Almal wat weet, is dit eens: lees, lees, lees en lees nog meer. Eers dan kan jy suksesvol skryf. Ek het al te vertelle gehad hoe ek weer aan’t lees gekom het ná baie jare. Die wonder van die Afrikaanse taal het opnuut vir my lewend geword namate ek wyer begin lees het. Daar is nie genoeg ure in enige dag beskikbaar, om ’n duik te maak in die magdom leesstof wat daar beskikbaar is nie.
Juis om daardie rede, het ek ’n besluit geneem: ek gaan nie my tyd spandeer aan boeke waarin die taalgebruik blatant kru is nie. Ek kan verstaan dat daar karakters mag wees wat swets soos matrose; ander karakters wat in die gewoonte is om woorde te gebruik wat ek nie hardop sê nie. Dit mag ek dalk nog oorsien, daaroor vluglees ter wille van die storie, mits dit regtig boeiende skryfwerk is.
Ek gaan ook nie ‘n boek lees waarvan die trant my ongemaklik maak nie. Ongeag of dit hoog aangeskrewe is, ongeag of die storielyn belowend is. In die afgelope dag of wat, het ek twee boeke opgetel, ’n paar bladsye gelees, en neergesit.
Juis vanoggend lees ek in Filippense 4:8: Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Dit was presies die bevestiging wat ek nodig gehad het. Noem my nougeset, noem my preuts … Ek noem dit gehoorsaam aan die influistering van die Heilige Gees.