Daar is hoeka ’n besondere bekoring aan fyn porselein. Daardie teestel wat jy met bloedgeld gekoop het omdat dit vir jou so mooi is, of dié een wat jy by ouma geërf het en net by spesiale geleenthede uit die buffet haal. Lapa Uitgewers het in samewerking met Clover, 55 smulresepte in ’n pragboek saamgevat, wat vir seker daardie mooi porselein gaan regverdig.
Daar is letterlik ’n resep of meer vir elke smaak. Meer moderne resepte soos Rooifluweelkolwyntjies en Spinasie-en-driekaasfilotertjies, staan hulle man saam met ou beproefde gunstelinge soos Koeksisters, malvapoeding en ystervarkies.
Die fotografie is uitstaande. Die gebak is smaakvol opgedien en in volkleur gefotografeer, en beslaan in elke geval ’n volle bladsy neffens die resep.
Die resepte lyk maklik om te volg en my grootste probleem gaan wees wat om eerste te beproef. Dalk mag ek dit net regkry om soos ’n koninklike te bak.