Vlindervlerke het al ‘n geruime tyd op my te-lees-hopie vertoef, en toe ek uiteindelik daarby uitkom, het dit hortend begin; geen fout met die boek nie, maar met my leestyd. Toe ek egter die kans kry, het Anna Penzhorn se ondernemende skryfstyl, en ‘n buitengewone plot, my vinnig ingetrek, sodat ek nie graag die boek wou neersit nie. Ek was tewens bly dat ek nie die lokteks vooraf gelees het nie; die gebeure vanaf hoofstuk ses was ‘n avontuur, anders as die gewone. Dit herinner aan ‘n rolprent van etlike jare gelede. Trouens, ek dink dit sou ‘n lekker Afrikaanse weergawe kon wees
Die skrywer openbaar goeie insig in verhoudings, wat mens te wagte is van iemand met soveel skryf- en leefervaring. Op bl. 57 lees ek byvoorbeeld ‘n groot wysheid oor die liefde raak: “‘n Mens gee jou hart vir iemand en vertrou die mens sal dit nie breek nie. Maar eintlik gee jy mag aan iemand wat nie verstaan hoe breekbaar jou hart is nie. Of nie omgee nie.”
Daar is drie mansfigure wat elk ‘n beduidende rol speel in Ilana se lewe, en elkeen van hulle maak ‘n wesenlike bydrae tot die storielyn, maar natuurlik is daar een held wat met die heldin se hart wegstap. Kyk gerus uit vir hierdie SuperRomanza met die pragtige voorblad.