• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: March 2020

Ek kan vlieg

31 Tuesday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Taiwanese skrywer, Fifi Kuo, het aanvanklik argitektuur studeer, maar haar MA in verwerf aan Cambridge School of Art, in kinderboekillustrasie. Sy het haar nis gevind in hikannievliegnieerdie mark, want die illustrasies in die boek Ek kan nie vlieg nie, komplimenteer die kindervriendelike teks en selfs die lettertipe, perfek.

Beginnerlesers sal dit self spoedig kan baasraak, en vir kleiner maats is dit ideaal vir voorlees, omdat dit nie ’n ingewikkelde storielyn het nie. Daar is wel ’n duidelike les daarin vervat dat mens, of dan nou dier, in hierdie geval, bepaalde vaardighede, maar ook beperkinge het.

Die oorspronklike Engelse weergawe is in Afrikaans vertaal deur Nandi Lessing-Venter en deur Lapa Uitgegee. ’n Besliste kandidaat vir jou lysie om aan te koop na die inperking.

Van rooimiere, ander diere en idiome

31 Tuesday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Wendy Maartens het met die hulp van Linki Brand se puik illustrasies, ’n inkleurboek in heel ’n ander liga geskep. Dit wemel van inkleurprente, feite en idiome (met die betekenis) oor verskeie lede van die diereryk.

Elke dubbelblad bestaan uit ‘n kostelike illustrasie van ’n idoom, plus sy betekenis, wat hom heerlik leen aan inkleur. Die regterkant is propvol feite en tekeninge wat handel oor die dier ter sprake. ’n Wye verskeidenheid word gedek, van leeus, dassies, muishonde en vele meer. rooimiere

Weet jy byvoorbeeld wat die idioom: ’n Arend vang nie vlieë nie, beteken? Ek moet bieg dat ek dit nie geken het nie. Terselfdertyd kan ek leer van die kroonarend, die breëkoparend, en die witkruisarend. Hoe lank bou ’n witkruisarend aan sy nes, en hoe breed is sy vlerkspan?

Ek sal hierdie boek sterk aanbeveel vir jong leerders, veral nadat die afgelope Blitsbrein Junior vir my gewys het dat idiome nie meer so bekend is by leerders soos wat ons graag sou wou sien nie. Die boek word deur Lapa uitgegee.

40ste in Parys – of nie?

29 Sunday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

Op hierdie dag, 29 Maart 1980, het ek trou beloof aan Willie Claassens, wat vanjaar se viering dus een van daardie mooi ronde getalle maak wat vra na iets spesiaals, so tussen die silwer van 25 jaar en die goud wat nou net tien jaar in die toekoms lê. Daarom het ek reetroueds meer as twee jaar gelede begin dink aan ’n intelligente en romantiese opsie, en wat meer romanties as ’n besoek aan Parys.? Ek kon nie my vinger lê op my versuim om werk te maak daarvan nie, en toe die Notre Dame katedraal boonop in 2019 beskadig is in ’n brand, het ek gelate aanvaar dat 2020 nie die ideale jaar gaan wees vir ’n besoek aan Parys nie.

My tweede keuse sou wees die Drakensberge waar ons wittebrood gehou het, of Cintsa-Oos, ons geliefde vakansieplek. Veranderde werksomstandighede in die gesin, het daardie opsies onverwags moeilik gemaak, maar nie onmoontlik nie. Tog, weereens het ek nie die nodige reëlings begin tref nie. En toe gebeur die onvoorsiene: Corona tref die wêreld en ons gaan op ons herdenking reeds ingeperk wees. Dat ons geen reëlings gehad het wat in die wiele gery is nie, beskou ek as voorsiening.toring2

Ons het slegs Donderdag gehad om iets saam te doen ter viering van ons groot dag, en die logiese keuse was ’n uitstappie na Harties. Waarom? Daar is darem ’n replika van die Eiffeltoring, maar die werklike rede is meer nostalgies.

