Soms is ek só dankbaar vir die voorspelbaarheid van die romanse genre. Anders was ek straks net so moedverlore soos Royale: “bitter hartseer om vir ‘n tweede maal soos ‘n regte weeskind in die straat te staan … ” (bl. 209)
In haar eerste SuperRomanza slaag skrywer Frenette van Wyk daarin om ‘n oudwêreldse atmosfeer te skep, wat ruimte, karakters en dialoog aanbetref. Die taalgebruik, waens deur perde getrek, druiwe wat in vate getrap word, ‘n goeweneursbal; net ‘n paar voorbeelde van scenarios wat die leser in ‘n ander tydvak plaas. Ek moet bieg dat ek ‘n leek is wat ou Kaapse verhale aanbetref, maar dit het vir my heel oortuigend gelees.
Wat die storielyn aanbetref, het die skrywer goed geslaag om brokkies inligting stuk-stuk mee te deel, maar deurentyd die indruk te skep dat daar nog iewers ‘n beduidende haas uit die hoed gaan spring, wat toe inderdaad gebeur. Ná aan die einde, neem die verhaal ‘n verrassende wending of twee wat selfs die heldin geflous het.
‘n Lekkerleesverhaal, wat jou dalk net kan laat verlang na dit wat jy nooit geken het nie.