Wanneer die elfde van die elfde jaarliks sy draai kom maak, weet ek telkens nie mooi wat ek met daardie dag moet maak nie. Daar is ’n warboel van emosies wat my besoek: hartseer, nostalgie, vreugde …
Die elfde van die elfde is my skoonsus se verjaarsdag, en dit is een van die goeie dinge van hierdie datum. Altyd lekker om iemand ‘n wavrag vol seëninge toe te wens vir ’n nuwe lewensjaar. Dan dink ek altyd met nostalgie aan dié dag in 1979, toe my man die jawoord gevra het, maar ook dat die grootse gebeurtenis aangevuur is deur die afsterwe van my tante, op daardie dag. Dit het ons sterk onder die indruk gelaat van hoe onvoorspelbaar, en soms, kort, die lewe kan wees. Dat ’n mens nie onnodig moet uitstel nie.
Maar helaas, dit was ook op die elfde van die elfde, vier-en-twintig jaar gelede, wat ’n groot beroerte my pappa kom eis het. Pappa, ek mis jou steeds