Nadat ek en Willie die grens tussen vriendskap en buurmanskap oorgesteek het, was ons eerste “date” juis ’n dag in Hartebeespoort. Dit het in 1979 baie anders daar uit gesien. Middagete was destyds ’n piekniek langs die dam, geen komplekse met beperkte toegang nie.  Die beroemde damwal, ’n replika van die Arc de Triomphe in Parys, staan darem nog net so statig as toendertyd.

Net vir ’n wyle kon ons ons verbeel dat ons in Parys is, weliswaar ietwat verlate, wantdam alles was aan’t gereed maak vir dbergie inperking. Vanaf die uitkykpad bo-op die berg kon ons nou nie die see sien nie, maar wel die mooie watermassa wat tussen die voue van die berg sy lê gekry het.

Vandag het ons braaivleisie goed afgegaan en dag drie van ons grendelstaat is agter die rbraaiug. Daar was genoeg tyd vir terugdink aan die pad tot hier op veertig jaar. Dit was nie sonder sy uitdagings nie. Twee dae voor ons troudag, het my ma haar voet gebreek en moes daar vinnig ’n paar wysigings aan ons trouplanne gemaak word. Met ons 25ste herdenking het die sonsondergangvlug in ’n Cessna, noodgedwonge ’n aandvlug geword as gevolg van ’n hewige laatmiddag donderstorm. En nou op veertig jaar? Die jaar van die groot virus sal sekerlik nie vergeet word nie, maar my hart is vanaand dankbaar.

Twee debute

28 Saturday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Interessant dat daar in Maart twee skrywers met debute onder die Romanza druknaam van Lapa uitgewers verskyn het. Nog ’n toeval is dat ek op ’n manier met beide skrywers iets in gemeen het.

Die eerste wat ek gelees het, was Antoinette Venter se Oudit op haar hart. Ek en Antoinette het albei onder die leiding (en die kwaai spreekwoordelike rooi pen) van Janie Oosthuysen deurgeloop, met goeie gevolg vir Antoinette. Sy vertel die storie van ouditeur Luzaan, en binne die eerste paar bladsye het ek reeds gewonder wie gaan die reOuditgmerk op haar hart maak. Gaan dit die jeugliefde, Jacques, wees wat weer oor haar pad kom, en teen wie sy ’n diepgaande wrok het. Of gaan dit haar kollega, Marko, wees wat sy inspan om die weerlig tussen haar en Jacques af te lei.

Met haar taalversorging en skryfstyl is daar nie fout te vind nie, en daar is genoeg konflik en innerlike stryd om die leser geinteresseerd te hou tot by die noodwendige gelukkige einde. In Jacques se ma vind ons ’n formidabele antagonis, en dit is juis in sy verhouding met haar wat die karakterontwikkeling van Jacques duidelik blyk.

Die volgende debuut het die interessante titel Feniks uit die vlamme. Die skrywer, Magda Fourie, het in 2018 die ATKV lenteskool bygewoon, en duidelik die wenke en riglyne toegepas wat sy aldaar gekry het. Anders as myself, wat die vorige jaar die lenteskool bygewoon het, maar nog nie by herskryf uitgekom het nie.

Oor die held, toevallig ook genaamd Jacques, het ek aanvanklik gemengde gevoelens gehad omdat sy besluite met sy hormone geneem is en nie met sy verstand nie. Mettertyd het die skrywer die karakter goed uitgebou en het ek begin verstaan dat sy optrede die gevolg is van ’n ernstige minderwaardigheidsfenikskompleks wat spruit uit sy verhouding met sy pa. Oor die ernstige kompleksiteite en traumas van die heldin gaan ek my nie uitlaat nie, want dan verklap ek dalk te veel van die storielyn. Net ’n waarskuwing dat hierdie romanse nie geskik is vir jong lesers nie. Die skrywer skroom nie om witwarm tonele redelik grafies te beskryf nie.

