Met Salma Swanepoel se nuutste Romanza word die leser amptelik voorgestel aan die sub-genre: Modern, soos dit aangedui word op die pragtige buiteblad. Hierdie indeling van Romanzas is ’n splinternuwe inisiatief van Lapa Uitgewers, wat altyd op soek is na nuwe maniere om lesersbelangstelling te stimuleer.
Daar heers ’n vreemde, plofbare situasie op Flenterbaai wanneer Annelize tydelik daar gaan heenkome vind en optree as haar beste vriendin se troubeplanner. Terselfdertyd kom haar vriendin se knorrige broer daar skryf aan ’n wiskunde handleiding met ’n dreigende sperdatum.
Die oulike en toepaslike titel vloei daaruit voort. “Bepaal jy jou maar by jou troukoeke, ek sal wel my duisend woorde baasraak.” (P.29) Dit nou by monde van Ludwig Brombek Jansen, soos Annelize het hom sommer van meets af aan opsom. Namate haar verlore selfvertroue geleidelik herstel, raak sy meer uitgesproke, soveel so dat sy hom aantree: “Het jy nie vervelige wiskundeformules om neer te skryf nie?” (p.108) Gelukwense aan die skrywer dat sy hierdie tema nie holrug ry nie, maar subtiel inwerk en net by ’n paar geleenthede.
Nog ’n geslaagde element is die manier waarop sy die leser lank aan die wonder hou oor Annelize. Wat het in haar lewe skeefgeloop? Watter werk het sy gedoen? Wie is Nico en wat was sy aandeel aan haar huidige dilemma?
Ek kon sommer lekker identifiseer met hierdie storielyn omdat ons gesin baie onlangs deur die hele proses van troubeplanning gespook het. Die spanning en organisasie wat Annelize, die ouers van die bruid en die bruid self, daarrondom beleef, is glad nie oordrewe nie. Veral nie wanneer daar geen professionele troubeplanner in die prentjie is nie. Knap gedaan, Salma Swanepoel.
Die gedrukte boek en die e-boek kan direk by Lapa bestel word.