• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: November 2020

’n Winckler-reeks in ’n nuwe baadjie

30 Monday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Twee van die aantreklikste omslae wat ek in ’n lang tyd gesien het, is dié van Elsa Winckler se reeds, Ware Noord en Om weer te droom. Oorspronklik uitgegee deur Struik Christelike Media, het Lapa Uitgewers dit nou met splinternuwe baadjies die lig laat sien.

Die ware rampspoedige ineenstorting van die Metodistekerk in Somerset-Wes, verskaf die inspirasie en agtergrond waarteen Ware Noord afspeel. Evan Vos, wat swaar dra aan skuldgevoelens en die onvermoë om te vergewe, kry tog uiteindelik sy droom gerealiseer om vir die Springbokke te speel, net om deur ’n besering genoodsaak te word om as projekleier vir sy pa te werk vir die herstel van die kerk. Hier kruis sy pad met Anya.

Evan se ander suster, Lizet, se storie word vertel in Om weer te droom. Sy probeer haar oorlede suster se kluitklaplys voltooi, ten koste van haar eie drome. Anya se broer, Stephen, het sy eie droom prysgegee nadat sy vrou oorlede is. Saam moet albei van hulle weer leer om te droom.

Behalwe familiebande, is trauma en verlies faktore wat die twee stories verbind. Ook die nodigheid om drome te hê en aktief na te jaag. Omdat ek dit ‘n geruime tyd gelede reeds gelees het, gaan ek nie nou sterre toeken nie. Eerder gaan ek ’n mede-Boekrakker vra om haar indrukke vir ons te skryf.

Dié mooi stelletjie kan ‘n gawe Kersgeskenk uitmaak.

Koop Ware Noord E-boek hier

Koop Ware Noord Papierboek hier

Koop Om weer te droom E-boek hier

Liefste rooikop

30 Monday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

’n Aantreklike vreemdeling wat ’n heldin op ’n openbare plek red van onwelkome aandag, is geensins ’n nuwigheid in romanses nie. Wat wel verras is die feit dat die held in ’n oogknip verander in ’n venynige, befoeterde vyand.

Dewald is die joernalis wat berig oor die bedrog van Eldri ouers, wat nou voortvlugtig is. Boonop weier hy om te glo dat sy geen kennis of aandeel gehad het in hulle sake nie.

Buiten Dewald se onversetlikheid, is daar darem ook ’n paar baie mooi eienskappe wat aandag kry, soos sy ma se onvoorwaardelike aanvaarding van Eldri se onskuld en Eldri se onbaatsugtigheid. Dit ten spyte van die feit dat sy haar lewe lank ontneem is van ouerliefde en geborgenheid. ’n Interessante verloop van sake en vertrouens-bordjies wat uiteindelik verhang word, sorg vir ’n besondere lekkerlees liefdesverhaal wat vier sterre verdien.

As E-boek hier beskikbaar

Koop papierboek by onderstaande skakel:

Sterrekyker

28 Saturday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Tharien het ’n buitengewone stokperdjie wat sy in ’n bedryf omgesit het. Sy maak teleskope en bedryf ook nog ’n privaat kleuterskooltjie. Sy reik letterlik na die sterre sedert sy besluit het om uit die groef van voorspelbaarheid te beweeg. Vreemd dat sy dus so skop teen ’n aantreklike man wat in die Weskusdorpie aanland en klaarblyklik ’n vrygees is, sonder ambisie of vaste planne. Daarteenoor is daar die nuwe prokureur op die dorp, want presies die teenoorgestelde is.

Daar is ’n goeie skeut verkeerde aannames, maar lees gerus self om te sien wié Tharien se hart vinniger laat klop. Die skrywer het ’n heerlike skryfstyl wat die bladsye vinnig laat blaai, en wanneer dinge skeef loop, word die wroeging nie te lank uitgerek nie. Ek wil graag drie en ’n halwe sterre toeken vir hierdie romanse.

Koop papierboek hier

Ook as E-boek beskikbaar

Ompaaie na jou

26 Thursday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Magda Schmidt skryf ‘n oulike proloog oor Karlien se verliefde sestienjarige toestand. Haar buurseun, André Joubert, is selfs helde soos Jack van When calls the heart en Derek Shepherd van Grey’s Anatomy, een voor, maar die verhouding tussen André en haar suster is die slang in die gras. En byna terloops, ontmoet ons die ouboet, Louis.

Jare verloop, en die twee Joubert broers kruis weer paaie met Karlien. Altyd ‘n goeie raaigeleentheid wanneer daar twee potensiële helde is wat met die heldin se hart kan wegloop. Hoewel ons hier te make het met fiksie, is daar baie te leer uit die realiteit wat dit onderlê. Misverstande en vooropgesette idees kan onmeetlike skade berokken aan verhoudings. ‘n Goeie voorbeeld is André se onderliggende renons in enige hulp van sy broer se kant af, omdat hy altyd gevoel het dat hy in Louis skaduwee leef.

