Elize Davies het, op die hakke van Bets Smith, daarin geslaag om my laatnag aan die lees te hou met hierdie wetenskaplike benadering tot die liefde. Wat eerste opval wanneer ek die storielyn in retrospek bedink, is die vernuftige wyse waarop die agtergrond van die heldin, Leandi Steyn, stuksgewys oopgeskryf word. Deurentyd was die verwagting geskep dat daar baie méér skuil agter die feit dat Leandi Steyn nié huil nie, maar die leser word aan die wonder gehou.
Twee formidabele antagoniste, in die persone van Eleanor en Leandi se aangenome ma, en ’n pa wat weier om standpunt in te neem, maak dit nag vir Leandi. So ook die wetenskaplike, Leon Hattingh, broer van haar oorlede skoonsuster, en wettige voog van die vierjarige Madelein. Hy is beurtelings vyandig, agterdogtig en kil, maar verras met soene wat haar tone laat krul en logiese denke bemoeilik.
Op die oog af klink die storielyn na een wat al ontgin is, maar daar is diepte en ’n hele paar onverwagte onthullings wat dit onderskei van vorige aanbiedings langs hierdie lyne. Daarom voel ek dat dit vyf sterre verdien. Die gedrukte en e-boek is beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf