Vandag is my en manlief se 38ste huweliksherdenking, genoeg rede om te gaan koek-en-koffie saam met my oudste. Sy neem my na ‘n lieflike plekkie in Rivonia, propvol karakter.
Terwyl ons die amarula wortelkoek geniet, bekyk ek die muur wat behang is met allerhande rame; ‘n ou troufoto, ‘n dogtertjieballerina, ‘n dame oor ‘n klavier gedrapeer. Baie uiteenlopend en interessant.
’n Goeie halfuur of meer verloop, voordat ek haar skielik verras met my uitroep: “Kyk die koei!” Diegene wat ons huis ken, sal weet dat daar ’n afdruk in ons eetkamer hang wat in my ouerhuis gehang het vandat ek my verstand het. Dit impliseer dat dit al redelik oud is! Wat dit nog meer interessant maak is die feit dat ek as klein dogtertjie die vrees gehad het dat die koei op die prentjie, die tannie sou kwaad aandoen. Die sinnelose vrees het gespruit uit my fobie vir diere, welke vrees tot vandag toe nog nie mooi besweer is nie.
Jou wrintiewaar, daar hang ‘n kleiner weergawe van dieselfde afdruk, teen die muur waarna ek al so lank kyk, en ek sien dit toe eers raak. My dogter het op daardie stadium ook al die muur bekyk en dit ook nie opgemerk nie.
Ons bespiegel toe daaroor: “sien” die brein dit nie raak nie omdat dit so bekend is. Groot raaisel.
Selfs die raam is soos ons s’n! Hierdie is die foto van die erfstuk in ons eetkamer, kompleet met koei en tannie!
Wonder ek nou: in hoeveel huise of plekke in Suid-Afrika hang daar nog daarvan?