Ek glo ek is in goeie geselskap as ek die stelling maak dat daar boeke is wat lekker lees; waar die bladsye moeiteloos kafgedraf word. Dit het niks te make met genre nie. Ek beleef dit oor spanningsverhale, liefdesromans, vrouefiksie, romanses, selfs nie-fiksie heen.
Dan is daar helaas dié boeke waar jy telkens ’n sin of selfs ’n paragraaf moet herlees omdat iets opsluit nie wil sin maak nie. Jy lees, maar jy lees nie lekker nie.
Dink ek toe bietjie na oor die verskynsel, en ’n paar sondebokke kom meld dadelik aan. Elke leser mag dalk ander skuldiges in hulle ry hê, maar heel voor in my ry staan swak of lomp sinskonstruksie. Sy makker wat meeding om die voorste posisie, is sinne wat te lank is, of wat meer as een begrip met “en” of “maar” saam bondel. Die gewraakte cliché verskyn genadiglik minder gereeld in moderne publikasies, maar oordrewe of geforseerde beeldspraak doen groot afbreek aan my leesgenot.
Dialoog kan ’n leser ook ontneem van die ideale lekkerlees ervaring. Hoewel die tendens is om weg te beweeg van “hy-sê-sy-sê”, moet die konteks en vloei van die dialoog duidelik genoeg wees dat daar geen twyfel ontstaan oor wié aan die woord is nie.
Samevattend kan mens die stelling maak dat enige element wat veroorsaak dat die ritme van die lees versteur word, nie ideaal is nie. Met die uitsondering natuurlik van iets wat so puik beskryf of gestel word, dat jy dit eenvoudig weer moet lees, of selfs iewers neerpen.
Velle is dun en ego’s broos. Dalk is dit die rede hoekom sommige van hierdie elemente deurglip in publikasies. Dalk bloot ’n kwessie van smaak wat verskil. Die oplossing? Met die reuse aanbod van Afrikaanse boeke, kan jy kies wat jou aanstaan. Hou verby, eerder as om te af te kraak, wanneer jy iewers nie heeltemal so lekker lees as wat jy sou verkies nie.