• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: June 2018

Skryf safari: Leef rommelvry

25 Monday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

Ek wil glo dat daar wonderlike projekte en inisiatiewe van korporatiewe kant kom om rommel aan bande te lê, maar dit bly elke huishouding se verantwoordelikheid om ook sy beskeie bydra te lewer.

Ekself sal net mooi alles herwin as ek die kans gegun word, maar ongelukkig het ons takke van ‘n groot supermarkketting hulle houers verwyder. Dus het ek ‘n groeiende versameling van ou batterye, gloeilampe en inkkassette in my studeerkamer, waarvoor ek heenkom soek. Papier en plastiek kan ek gelukkig in Mondi se groen sakke plaas wat weekliks leeggemaak word.

Ek kan darem die effek sien van my beskeie poging, as ek IMG_1655kyk hoe die buurt se Wheelie Bins weekliks oorloop, terwyl ek een sak vullis het, en nie eers elke week nie. Dit is nou behalwe wanneer daar gras gesny word!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=786362.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

A & I Poësie uitdaging: Junie

21 Thursday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 6 Comments

Abstrakte gedig:

Daar is ’n waarheid

In elke verskeulde leuen

Te besig, te siek …

Dalk bloot te ongeinspireer

om my halfpad te ontmoed

picsart_02-18-06-07-44

Konkrete gedig:

Jou oë kyk nie vir my

Jou hande vroetel

probeer jou selfoon stilmaak

Jou dagboek is vol

Ek is net ’n nota daarin

 

Ek voel dat in hierdie geval, beide die abstrakte en meer konkrete weergawes slaag om die gevoel oor te dra dat iemand afgeskeep word in ’n verhouding. Ek sal graag wil hoor welke weergawe die ander deelnemers verkies.

 

 

 

 

 

 

Skryf Safari: Magrieta vs Magriet

21 Thursday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 5 Comments

Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig! Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie.

Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!? Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor.

Kat het egter die hele doel van die oefening gemis. Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindruk dat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!

Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.

Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg…. Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..

Gebruik kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf.

Uiteindelik kan Magrieta dit nie verder verduur nie. Sy knip haar gebed met die nodige apologie kort, sug en stryk aan na die deur toe. Sy kry by voorbaat haar mercy hart genoegsaam onder bedwang. Sy gaan vir Magriet, die Kat, summier opraap en by haar huis terugbesorg. Ononderhandelbaar.

Met ’n verbete trek om haar mond maar sy die deur versigtig oop, gereed om te keer dat kat haar systap en by die woonstel inglip. Deur die gleufie gewaar sy niks van die kat nie, stoot dan die deur ’n rapsie verder oop. Steeds niks. Sy tree oor die drumpel, kyk na links en regs, maar die kat is skoonveld.

Tevrede dat Magriet waarskynlik terug is huis toe, druk sy die deur toe en wend weer ’n poging aan om haar gebedsgesprek te hervat. ’n Lang miaaauuuuu maak korte mette van haar goeie voorneme. Sy herhaal die oefening by die deur, maar weer sonder sukses. Geen teken van die kat nie.

Sy sal haar taktiek moet verander, besluit sy na die vierde poging. Nou los sy die deur oop en staan naby genoeg om betyds te kan keer sou Magriet terugkom vir rondte vyf. Die vroegoggendson streep oor Pasela Papegaai se hok en raak-raak aan Magrieta se tone. Na ’n paar minute verloor die stukkie son die stryd en begin Magrieta se voete koud word. Dalk maar die ding laat vaar. Hopelik is Magriet hierdie keer regtig huis toe.

Pasela Papegaai skud sy vere, strek sy nek en stuur ’n oortuigende miaaauuuuu die lugruim in.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036

Hoe staan sake op Karibib?

13 Wednesday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 5 Comments

“Dis nou vir jou Namibië. Die land wat vir eensaamheid geskape is.” Ek kon nie verhelp om saam met Con Dorfling te sug aan die einde van hierdie besondere boek nie. Deur sy oë en die vernuftige skryfstyl van Isa Konrad, is ek ’n voëlvlug gegun oor ’n land wat ek nog nooit besoek het nie, kon ek weer verwyl op Karibib, want Alet Gouws was terug. Tewens, ek wens ek het die tyd gehad om sommer dadelik weer Die ondenkbare, met Briel en Lena, en Moord op Karibib te herlees.

Op die oog af ’n totale onpaar: Alet, ’n stadsmeisie wat haarself deeglik kan laat geld, maar tog ’n weerloosheid probeer wegsteek, en Con, wat alles behalwe die tradisionele IMG_1629held in ’n liefdesverhaal is en spesialiseer daarin om sy gevoelens heeltemal verkeerd te verbaliseer. Tog sorg die verhouding tussen die twee, vir suiwere leesgenot. Ek was beindruk oor hoe Con se woorde en gedagtes, die plek vir die leser wys, en die karakters bekendstel. Dit sorg ook vir subtiele humor wat plek-plek deurslaan, sonder dat die karakter poog om snaaks te wees. Hy is bloot Con, en konsekwent só.

Die moordsake wat Con ondersoek, dateer vyf en twintig jaar terug. Dit verleen ’n andersoortige karakter aan die verhaal, sodat die spanning, tot en by die ontknoping, grotendeels lê by die verhouding tussen Alet en Con. Die plot lewer wel deurgaans verrassende wendings op, sodat die leser kompulsief lees om agter die kap van die byl te kom.

Ek hoop van harte dat Isa Konrad alreeds werk aan ’n volgende avontuur vir Con en Alet, want ek het nog nie by benadering genoeg gehad van hulle nie.

 

Skryfsafari: Bordspeletjies

13 Wednesday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 9 Comments

Uit die inskrywings wat ek gelees het, blyk dit dat daar met nostalgie teruggedink word aan die dae van slangetjies en leertjies, ludo, monopoly en diesulke goue treffers. Ek glo dat televisie en elektroniese media wel ’n groot impak gehad het op die gewildheid van konvensionele bordspeletjies, maar daar het ’n nuwe generasie van speletjies ontwikkel wat weer ongekende belangstelling uitgelok het. Dit is nou as jy die astronomiese pryse daarvan kan bybring.

Ek kan met vrymoedigheid sê dat ons gesin, en die aangetroudes van my skoonseun se kant af, nogal kan kwalifiseer as bordspeletjiemense. Veral as ons kuIMG_1628ier saam met ons Kaap kinders, word bordspeletjies vinnig uitgehaal. En nie sommer eniges nie, hoor! Daar is weergawes wat ek seker in my dag des lewens nooit mooi sal bemeester nie, want dit is uiters strategies en ingewikkeld. Settlers Catan was aanvanklik ’n groot uitdaging, maar dié het ek darem nou onder die knie – wel … Lanklaas gespeel en sal weer hard moet dink. Pandemic sit vir my ore aan, want ek sukkel om die uitbreek van die siektes oor die wêreld hok te slaan. Carcassonne is darem meer in my liga, terwyl

Van my gunstelinge is Ticket to ride en Balderdash. Laasgenoemde het ons al histeries gehad, want mens staan telkens verstom oor hoeveel snert mens kan uitdink. 30 Seconds bly ook gewild onder ons klomp. Dan is daar nog Ligretto, as jy lus voel om teen hoë tempo te speel.

Kortom, ek hou van ’n goeie bordspeletjie. My grootste vereiste is dat niemand moet kul nie, en verkieslik moet niemand té gedrewe wees om te wen nie. As daar by daardie basiese beginsels gehou word, kan dit ’n heerlike, ontspannende tydverdryf wees.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470

Skryfsafari: ’n Vreugde uit my kinderjare

05 Tuesday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 5 Comments

Ek het nog nooit voorheen hieraan deelgeneem nie, want die ure in ’n dag is net te min. Daar het egter, by die lees van die uitdaging, ’n baie definitiewe herinnering by my opgekom, wat ek graag deel.

In my kinderjare was daar net een pad tussen Johannesburg, waar ons gewoon het, en Pretoria, waar my ousus gewoon het. Dit staan vandag nog bekend as Ou Pretoriaweg, net een smal baan in elke rigting, en rye bome waardeur die son geflits het, sodat ek gereeld kort duskant karsiek gaan draai het.

Die pad was ongelooflik bedrywig. Dit was asof die hele nasies aan’t migreer was tussen die twee stede vir ’n Sondagkuier. Omdat my suster nie motor bestuur nie, was ons altyd dié wat moes ry.

’n Entjie buite Pretoria was daar die bekende “Flying Saucer” padkafee met allemintige lekker melkskommels. Dit was egter ’n uitdaging om weer in die stroom motors in te kom, sou jy afdraai na die padkafd8dd237c9596e63dc50585b4717677f2ee toe.

Ek was ‘n laatlam met die wonderlikste pa denkbaar. So gereeld soos klokslag, het hy maar gedwee die ongerief uitgestaan, dat ek net my melkskommel kon gaan drink. Welke bederf hulle nie aldag kon bekostig nie, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander tyd.

Nou is ek sommer ordentlik nostalgies!

Wie is Andolet?

05 Tuesday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

As jy ‘n leser is wat jouself skaar by die hedendaagse voorliefde vir alles wat ‘vintage’ of klassiek is, gaan jy hierdie SuperRomanza wil aanskaf bloot op sigwaarde. Terwyl Andolet, soos ons haar leer ken deur die skryfwerk van Petronel Louw, baie tuis is in ‘n broek en hemp, tot ontsteltenis van vele, is dit presies soos ek haar voorstel as sy aangetrek is vir ‘n dinee.

Andolet is ‘n baie sterk karakter, met ‘n onsekere verlede en ook ‘n onsekere toekoms, as haar aangenome pa tot sterwe kom en sy na Duits-Wes-AfrikaAndolet moet gaan.

Die skrywer het die vryheid van die SuperRomanza, haar eerste, deeglik benut deur ‘n meer komplekse storielyn te skep met ‘n uiteenlopende aanbieding van randkarakters. Die leser word telkens verras deur wié vriend en wié vyand is.

Verder leer die leser iets van die plaaslike stamme en die verhoudings met die Duitse boere wat hulle daar kom vestig het. Moet geensins vrees dat jy ‘n geskiedenisles gaan kry nie. Die storielyn bly die belangrikste element, met ‘n lekker skoot romanse op die koop toe.

Uit die bloute

01 Friday Jun 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Net toe ek dink dat Chanette Paul nou omtrent elke vreemde onderwerp getakel het en in haar stories verweef het, pluk sy uit die bloute ‘n nuwe haas uit die hoed, of liewer, uit die lug, met die omstrede kwessies van vreemde vlieënde voorwerpe, van alien planete en van ’n gemeenskap wat wag vir die moederskip om hulle te kom haal.

Drie uiteenlopende karaktertipes wat in die storielyn ingespan word, het my opgeval: eerstens, mense is uiters beïnvloedbaar en sal ’n sblouteterk leier slaafs navolg. Om die skrywer se woorde te gebruik: “omdat selfs die ongeloofbare geloofwaardig word as dit is waarvan jou en jou kinders se oorlewing afhang.” Dan is daar gewetenlose mense wat ander blatant sal uitbuit en selfs elimineer vir eie gewin. Derdens is daar diegene wat nooit sal kompromie maak nie, selfs nie in die gesig van die dood nie. Hierdie elemente gee aan die verhaal substansie, te midde van die debateerbare onderwerpe soos VVV’s en grafologie.
Dit was heerlik om ou bekendes, en by uitstek die interessante Jojo weer te beleef, en oor Joachim is ek erg. Dit is nou ’n ordentlike man. Dalk is ek bevooroordeeld, omdat ons aan dieselfde kant van sestig is.
Die skrywer het weereens beïndruk met die akkuraatheid waarmee soveel detail hanteer is; vir elke raaisel was daar uiteindelik ’n oplossing aangebied en al die los drade netjies vasgeknoop. Dit is ’n lywige boek, maar beslis die leesure deur en deur werd.

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy