. 185)

Die skryfstyl is ongeforseerd en eerlik. Ek het wel gewens dat ek die Xhosa kon verstaan, want die paar sinne hier en daar, die uitroepe of vermanings, is waarskynlik ryker as wat my afleiding telkens was. Dit was egter nie steurend nie. Ek dink dat hierdie ’n boek is wat ’n tweede lees regverdig en gee gemaklik vier sterre.

Besoek Graffitiboeke om te koop

 

Kortverhale deur Irma Joubert

18 Thursday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

Vroeër vanjaar het ek ’n besoek gebring aan ons DBV hier in Kempton Park. Ek het ’n klompie boeke na die boekwinkel geneem en met heelwat meer weggegaan. Ek het juwele daar raakgeloop, onder andere ’n Irma Joubert wat ek nog nie onder oë gehad het tuiskomsnie.

Tuiskoms is ’n bundel kortverhale wat in 2011 gepubliseer is. Die sestien kortverhale het vanaf 2004 is verskeie tydskrifte verskyn en is die skrywer se vroegste werk. Die subtitel lui: Stories oor die liefde, en handel oor liefde in al sy vorme. Selfs die kostelike verhaal van ’n stoepswaeltjie wat, buite die aanvaarde norme, verlief raak op ’n brugswaeltjie. Dit herinner my aan die bekende Twee vir ’n stuiwer.

Hoewel die verhale oor ‘n tydperk van ses jaar geskryf is, is die skryfstyl konsekwent en lekker om te lees. Selfs binne die beperkte woordtelling, slaag die skrywer om haar karakters volrond te skets en telkens ’n goeie greep uit die lewensverhale oor te dra.

’n Lekkerte om hierdie boek by my groeiende versameling van Irma Joubert se boeke te voeg.

Hykie Berg se storie van hoop

16 Tuesday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Hykie Berg se pynlik eerlike relaas van sy stormagtige jeug en latere lewe, is reeds in 2017 gepubliseer. Ondertussen is hy geskei van sy vrou, Melissa, en het hy weer in die huwelik getree.

Hy som die oorwinning oor verslawing as Hykievolg op: “Dit is ’n totale paradigmaskuif wat moet plaasvind; ’n hartverandering, ’n kopskuif, ’n algehele oorgawe aan God.” (bl. 34) Hy verduidelik die proses van genesing aan die hand van die Twaalf Stappe van Narkotika Anoniem, en vervleg dit met getuienisse van tye en insidente uit sy lewe wat mens se hare laat rys.

Ek dink dit sou meer boeiend wees om persoonlik na hom te luister, want die boek is nie gemaklike leesstof nie. Daarvoor is die wrede werklikheid van verslawing heeltemal te neerdrukkend. Ek salueer hom vir die moed van sy oortuiging om sy storie te deel, want, skryf hy, sy lewe word nou gemotiveer deur liefde en diens teenoor die samelewing.

 

Robynprinses

11 Thursday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Hoewel gereelde huwelike die norm is in Engeland in die 1820’s, skop die eiesinnige Emmalynn teen die voorgestelde huwelik met Edmund Blackmore. Dié ongure karakter het sy wellustige oog op haar en haar groot bruidskat. Dan kom die spreekwoordelike ridder op ’n wit perd tot haar redding, in hierdie geval ’n graaf op ’n swart hings. prinsesBenjamin Worthington word ook voor ’n ultimatum gestel om te trou en die familiesake oor te neem. Hy is egter nie van voorneme om te trou met Marjorie Elkins nie, hoewel sy en haar ma, Beatrice, dit as vanselfsprekend aanvaar.

Ben se besluit om met Emmalynn te trou, maak gedugte vyande van Marjorie, Beatrice en natuurlik Edmund. Dit sorg vir ’n spanningslyn wat regdeur die verhaal loop. Struikrowers en venynige skindertonge, dra ook by tot die konflik.

Ben is ’n held duisend, altyd byderhand om Emmalynn te beskerm. Teen die einde van die storie was ek egter gereed om ongeduldig te raak met hom wanneer hy geen benul het hoe om sy emosies te hanteer nie. Die karakters is deurgaans goed ontwikkel, en Henri is een van my gunstelinge.

