Ek het myself voorgeneem om verby te hou by grieselrige rillers met eksplisiete moordtonele. Maar toe die vyfde in die Renata Malanreeks uit die pen van Madelein Rust onlangs op die rakke verskyn, was dit ’n dilemma, een wat ek nie anders kon hanteer as om te lees nie. Middeleeuse martelmetodes, demoonuitdrywing, hon
gerige Landrasvarke, rotte… My regterbrein het ek streng opdrag gegee om nie prentjies te maak nie. Ek het wel deeglik gekonsentreer op die skitterende vertelvermoë, taalgebruik en komplekse plot van My naam is Legio.
Renata Malan en haar span moet met haas die sogenaamde kruismoordenaar opspoor, want hy het geen afkoelperiode nie. Sy word egter gekniehalter deur ’n rits probleme: sy sukkel om in die moordenaar se kop te kom, haar verhouding met Stefan, haar vennoot en jarelange vertroueling, raak gekompliseerd en sy verloor kontak met haar pa, George Alfred Hill, wat haar vanuit sy wegkruipplek oppas en raad gee.
Terwyl die spanningslyn snaarstyf span, sorg Stefan se houding en sêgoed vir ’n klein tikkie humor hier en daar, net genoeg om vir ’n oomblik asem te skep. Daardie luukse word die leser egter teen die laaste paar hoofstukke ontneem, wanneer die trauma en spanning byna onhanteerbaar raak.
Dwarsdeur die reeks, spook Renata met die vraag of sy kan, en wil, moor, gegewe die gene wat sy van haar pa oorgeërf het. Sy was al in uitdagende situasies, maar nooit was dit tyd so reg en die rede so perfek, om die sneller te trek nie. Koop gerus die boek en vind uit hoe die dobbelsteen val.
Papierboek beskikbaar by Lapa
Ook as E-Boek beskikbaar met onderstaande skakel:
