Binne die eerste bladsy, verplaas die skrywer haar leser na 1990. Volgens Helena Hugo se eie opmerkings aan die einde van die boek, was dit vir haar ‘n uitdaging om die klok dertig jaar terug te draai, en die ruimte te verskuif na Lambertsbaai en London. Ek dink sy het dit uitstekend reggekry.
Die kort sinne wat die sewejarige Janine se woorde en gedagtes weergee, is effektief. Algaande pas die skryfstyl aan by die ouerwordende hoofkarakter. Wanneer ek spreekwoordelik my hare uit my kop wou trek oor die keuses wat Janine later maak, moes ek myself kort-kort herinner daaraan dat sy eintlik nog baie jonk was toe die harde werklikheid van ’n lewe saam met Greg, haar deel geword het. Dit het my aan die hart geruk dat soveel emosionele en fisiese swaarkry oor haar pad gekom het, juis omdat dit so realisties uitgebeeld is. In Helena se woorde: in die werklikheid gewortel.
Die analogie van die seelaventel, wat papierblomme genoem word wanneer dit weggegooi word, word gebruik om die verdorring van haar lewe te illustreer, myns insiens die perfekte titel vir die boek.
Janine se inkeer en terugkeer na die Here, word sonder sentimentaliteit verwoord, maar met groot trefkrag. Die verhaal word nie vervlak na ’n “alles werk uiteindelik reg uit” nie, hoewel dit hoopvol ontknoop. Ek dink ’n opvolgstorie sal baie gepas wees, want daar is nog heelwat potensiaal in die lewensverhaal van Janine. As die skrywer hoegenaamd meer van die egoïstiese en dominerende Greg kan verduur, is daar sekerlik ook nog veel te sê oor hom. Met so ’n oop einde is enigiets moontlik.