Hierdie was Corné van Rooyen se eerste SuperRomanza en het reeds aan die einde van 2019 verskyn. Na ’n paar boeke met swaarder tema’s, het ek baie lekker gelees aan hierdie liefdesverhaal.

’n Ballade vir Nkunzi

08 Monday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

’n Byna engelagtige kind op die voorblad; ’n poëtiese titel met die klank van bewondering. Hierdie elemente het my aanvanklik gelok na Ben Viljoen se tweede roman. Die openingstoneel met sewe kinders wat in die koue by ’n oop venster wag, ’n wegkomplek vir wanneer ’n pa huis toe kom; die daaropvolgende geweldadige toneel wat die ma en die hele kombuis gebreek laat. Dit het my byna ontneem van moed om verder te lees.

Tog was daar iets aan die verhaal van die Welman gesin, soos vertel uit die oogpunt van die oudste seun, Bennie, wat so aangrypend was dat ek my vooropgesette idees moes hokslaan en hulle omswerwinge volg vanaf Simmer Deep, Nkunziwaar die verhaal afskop in 1960, deur Alberton, die plaas Palmietfontein, terug na Alberton. Die taalgebruik is kru, maar dit strook heeltemal met die karakters. Selfs die kinders se taal reflekteer dit wat hulle van kleins af hoor. Die armoede, ellende, drankmisbruik en gesinsgeweld ruk ’n mens aan die hart.

Dit was interessant dat die gewelddadige, drankverslaafde Bernard ’n begaafde musikant was met ’n liefde en kennis van goeie musiek, ’n onwaarskynlike eienskap wat dui op ’n tyd in sy lewe voordat dinge so skeef geloop het. Dit is dan ook deur die musiek wat daar ’n mate van aanklank is tussen Bennie en sy pa. Helaas bring Bennie se nuwe musieksmaak van later jare, verdere verwydering teweeg.

Die duiwe was nog ’n raakpunt tussen Bennie en sy pa, soos wanneer sy pa vir hom in die bres tree teenoor sy venynige ouma.

In ’n onderhoud met Boekemakranka, het skrywer Ben Viljoen gesê dat hy al terugvoer gekry het dat Nkunzi nie strykdeur aangename leesstof is nie, en ek wil saamstem. Ook wanneer hy sê dat dit “hopelik goeie leesstof” is. As jy kans sien vir die hou in die maag, soos die agterbladteks die verhaal opsom, koop dit gerus. Staal jouself dan om beurtelings verskrik, geskok, aangedaan en onthuts te word.


 

Grensgeval

03 Wednesday Jun 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Aanvanklik was dit vir my moeilik om my kop uit Kya se moeraswêreld los te maak, want die krewe het nog lank gesing nadat ek klaar was met Delia Owens se boek. Daarom het ek ietwat hortend begin lees aan twee ander tieners se dagboeke, waarmee Marita van der Vyver se nuutste roman, Grensgeval, afskop. Wat Theresa ontdek in haar oorlede man, Theo, se skrywes oor sy belewenis van die grensoorlog, lei egter die heldin om ’n reis na Kuba aan te pak, met ’n missie om ’n dogter te vind wat nou al ’n volwassene moet wees.

Theresa stap by die lughawegebou in Havana uit en bevind haarself as’t ware in ’n ander era grensgevalmet “papegaaimotors” en legendariese geboue, wat aan die besondere buiteblad relevansie verleen. Dit is op hierdie punt waar die storie my gedagtes gekaap het. Die geskiedenis van Kuba, die oorlog waarin Kubaanse en Suid-Afrikaanse soldate teen mekaar moes veg, en die persoonlike lewens van die families betrokke, word so soomloos vervleg dat ek nie anders kon as om gretig die bladsye te blaai nie.

Die boek is uniek, in dat dit nie suiwer ’n oorlogstorie is nie. Die skrywer trap ook nie in die slaggat om die tyd in Kuba soos ’n reisjoernaal te laat lees nie. Tog word die vernietigende gevolge van oorlog duidelik aangespreek, ook die langdurige gevolge van verhoudings wat verbrokkel.

Ek het nog nie baie van Marita van der Vyver se werk gelees nie en gaan dit dus nie kan vergelyk nie, maar ek vind geen rede om nie vyf sterre daaraan toe te ken nie.

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy