Dit is Saterdag, 13 Julie 2013 en vanoggend het Willie die uitspraak gemaak dat hy vandag ’n hond gaan soek. Sonder dat hy verder hoef uit te brei, weet ek: hy soek ’n staffie. Dit is byna twee jaar sedert Tessa oorlede is, en Willie en Melissa wil lankal weer ’n woef hê, maar ek gooi wal.
My motiverings is legio: dalk trek ons in die nabye toekoms en ons weet nie waarheen of wat die opset daar gaan wees nie; dis makliker sonder ’n hond; ek is nie reg om Tessa te vervang nie … Almal geldig, maar nie goed genoeg vir my huismense nie, altans nie langer nie, so klink dit vanoggend, gemeet aan die bedaarde, maar besliste uitspraak wat Willie vroegdag maak.
’n Paar ure later is ons op pad Vanderbijlpark toe. Willie het ’n Staffietelersklub gekontak wat aannemings op hulle webwerf adverteer, en het gesels met ’n teler wat ’n rooibruin tefie het vir aanneme. Hy gaan nie langer met haar kan teel nie, want met haar laaste werpsel het sy skade opgedoen; maar, het hy gesê, verder is sy piekfyn. Nou gaan ons kyk.
So skuins voor Vereeniging oorval die trane my. Ek huil sommer oor alles en nog wat. Ek mis vir Tessie, ek huil saam met Melissa, ek kry myself oor die algemeen erg jammer. Ek praat nie met Willie en Melissa nie – ek huil!
Die teler wag ons in by die hek, en so gesels-gesels stap ons verby baie hokke met baie mooi staffies, en ons wonder oor die aanneemkind. Byna aan die einde van die laaste ry hokke, maak Alan ’n hek oop, en ’n rooibruin bondeltjie lewe storm op ons af en gooi haarself op die sy neer en soek vryf. Willie en Melissa is op die plek verlore en my keel trek toe.
Ek verseg om te commit, hou vol dat hulle moet besluit. Maar die lyfie kom staan knaend op teen my en kyk my in die oë, oë net soos Tessa s’n, lyfie soos Tessa s’n. Oplaas gee ek bes: as julle haar wil hê, is dit seker maar reg …
Ons gooi die sitplek toe met ’n kombers wat Willie pro-aktief ingelaai het, en sy kry haar sit langs Melissa. Ons groet die teler en verwag ’n laaaang pad huis toe. Tessa het immers geblaas en gekwyl vandat sy in die motor geklim het tot by haar bestemming, en lank daarna. Dit is die eerste verrassing. Coco sit tjoepstil langs Melissa tot in Kempton Park.
Kort voor lank, koer ek in verwondering saam oor die oulikheid! Sy hyg nie, word nie naar nie, kortom, ’n modelreisiger.
Tuis aangekom, stryk sy kordaat die huis in en ons kry verrassing nommer twee toe sy agterdeur toe stap en die nodige buite op die grasperk gaan doen. Dit strook glad nie met ’n hondjie wat in ’n hok geleef het. Nou begin ons bespiegel dat sy dalk by haar oorspronklike eienaar wat haar geteel het, in die huis gebly het.
Ons besluit wel dat sy maar buite moet slaap, en ons kry Tessa se hok gereed. Op ’n skaflike tyd, oorreed ons haar om buitentoe te gaan, en ons gaan kamer toe. Baie kort daarna, peul ons al drie uit ons kamers toe sy ’n geluid, wat herinner aan die gebulk van ’n koei, laat hoor buite die sydeur. Duidelik hou sy glad nie van hierdie idee om buite te moet oornag nie.
Na beraadslaging word ’n kombers langs Melissa se bed gesit. Na ’n aanvanklike opstanery teen die bed, kom sy tot bedaring en slaap tot die volgende oggend. Melissa moet weliswaar kort-kort koppie vryf, maar die eerste nag is oorleef (deur Coco en Melissa!)
Sondag word daar Hills kossies gekoop sodat ons werk aan haar kondisie. Sy is nog ’n rapsie aan die skraal kant en die pels nog nie honderd persent nie. Klaarblyklik te wyte aan die werpsel van ses maande gelede.
Sondag lewer ook die volgende groot verrassing op: Coco stap perfek aan ’n leiband! Nie een maal nie, maar twee maal word sy vir ’n entjie se stap geneem. Willie wag darem nou al twee jaar vir so ’n geleentheid!
Maandag ontmoet sy die man wat kom tuin werk sonder enige probleme. Die grootste uitdaging is die motorhek. Duidelik gaan sy nie binne bly as die hek oopgaan nie, dus is dit nogal ’n missie om te vertrek. Die hondjie moet aan ’n leiband gehou word totdat die motor buite is, en dan moet die vashouer vinnig deur die voetgangerhekkie uitgaan. Dit gaan nog werk, of ’n ander plan, kos.
Woensdag was ’n belangrike dag, maar daarvan vertel ek volgende keer.