‘n Rits verkeerde aannames, waaraan al die partye skuldig is, kelder ook byna die hoop op ‘n moontlike liefdesverhouding. Maar gelukkig wen die liefde mos altyd!

Nog ‘n lekkerlees ene vir die strandsak of ‘n rustige dag tuis wanneer vakansietyd aanbreek.

Koop die papierboek hier:

Ook as E-boek beskikbaar

’n Vreemde tyd…

23 Monday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

“Kom jy saam vir ’n laaste uitstappie?” Dit is Jos, die held in ’n Vreemde tyd vir liefde, aan die woord. Sy uitnodiging aan Isa verplaas my plotseling na die dag voor die algehele inperking aan die einde van Maart 2020. My man het my inderdaad daardie dag op ’n uitstappie geneem omdat ons veertigste huweliksherdenking twee dae ná die aanvang van die inperking was.

Ek moet nog verder lees om uit te vind hoé Jos en Isa se laaste dag van “vryheid” gaan verloop. Ons eie was aangenaam, buiten die feit dat ons nêrens meer ’n goeie restaurant oop kon kry nie.

Ek haal my hoed af vir Marilé Cloete wat in die uitdagende grendeltyd haar kop daarrondom gekry het om vir haar lesers ’n terugblik gee oor hierdie vreemde tyd, uit die oogpunt van twee fiktiewe karakters wat mekaar duidelik beter gaan leer ken. Ek verwag diepgaande emosionele belewenisse, want die skrywer het deeglik navorsing gedoen oor die effek van inperking en noodmaatreëls op, onder andere, mense se geestelike welstand. Ook dankie aan Romanza en Lapa Uitgewers wat hierdie unieke romanse tydig vir ons geskikbaar gemaak het.

Daar lê vir my ’n stuk vermaning daarin: wees bedag op die virus wat nog in die rondte is, sodat ons nie weer die aanvanklike streng maatreëls moet beleef nie.

Wie lees saam met my? Koop die papierboek hier.

Ook as E-boek beskikbaar

Droomvanger

22 Sunday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

Indien die titel van Chanette Paul se nuutste vrystelling bekend klink, is jy nie verkeerd nie. In 1998 is dit gepubliseer onder die titel Wip van die droomvanger.

In ‘n onlangse boekgesprek met Susan Booyens (https://www.youtube.com/watch?v=XcSfhwUOVuU&t=2s) maak die skrywer die stelling dat haar skryf- en taalvaardigheid van daardie tyd, haar (en ek haal aan) “met afgryse vervul het” toe sy vanjaar die boek moes herbesoek in opdrag van Lapa Uitgewers. Ek het die oorspronklike werk nie gelees nie en kan my dus nie uitlaat oor hoedanig die skrywer nou oordryf nie! Ek kan egter met oortuiging sê dat daar van daardie leemtes nou geen sprake is nadat dit herskryf is nie. Inteendeel, die vernuftige skryfstyl wat van Chanette Paul een van ons mees geliefde spanningsverhaalskrywers maak, boei sommer van meets af aan.

Wanneer Jaini op De Beek aankom met die doel om ‘n Middelnederlandse geskrif te vertaal, neem die storie ‘n karakter aan wat herinner aan ‘n tipiese Agatha Christie. ‘n Handvol uiteenlopende karakters, vasgekeer in die mistige Maluti’s, ‘n sneeustorm, ‘n moord, mense wat verdwyn… Maar daar is selfs meer diepte aan die verhaal. Jaini se drome blyk verband te hou met voorgeslagte uit die ou geskrifte wat Geert van den Beek aan haar bemaak. En dan is daar nog die runesteen en San tekeninge, fabels en legendes wat strek oor honderde jare, wat bydra tot die kompleksiteit van die storielyn. Nogtans lees dit gemaklik en boeiend, met ’n snaarstywe spanningslyn. Gelukkig sonder die bloed en derms waaraan ek my effe teëgelees het in die afgelope tyd. Daarom kan ek met gemak ‘n stewige vier sterre toeken en die boek aanbeveel as ‘n moontlike kersgeskenk vanjaar.

Koop die E-boek hier

Papierboek by onderstaande skakel

Die mooiste avontuur-verhale

17 Tuesday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Die mooiste avontuur-verhale is ’n Goue Lint-storiebundel wat elf klassieke avontuurverhale toeganklik maak vir kinders van 6-9 jaar, (en vir grootmense van alles ouderdomme!) Ek het die beknopte weergawes van ou bekendes soos Jules Verne se reise, Om die wêreld in 80 dae, en Reis na die middel van die aarde, Robinson Crusoe en White Fang, om ’n paar te noem, regtig baie geniet.

Die uitsonderlike illustrasies deur ’n reeks baie begaafde kunstenaars, laat die stories voor jou oë lewe kry, en die Afrikaanse vertaling deur Kobus Geldenhuys lees baie gemaklik. Ek het gehou van die lekker groot lettertipe, wat die vir jong lesers maklik gaan maak, en sag gaan wees op voorlesers se oë.

Die bundel is ’n hardeband, ’n rapsie groter as A4, met stewige glansbladsye en die kenmerkende goudgeel boekmerk. Uiteraard sal hierdie duursame boek ’n pragtige geskenk wees wat enige boekversameling sal komplimenteer.

’n Broodjie vir die liefde

17 Tuesday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Comine Verbeuk verloor beide haar ouers, haar selfvertroue en haar inspirasie om te skryf. Om nie te praat van haar geloof in die manlike geslag nie, wanneer sy uitvind dat haar verloofde ’n opportunistiese skelm is. Sy aanvaar ’n pos by ’n skrywer op ’n afgeleë plaas naby George en verdwyn van die radar af.

Die mense van Seekamee aanvaar haar vinnig as deel van die gesin, maar dit is die “Noorman”, oftewel die seerower, die visserman, die kok of welke verkeerde aannames sy maak oor Sven, wat haar aanraak soos nooit tevore nie. ’n Kroasiese legende oor ’n broodjie wat gebak word vir ’n geliefde, weef die skrywer soomloos in die verhaal in, en kies dit ook vir die titel van haar tweede Romanza.

Soos in haar eerste Romanza, het Rina Cilliers se gemaklike skryfstyl en fyn humor my heerlik aan die lees gehou. Wanneer Comine verbrou, voel sy byvoorbeeld “soos ’n hond wat die verkeerde inbreker se been gebyt het.” (bl.177). Sonder oordrewe beeldspraak en byvoeglike naamwoorde, skets die skrywer die omgewing baie duidelik: “In teenstelling met die ruwe rotse teen die berg wat deur die wind verweer is tot skerp punte wat lug-in stoot, spikkel die ronde klippe op hierdie oop strand.”(bl. 161)

Druk hierdie boekie gerus in jou strandsak as jy dalk só ’n stukkie paradys mag besoek in die komende vakansietyd.

Koop die papierboek hier

Ook as E-boek beskikbaar

Die mooiste fabels

17 Tuesday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

“Goue Lint-stories” laat dink my onwillekeurig aan die destydse groot gunsteling van my kinders, Goue Lint, my storie begint, maar hier het ons te make met ’n nuwe reeks wat deur Human en Rousseau uitgegee word. Die eerste een wat ek optel is ’n pragbundel van fabels vir kinders van 6-9 jaar. Fabels synde natuurlik kort verhale met morele waarde, waarin diere gewoonlik die hoofkarakters is.

Die goue lint is letterlik daar: ’n goudgeel glanslint wat dien as plekhouer tussen die pragtig-geillustreerde glansbladsye. Dit is ’n hardeband boek wat hoort op elke boekrak vir kinders, ideaal vir vanjaar se kersgeskenke.

Die klassieke La Fontaine fabels soos byvoorbeeld Die hen wat met die goeie eiers, Die wol en die lam en Die Leeu en die muis is oorvertel deur Stefania Leonardi Hartley en puik vertaal in Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Die rym is heeltemal ongedwonge, asof dit oorspronklik in Afrikaans kon wees.

Elke fabel bied aan die ouer of voorleser gulde geleentheid om die les te bespreek wat daar te lere is uit die storie, soos byvoorbeeld: “Ek’t gedink die skurk is ’n goeie ou, maar ek het die verkeerde een vertrou.” (uit Die Haan, die kat en die muis), of “As jy regtig sterk is, baklei jy nie teen iets wat jy nie kan verander nie; jy pas daarby aan.” (uit Die eik en die riet)

Ek kan glad nie fout vind met hierdie bundel nie, en moet beslis vyf sterre toeken.

Sonroeper

16 Monday Nov 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Vuur, wind, reën, sterre … Wilreza Smit-Theron hou daarvan om die elemente en die natuur by haar storielyne en in die titels van haar romanses te betrek. Die nuutste is Sonroeper, en vertel van Zea, ’n pottebakker wat die geleentheid kry om haar potte in Milaan uit te stal. Wanneer haar pad keer op keer kruis met dié van Antonio Vittoni, moet die leser en karakters probeer besluit of dit toeval is, of deel van ’n groter plan.

’n Verdere kenmerk van hierdie skrywer se werk, en wat ek tewens aangeraak het in my indruk oor Sterredief in 2019, is haar besondere woordvaardigheid en die gebruik van beeldspraak. Ek het egter soms gevoel dat dit in hierdie boek gemaklike geselstrant en gedagtegang effens oorheers het. Minder is mos dikwels meer, ook in skryfstyl.

’n Lekker item vir die kerskouse wat binnekort gevul moet word.

Koop die papierboek hier

Ook as E-boek beskikbaar

← Older posts

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • March 2021
  • February 2021
  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel

 
Loading Comments...
Comment
    ×
    Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
    To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy