’n Loots en ’n arbeidsterapeut, beste vriende van kindsbeen af. Die liefde tussen hulle is dié soos tussen broer en suster. Hy is al vir vyf jaar in ’n stormagtige verhouding, haar grootste begeerte is om swanger te raak. Daarvoor wil sy die perfekte gene gebruik wat hy vir haar moet skenk. By gebreke daaraan, sal sy van ’n spermbank gebruik maak.
Dit is in kort die agtergrond waarteen hierdie nuwe Romanza van bedrewe skrywer, Alma Carstens, afspeel. Noodwendig moet die jarelange verhouding tussen Erin en Jay iewers verander, maar die skrywer was nie haastig om my ongeduld te besweer nie. Een na die ander wending stel die uiteindelike helder oomblik, wat elkeen afsonderlik beleef, net lank genoeg uit. Maar dit veroorsaak die finale dilemma, want nie een van die twee kan bieg nie.
Die slottoneel is pragtig geskryf. “Hy lag toe geluk soos vonkelwyn deur sy are bruis en soen haar met al die opgekropte verlange in hom.” (p.189) Lesers wat romanses geniet, kan gerus maar belê in Die perfekte gene. Soos altyd, is dit in gedrukte, sowel as e-boek formaat beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf.