• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: April 2018

Liefde in ’n hangkas

27 Friday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

’n Gewilde tema in liefdesverhale is ’n werhangkaskgewer-werknemerscenario. Skrywers van romanses gaan verstommend kreatief om met hierdie tema. Madelein Stoltz het self voorheen hierdie tema ingespan en doen dit weer met sukses in haar nuutste Romanza. Sy plaas haar heldin, Danelle, in ‘n situasie wat ek nog nie in presies hierdie formaat raakgelees nie. Die feit dat die eerste ontmoeting binne die instaphangkas van die skatryk Nardus plaasvind, verklap reeds iets van die interessante persoonlikheid van ons heldin, welke karakter konsekwent ontwikkel word soos die verhaal vorder. Impulsief, energiek, met ’n hart wat teen haar beterwete omgee. Sy durf risotto, stoflappe, ’n nors werkgewer en ’n rebelse tiener aan.

Die trant is basies lighartig, toe te skryf aan Danelle se manier van doen;  ’n goeie teenpool vir die donker krisis waarmee die held spook. Ek het hierdie romanse besonder baie geniet en kan dit aanbeveel vir langnaweekleesstof.

Op Droomkrans woon ’n engelman

25 Wednesday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Met haar tweede romanse onder die Melodie druknaam van NB-Uitgewers, het skrywer Moryn Hanzen die dwarslat sommer baie hoër gestel en loshande oorgeseil. Sy plaas die skrywer sommer dadelik midde die ruimte van die verhaal, deur die kleindorpse omgewing effektief te skilder: “’n Regte-egte cowboy town … Tyd is iets wat bloot soggens deur die kraai van ’n haan aangekondig word en ’n datum is net ’n onbenullige syfer op die voorblad van ’n koerant.”

Die berugte befoeterde Han, knor toe nie vir Dia nie, wat my onkant betrap het. Ek het myself ’n hewige konfrontasie voorgestel as eerste ontmoeting tussen held en heldin. Hierdie onverwagte invalshoek, verras aangenaam. Han is ’n enigma. Die skrywer hou die intrige enduit vol, deur brokkies agtergrondkennis geduldig te deel.

Elke karakter in die boek het ’n eie unieke stem, en beeldspraak is nie oordrewe nie. Die beeld van die grote Han wat met ’n tandestokkie omgetik kan word, spreek van die fyn humor wat die skrywer in die storielyn ingebou het.

‘n Baie geslaagde liefdesverhaal, wat aanhangers van die genre gerus kan soek op die winkelrakke.za.pinterest.com

Voltyds

24 Tuesday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 7 Comments

“Voltyds” is vir my ‘n formidabele konsep. Wanneer iemand voltyds werk of voltyds skryf of wat ookal die term “voltyds” regverdig, wil ek op aandag staan en salueer. Dit spel vir my toewyding, hetsy selfopgeleg of noodgedwonge.

Doen ek enigiets voltyds? ‘n Stukkie introspeksie lei daartoe dat ek die term in my kop begin herdefinieer.

Ek is natuurlik eerstens voltyds eggenote, ma en huisvrou, en ook ouma, weliswaar oor die breedte van die land heen. Dan is ek voltyds beskikbaar vir enige van my kliënte wat my nodig kry om ‘n polis te wysig of ‘n eis te registreer. Ek is ook voltyds aan die sing as daar ‘n produksie opduik, en voltyds aan die begelei by die kerk. Ek is voltyds doenig om voorsangers op te lyn. Ek bly voltyds op hoogte van sosiale media. Ek hekel voltyds trooskomberse. En helaas, ek lees voltyds en ek skryf … voltyds?

Die gevolgtrekking? Om so voltyds besig te wees, is ‘n handige verskoning, (of is dit ‘n rede?), om aan te bied vir iets wat nie klaar kom nie. Daarom het ek, ten minste wat skryfwerk aanbetref, ‘n nuwe mantra, wat ek leen by skrywer Elizabeth Gilbert: “Just finish something.” (Uit The Big magic)

Gegroet! Ek gaan vir minstens ‘n uur “voltyds” skryf.

 

Oor kos en die liefde

23 Monday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Met ’n tie22dd1154be3524b277bf066f5c08460tel soos As dit proe soos liefde, is dit seker nie verrassend om vroeg reeds ’n kosles raak te lees nie: “dat mense net soveel moet hul oë as met hul monde proe en lelike kos is altyd sleg en lekker kos altyd mooi.”

Didi Potgieter het lankal reeds plek gekry onder my gunsteling Romanzaskrywers. Met hierdie, haar eerste SuperRomanza, wys dat dat sy geen probleem het om met meer woorde en ’n meer komplekse storielyn om te gaan nie.

Die titel is besonder gepas, want daar word deurentyd analogieë getrek tussen kossmake en emosies, maar dit word subtiel, dog oortuigend, vir die leser aangebied.

Die karakter van Lisa is baie goed ontwikkel. Met terugflitse kry die leser ’n volledige indruk van die invloede wat haar gevorm het, en die proses wat sy moes deurloop voordat sy haarself uiteindelik na waarde kan skat.

Na my mening het die skrywer ’n liefdesverhaal van formaat gelewer waaraan ek besonder lekker gelees het, en nie huiwer om volpunte te gee nie.

Altyd en altyd

09 Monday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

Lapa Uitgewers publiseer in Maart 2018 ’n omnibus bestaande uit Romanza’s van Thea Holland wat tussen 2010 en 2015 verskyn het. Sedert ek in die romansegenre begin lees het, het hierdie skrywer haarself al bewys as uiters taalvaardig en bedrewe in die skryfkuns. Daarom het ek uitgesien daarna om van hierdie vroeëre werk van haar te lees.

’n Romanse leen homself uitstekend aan die tema van ’n skrywer wat iemand moet aanstel om sy tikwerk te doen. Voeg daarby die ampte van huishoudster en kok, en dinge begin interessant raak, veral as die gekose kandidaat nie ’n eier kan bak of in haar lewe aan ’n stoflap gevat het nie. Verder is Simon, die held in Doodgewone wonderwerk, geen maklike mens nie. Sy suster, Naomi, sê tewens: “Die dag toe harte uitgedeel is, het jy seker gaan rugby kyk.” ’n Ander newekarakter wat goed ontgin is, is Theodore. Hy het empatie met Elizabeth se dilemma, in teenstelling met Simon se oënskynlike hardvogtigheid. Elizabeth dwing respek af met haar vurige deursettingsvermoë. Ook simpatie, wanneer probleme teen haar opstapel en sy telkens haar tekortkominge in die gesig staar.

In ’n Onverstandige vrou kom verras die skrywer met ’n eerstepersoonverteller. Weza.pinterest.comereens verseker die skrywer se bedrewenheid dat sy dit suksesvol hanteer en kry die leser ’n intieme weergawe van die heldin, Laetitia, se emosies en wedervaringe. Ek het aanvanklik gewonder oor die titel, totdat ek op bl. 193 lees: “Die probleem is net, tussen die laboratorium se drumpel en die hoogwaterlyn lê daar ’n gebied wat jy die werklike lewe noem, en dáár is ek ’n gevaar vir myself.”

Laastens kom Bruid in blou aan die beurt. Die skrywer wissel die gesigspuntvertelling af tussen Gideon en Jess. In die proses weet die leser dus gou presies wat Gideon se optrede motiveer, en wou ek byna haastig raak en verwag dat hy haar vroeg-vroeg oorrompel. Dit sou ’n fout gewees het, want dan was die leser ontneem van ’n goed-georkestreerde kat-en-muisspeletjie, en sou ek nooit gaan google het oor die legendariese Finn McCool nie. Wie sê dat mens nie uit ’n romanse iets nuut kan leer nie?

Hierdie omnibus gaan in my kas gebêre word, om weer oor ’n paar jaar te lees.

Geen feëverhaal

03 Tuesday Apr 2018

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Jan Vermeulen is ‘n veelbekroonde skrywer van jeugverhale. Met Die vyfde aspoester maak hy ’n genresprong en vestig homself met sukses in die midde van ons mees suksesvolle spanningsverhaalskrywers. Ons het hier egter nie te make met ’n feëverhaal nie; tewens, die buitebladontwerp spel dit uit dat dit eerder grusaam en skokkend gaan wees. 5ea22c505f19e85acbe572370b56ccf1Sogenaamde Aspoesters word geoffer, die detail waarvan mens byna slapelose nagte wil besorg. Die slagoffers het ’n verbintenis met kliniese- en forensiese sielkundige, Olaf Demeyer. Dit blyk gou dat daar ’n persoonlike geskiedenis bestaan, meer as net die feit dat hy die polisie help om die moordenaar te profileer. Wt aanvanklik wil voorkom as ’n parallelle, en ewe skrikwekkende storielyn, blyk tog grootliks verband te hou soos die storie ontvou. Die plot is uitstekend uitgebou om die leser aan die wonder te hou. Hoewel daar redelik vroeg sterk aanduiding is oor die identiteit van die moordenaar, doen dit geensins afbreek aan die spanningslyn nie. Inteendeel, dit dra by daartoe dat jy kompulsief lees om die kloutjie finaal by die oortjie te kry. Met die komplekse sielkundige probleme waarmee baie van die karakters worstel, kry die verhaal ‘n geur van ’n sielkundige riller en staan bykans al die rolspelers onder verdenking. Die skrywer slaag ook daarin om beide simpatie as intense frustrasie en afkeur met die karakters teweeg te bring. Die verhaal is baie relevant in die gees van die veldtogte teen geweld teenoor vroue en kinders. Ek wil voorspel dat die skrywer in hierdie genre net soveel sukses gaan behaal as met die jeugverhale, en sien uit na sy volgende boek.

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy