Coco het die sagste bruin oë en die lieftalligste geaardheid – wag, dit het ek mos al gesê! Ook dat sy haarself een honderd persent tuisgemaak het in ons huis en huishouding.
Vir die rare geleentheid dat ons haar buite moet laat in die aand, is haar hok mooi ingerig met ‘n groot kussing, weliswaar sonder ‘n sloop, en ‘n kombers. Toe die kussing stukkend gaan, was Pa bekommerd dat sy van die stopsel inkry, en moes ek die die kussingsloop gaan soek en oortrek. Toe ons gisteraand tuiskom, was my verbasing groot om te sien dat die sloop geskeur is. Sy het die voordeel van die twyfel gekry – soos gewoonlik 🙂 Die sloop was immers al oud en dalk voos.
Coco soek graag bietjie son buite as dit koel is in die huis, soos vanmiddag. Diegene wat al deurgeloop het onder misdaad, weet dat enige verdagte of harde geluid maak dat mens soos ‘n pyl uit ‘n boog opvloog om te gaan ondersoek instel. Presies wat ek gedoen het toe ek ‘n slag hier buite my studeerkamervenster hoor. Dit is toe dat ek haar betrap: bek vol stopsel! Die geluid was ‘n stamp teen die hok met die driftige gepluk aan die kussing om die stopsel uit te kry.
Coco is dus nie ‘n engel in ‘n bruin lyfie nie – sy is ‘n woef met ‘n goeie kwota stoutigheid! Maar ons is vreeslik lief vir haar …