Terwyl ons nou ingeperk is en nie ons hande op papierboeke kan lê nie, kan lesers wel hierdie nuwe Romanzas as e-boeke bestel en die tyd op hande, aangenaam verwyl.

Fliek of boek?

23 Monday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

Ek kan nie onthou of ek al ooit ’n soortgelyke dilemma gehad het nie: die fliek draai steeds, en ek sit met die roman in my hand. Watter een eerste? Toe gebeur die virus en my besluit raak aansienlik makliker om die boek nader te trek.

François Bloemhof het die ware liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks gebaseer op die draaiboek wat deur Tarryn-Tanille Prinsloo geskryf is. Dit was, op sy beurt, geskoei op die wennerkortverhaal deur Mardaleen Derks, getiteld “Op ’n fiets deur die sneeu”.  Gegewe die hande waardeur die storie gegaan het en die noodsaaklike vermaaklikheidselement, is daar sekere feite in die Bloemhof roman wat nie in werklikheid so gebeur het nie, maar dit skeel min aan die lekkerte van die pragtige liefdesverhaal.

As daar skeptici is wat die waarskynlikheid betwyfel dat die twee hoofkarakters in dieselfde kommune beland in Londen, sal ek met liefde my eie verhaal deel. Gepraat van onwaarskynlik, en ek het dit persoonlik beleef. Juis daarom was dit vir my heeltemal oortuigend. Hoewel die bedryf waarin Mardaleen gewerk het, verskil van die werklikheid, was haar beroepsgerigtheid in der waarheid ’n oënskynlike onoorkombare muurDit was my eerste Bloemhofverhaal, en sy gemaklike skryfstyl het my heeltemal aangestaan.

Ek het ook ’n goeie skoot nostalgie beleef met die lees van die storie, om verskeie redes. Daarom merk ek dit op die Lekkerleesboek se uitdaging af teenoor nommer 14, en nommer 35 op die Popsugar Uitdaging (Drie-woord titel).vergeet

 

Kammaland

18 Wednesday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Nie alleen het ‘n vriendin van ouer as sestig jaar, Annelie Botes se Kammaland vir my aanbeveel nie, sy het ook vir my haar kopie in die hand gestop en aangemoedig om te gaan lees. Daarom kan ek dit nou met groot genoeë afmerk op ons Lekkerleesboekrak se leesuitdaging nommer 23. Op die Popsugar Uitdaging kwalifiseer dit vir nommer 24, synde ‘n boek oor ’n onderwerp waarvan ek niks geweet het nie.

Annelie en haar ou gryse pak ’n lang bootreis (374 myl) op die Engelse kanale aan wat een en negentig dae duur. Ek het nie eers geweet dat daar soveel kanale is nie, wat nog geweet van Rodney Boaters en sleeppaaie en die Canal and River Trust. Ek het nie geweet van lewensgevaarlike sluise (194 daarvan op hulle roete) en swane en eende wat die bote volg in die hoop op ’n brokkie brood nie.

Oor Annelie se skryfvernuf hoef ek geen woord te sê nie, want daarmee is ons reeds lankal bekend. Ek kan net sê dat dit ’n stukkie lewensgeskiedenis is wat met soveel emosie belaai is, dat ek soms baie swaar moes sluk. Die kontras tussen die vreedsaamheid op die kanale en die lewe in Suid-Afrika, verwoord sy só goed tussen haar eie trane deur, dat ek glo dat ’n leser beswaarlike onaangeraak kan bly. Die opregtheid en eerlikheid tref jou soos ’n hou teen die bors.

Hoe ironies dat ek juis nou hierdie boek moet lees, terwyl Suid-Afrika, en die res van die wêreld in die greep van ’n dodelike virus is. Op bl 153 skryf Annelie Botes: “Masels is dodelik aansteeklik. Mag God Suid-Afrika behoed.  I see a bad moon a-rising. I see trouble on the way.

Ek was gretig en haastig om te sien hoe die reis uiteindelik verloop en klaarmaak, maar soos Anschen Conradie altyd sê, hierdie een moet saam ouetehuis toe. Ek sal my eie kopie mettertyd moet aanskaf, maar dankie, Jeanné, vir die geleentheid om saam met Annelie Kammaland toe te vaar.kammaland

 

 

Strykstok van die hart

12 Thursday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Ambisieus, waagmoedig … Dit is die eerste begrippe wat by my opkom wanneer ek besin oor Lizelle von Wielligh se eerste SuperRomanza, Strykstok van die hart. Daar is ’n hele rits uiters omstrede onderwerpe, soos rasseverskille en veral klasse-onderskeid, wat die kern uitmaak van hierdie liefdesverhaal, sake wat steeds uiters relevant is in die moderne eeu waarin ons leef, hoewel hierdie verhaal in die 1800 afspeel.

Die stem wat gegee is aan die jong Annabelle was vir my oortuigend. Haar kinderlike geloof dat daar ’n hasie op die maan is het my met nuwe oë na die onlangse volmaan laat kyk. Die stem het gegroei saam met die karakter, tot waar sy reeds ’n jong volwassene is aan die einde van die storie. Die sterk kontras tussen die welvarende Hendrik en die slaweseun, Kaleb, het gesorg vir ’n spanningslyn wat regdeur volgehou is. Die storie agter die storie, die voorgeskiedenis van die randkarakters, was ook deurgaans interessant en getuig van navorsing wat gedoen is oor die omstandighede waaronder die slawe geleef het, en die impak van nuwe slaweordonansies op die slawe-eienaars. Ook van die mate van respek wat kinders toendertyd vir hulle ouers gehad het.

Die karakters wil nie summier groet met die neersit van die boek nie. Ek wil my verstout om te wonder of daar dalk in die toekoms meer van Schalk-Willem te vertelle sal wees? Ek dink ons gaan nog baie hoor van hierdie relatief nuwe skrywer in die romantiese genre.strykstok

Uit die beek 2020

09 Monday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Ek gaan my ouderdom verklap as ek verduidelik hoe lank gelede ek die eerste maal ’n uitgawe van Uit die beek in die hand gehad het. Destyds was dit ’n kleinerige boekie met ’n sagte buiteblad, as my geheue my nie in die steek laat nie. Ek lees in die voorwoord deur die skrywer, Barend Vos, dat dit reeds sedert 1929 in Afrikaans gepubliseer word. Ek het darem heelwat later eers daarby uitgekom!

Die nuutste weergawe sien egter heel anders daar uit. ’n Lieflike volkleur buiteblad in stewige papier, spreek rustigheid in my gemoed, wat hoeka op hol is as gevolg van omstandighede buite ons beheer. Die boek is beslis duursaam genoeg om ’n volle jaar se lees en studie te deurstaan.

Die eerste twee bladsye word gewy aan sake vir voorbidding, vyf items per dag van die week. ’n Wonderlike hulpmiddel om jou gebedslewe te struktureer. Dan volg die dagstukkies in die bekende formaat: teksgedeelte(s) vir daaglikse Bybellees. ’n kernteks en kort, toepaslike oordenking met gepaste opskrif.

Hoewel dit voorsiening maak vir die hele 2020, kan dit steeds aangeskaf word en kan jy inval by die huidige datum, of selfs van voor af begin. Dit word uitgegee deur Lux Verbi.Beek

 

Die liefdesboek

07 Saturday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Heel gepas word Die liefdesboek, ’n gesamentlike skrywe deur Christine Ferreira en Marielle de Vos, uitgegee in Februarie, die befaamde maand van die liefde. Maar moet nie die fout maak om oppervlakkige stories oor romantiese liefde daarin te soek nie.

