Op hierdie laaste dag van die spreekwoordelike “Maand van liefde” gee ek graag my indrukke oor die baie gewilde romanseskrywer, Elsa Winckler, se nuwe boek, Engele in Kosmoslaan. Weliswaar in die geestelike fiksie genre, maar beslis met ’n paar karakters wat Kupido se pyle nie kan ontvlug nie – hoe dan anders?
Die alomteenwoordige verteller plaas die lesers vinnig weer in die prentjie van waar Die Vroue van Kosmoslaan, klaargemaak het. Daarna volg die storielyn dieselfde patroon as in die vorige boek, naamlik van vertellers wat konstant afwissel. Dit is dan ook my eerste kompliment. Die skrywer hou uitstekend kop met hierdie regime en dit lees verbasend vlot, sonder die gevoel dat daar van “kop tot kop” gespring word.
My volgende opmerking is die heilsaamheid van die samesyn onder die inwoners van Kosmoslaan, hulle bystaan van, en omgee vir mekaar. Dit is dalk ietwat onrealisties dat daar soveel harmonie kan heers, maar wat wou, ons het dit nodig in die uitdagende tye waarin ons leef. Om die storie in die werklikheid te anker, is daar weer ’n gevaarlike slang in die paradys, wat byna daarin slaag om een van die gewilde karakters te elimineer. Ook gesondheidsuitdagings soos borskanker en diabetes, miskraam en uitbranding. Ook swangerskap, tienerkwessies, aanneming en lewe in ’n kinderhuis kom onder die loep.
Omdat die boek uitgegee is deur Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers, is ek bly om heelwat te lees van die inwoners sê beleid om alle knelvrae in gebed na die Here te neem en te vertrou op Sy leiding.
Die boek is soos sy voorganger, ’n pragtige publikasie met ’n treffende voorkoms wat aanpas by die vorige een. Weereens het ek die groter druk baie geniet. Die gedrukte- sowel as die e-boek is beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf.