Die nuutste spanningsverhaal van Peet Venter is vir my ’n openbaring op vele vlakke. Die omslagontwerp is treffend, die titel maak voorsiening vir wye interpretasie en die subtitel laat ’n kilte by my rug afkruip.
Binne die eerste bladsye word leser sowel as speurder Boel Helberg skokkend betrek by die grusaamheid van die derde in ’n reeks moorde. Boel besef dat hy persoonlik geteiken word, en dat die moordenaar ’n makabere speletjie met hom speel.
Wat opval is die feit dat die verhaal nie deurspek is met tegniese detail oor polisie-, ondersoek- en forensiese werk nie. Veel eerder word daar gekonsentreer op verhoudings, en in besonder dié van ’n pa met sy kind. Ook die psige van die moordenaar en die familie van slagoffers, steel Boel se gemoedsrus. Boel bevraagteken verder sy eie vermoëns as pa. “Hy besef dit was die eintlike rede waarom hy sy pa gebel het, om vir hom te vra hoe om ’n goeie pa te wees.” (Bl. 89)
Die manier waarop Boel Helberg aan die leser voorgestel word, was vir my uitsonderlik. Hy is ’n man wat nie maklik praat nie, en die bondigheid waarmee sy gesprekke en selfs sy aksies weergegee word, die kort sinne, onderstreep presies die tipe karakter wat die skrywer probeer oordra. Omdat ek nie bekend is met die skryfstyl van Peet Venter nie, kan ek nie ’n mening waag of dit spesifiek tot hierdie verhaal is, of die algemene skryfstyl van die skrywer nie. Dit slaag egter, en die karakter is vir my oortuigend. Ek sal persoonlik glad nie omgee om weer ’n ondersoekpad met Boel te stap nie.