Die eerste hoofstuk is getiteld “die Bybel, ’n Liefdesboekliefdesbrief.” ’n Engelse spreuk word aangehaal: “Many books can inform you. Only the Bible can transform you.” Die skrywers het ’n klomp teksgedeeltes uit die Bybel sinvol aanmekaargehaak en God se liefdesverklaring aan Sy kinders neergepen. Dit is so besonders dat ek dit al drie of vier maal deurgelees het.

Wat kan jy verwag om in die boek te vind? Elke hoofstuk volg ’n basiese patroon: ’n Beskrywende titel en mooi illustrasie, ’n teksvers en dan een of twee liefdesverhale uit die Bybel met praktiese toepassing vir die moderne lewe. Dan volg ’n gebed en wenke oor hoe om die liefde uit te leef. “Woorde van wysheid” is gepaste en treffende aanhalings. Onder “Lees wyer” vind ons ’n lys van toepaslike skrifgedeeltes.

Daar is plek vir notas, en spesifiek om die uitdagings aan die einde van die hoofstukke neer te pen, dinge soos jou gunsteling teksverse, of dinge waaroor jy bekommer, waardes waarvolgens jy poog om te leef. Elke hoofstuk kom met sy eie unieke uitdagings aan die leser om te dink en sy gedagtes neer te pen.

Dan volg daar ‘n hoofstuk wat gewy word aan hedendaagse liefdesverhale, getuienisse en lewenslesse wat gedeel word. ‘n Laaste woord is ‘n hoofstuk wat bestaan uit ‘n paar bekendes se “hartswoorde oor die liefde”. Kyk daar uit vir name soos Carike Keuzenkamp, Lieb Bester, Esté Geldenhuys en vele ander.

Maak gerus tyd om hierdie boek aandagtig deur te werk. Elke hoofstuk kan maklik ’n studiestuk vir ’n paar dae wees. Dit sal ’n uitstekende geskenk wees vir iemand wat erns maak met sy verhouding met die Here.

 

 

Min woorde wat baie sê

06 Friday Mar 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 5 Comments

Een van die uitstaande kenmerke van ’n goeie skrywer, ongeag die genre, is die vermoë om in ’n enkele sin ’n omvattende beeld te skep van ’n situasie. Vergelyk die woorde op bl. 26: “Oorwonne sak hy op die naaste bank neer…”  Nie alleen plaas dit die karakter in ’n bepaalde ruimte nie, dit laat ook iets van sy persoonlikheid en gemoedstemming deurskemer sonder om ’n rits woorde te gebruik.

Dit is dan ook een van die redes waarom ek besonder baie gehou het van Marilé Cloete se nuutste Romanza, Nooit weer winter. Ek het persoonlik nie veel erg aan literêre meesterlike uitlatings wat my vir ure laat wonder oor die waarheid agter die woorde nie; ek wil lekker lees, maar met goeie taalgebruik wat my telkens verras met die goeie keuse van woorde.

Die keuse van die titel was in die kol. Die hoofkarakters se negatiewe gevoelens jeens die winter was oortuigend. Dit het my herinner aan my skoonma se droefgeestigheid wanneer die herfsblare begin val , juis as gevolg van traumatiese gebeure in daardie winterseisoen.

Die karakters se teenstrydige geaardhede was verfrissend. Daar was al genoeg helde en heldinne wat perfek by mekaar pas. Die ekstrovert wat heimlik worstel met onsekerhede, en die introvert wat sommer net doodgewoon ’n fantastiese en standvastige held was, het oorgenoeg verskille gehad, maar uiteindelik was die liefde die gelykmaker.

Dan het ek ook die beskrywing van die toer baie geniet; dit het nie soos ’n bemarkingsbrosjure gelees nie, maar tog ’n wonderlike idee gegee van ’n deel van Afrika wat ek nog nie besoek het nie. Kortom, ’n baie geslaagde Romanza na my mening.

← Older posts

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy