Onse Coco … maande later, en steeds verras sy ons nog baie gereeld met nuwe geite en nuwe dinge wat sy klaarblyklik sonder moeite aanleer. Sy word gruwelik bederf, want sy is mos die appel van al wat ’n oog is in hierdie huishouding. Sy spandeer die grootste deel van die dag in die huis, naby haar mense. Sy het die huis al baie mooi onder die knie, en soos die winter nader kruip, vind sy nuwe sonkolletjies om te snoes.
Soms, net soms … verkies sy om buite te gaan son soek. Sodra sy daarvan genoeg gehad het, kom loer sy by my studeerkamer in. Nogal ’n gesig om te aanskou. Dit is net die gesiggie wat uitsteek bokant die vensterbank. Op ’n dag was ek elders in die huis toe die alarm begin skree. Ek het gaan ondersoek instel en gesien dat dit die straal onder die afdak is wat gebreek was. Ou probleem, gewoonlik duiwe wat té na aan die paal opstyg. Versit ek toe kombuis toe om darem net seker te maak dat alles veilig is, en dit is die gesig wat ek sien toe ek verby die studeerkamer stap!
’n Paar dae later was dit weer sulke tyd. Hierdie keer was Melissa betyds by met haar selfoon om die spokie op film vas te lê!
Ter wille van haar gewrigte en bene, en vrede met die alarm, het ons nou maar haar uitkykpunt op die sy gedraai. Nou wag ons vir die volgende streek wat sy gaan uithaal …