• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: February 2020

Splinternuwe plakkerboeke

28 Friday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Toe ek opgradeer het van baba-ouma na ouma van kleuters, het ek spoedig agtergekom dat daar min is wat ‘n kindjie so effektief kan besig hou, as ‘n plakkerboek. Daar het sopas plakkerboeke verskyn in Human & Rousseau se aktiwiteitsreeks, wat my regtig beïndruk om verskeie redes.

Die bladsye is besonder duursaam en verglans sodat die lekker groot plakkers weer en weer verskuif kan word. Die illustrasies is besonder kleurvol en die Afrikaanse vertaling lees lekker. Die lettertipe is geskik vir jong lesers, en vir grootouers wat al moeilik kyk!

Dinosourusse is hoeka gewild onder kinders. Die eienskappe van verskeie tipes word bespreek, kompleet met name en fonetiese uitspraak daarvan. Die kinders kan dan die plakkers uitsoek wat op die bladsy tuishoort.

Dogtertjies gaan gek wees na die boek oor prinsesse. ‘n Dag in die prinses se lewe, van opstaantyd, ontbyt, daaglikse aktiwiteite soos perdry, tot by ’n bal, word met hulp van die herbruikbare plakkers ingevul.

Ek dink hierdie aktiwiteitsboeke is ’n baie oulike belegging in die vreugde van kinders.plakkers

 

Kuier met Chanette

28 Friday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 7 Comments

chanette2Diegene wat my goed ken sal weet dat ek die oorspronklike huishen is. Om dus die pad na Pretoria aan te durf vlak na spitstyd op ’n Donderdagoggend, is besonder ambisieus. Die trekpleister was ’n skywer van formaat, Chanette Paul. Ek het haar nog nooit in lewende lywe gesien nie, hoewel ek al ritse van haar boeke gelees het.

Die Boek echanette1n Koekgeleentheid, aangebied deur Graffiti boeke, is hoeka ’n gewilde bymekaarkomplek van leesentoesiaste en ook skrywers en uitgewers. Ek, Karin Behrens van Lekkerleesboekrak en Didi Potgieter, gewilde Romanzaskrywer, het sommer ’n tweede koffie ingewerk na die boekepraatjie. Welke onderhoud uitstekend hanteer is deur Phyllis Green. Dit was insiggewend om iets wys te word van Chanette se metodiek wanneer sy haar ruimte en karakters lewe gee, en aan haar ryk verbeelding vrye teuls geen om ongelooflike storielyne op te dis. Sy het gebieg dat sy haar navorsing byna meer geniet as die skryf self.

Pure plesier! Die oggend opgesom in twee woorde.

chanette3

Corali, die derde vywervrou

22 Saturday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 9 Comments

Terwyl ’n reeks as ’n reël kronologies verloop, volg Chanette Paul ’n gans ander aanslag met die Vywervrou-trilogie. In die eerste boek ontmoet ons vir Lira en ’n omvattende kring van randkarakters, onder andere vir Mirre. In die tweede boek is Mirre die fokaliserende karakter en oorvleuel haar storie met die gebeure waarvan die leser reeds kennis dra vanuit Lira se oogpunt. Op ’n punt in tyd gaan die storie verder met nuwe gebeure.

Van Corali se agtergrond kom die leser min agter in die eerste twee boeke. Haar storie begin in die derde boek vóór die tyd wat Lira op Vywerbaai aankom en wel in Engeland. Dramatiese gebeure dáár, bring haar terug na Vywerbaai. Uiteraard oorvleuel die stories weer, maar nou vanuit Corali se oogpunt, en die verdere verloop van die storie is uiters boeiend en vindingryk. Hoor en sien kon gisteraand vergaan, want ek moes opsluit die opknoping van die Cie-Cie Witherspoonsage klaarmaak.

Die skrywer hanteer die komplekse saamweef van die drie storielyne na my mening uitstekend. Ek het nooit die gevoel gekry dat gebeure onnodig herhaal word nie. Al die karakters word soos ou kennisse en hulle is konsekwent in hulle optrede. Die wêreld- en plaaslike gebeure wat soomloos by die storie ingewerk is, maak dit baie realisties. Deurlopend is daar die hoopvolle tema van tweede kanse wat nie verspeel mag word nie.

Daar is vir my nogal ‘n ooreenkoms tussen Boeta en Thomas. Beide is deeglik bewus van die foute wat hulle begaan het en soek nie verskoning vir hulself nie. So ook Corali. Sy suip te veel wyn, na haar eie mening, om die “rande en kante van die insig in wie sy eintlik is te versag.” (bl. 270) Hoewel sy haarself beskou as ’n vieslike mens, vermoed ek dat sy baie lesers se gunsteling vywervrou mag wees. Ek is nog nie gereed vir afskeid neem van Vywerbaai en sy mense nie. Bring jou kredietkaart en kom na die bekendstelling op 27 Februarie in Pretoria. Ek gaan beslis daar wees.corali

Ek is genoeg…

21 Friday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Ek soek vanoggend op YouTube na ’n nommer wat ek met iemand wil deel, en laat toe die outomatiese speellys sy gang gaan. Groot is my verwondering toe twee liede na mekaar dieselfde boodskap het: jy is genoeg!

1 Joh 4 vers 4: “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

Dalk is daar vandag iemand wat bietjie geestelike bemoediging nodig het; dan is hierdie spesiaal vir jou!

 

 

Herfswind, ’n inspirasieverhaal

17 Monday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 2 Comments

In 2018 verskyn Lang pad na liefde, deur Cynthia Robertson. Dit was die eerste Romanza wat Lapa Uitgewers se “Inspirasieverhaal” stempel gedra het. Ek kan nie onthou dat daar sederdien weer een verskyn het nie. Nou het ervare en geliefde skrywer, Madelie Human, die sprong gewaag om die liefdesverhaal en geestelike fiksie te verweef, en met groot sukses. Ek skroom nie om hierdie romanse te skaar by goeie geestelike fiksie wat ek al gelees het nie.

Die kwessies waarmee die karakters worstel, is realisties en eerlik. Daar is byvoorbeeld die eng en wettiese predikant wat vir jare in die gemeente dien en niemand waag om hom in enige opsig te bevraagteken nie. Ek is telkens tot introspeksie gedaag, onder andere oor gebherfswinded: bid ek om my sin te kry of bid ek om die Here se wil te laat geskied in my lewe? Dit is die vraag waarmee Mari gekonfronteer word (Bl. 89), en waarop sy nie dadelik ’n antwoord het nie. Haar diepgewortelde vooroordele en bitterheid toon krake, onder die wyse leiding van die nuwe leraar op die dorp; een wat bely dat hy al die antwoorde het nie, maar ’n Wyse Raadgewer het.

Die skrywer raak heelparty geestelike gesprekspunte aan, soos vergifnis, geloofsgroei, en swaarkry. Ek kan nie fout vind met haar aanbieding van die onderwerpe nie. Dit getuig van kennis en goeie insig, sonder om prekerig oor te kom.

Dankie, Lapa, dat julle aan skrywers wat so geroepe voel, hierdie geleentheid gee om te skryf vanuit ’n Christelike oogpunt, sonder dat hulle ’n ander uitgewer hoef te nader. Ek wag gretig op ’n volgende aflewering in die Groeneweide-sage.

Wilde jasmyn vir Steyn

14 Friday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Steyn Coetzee is die hoofkarakter in Rosita Oberholster se derde SuperRomanza oor die inwoners van die drie plase in Franschhoek se wêreld. Dit volg op Rose vir Roselle en Lelies vir Louisa. As my om-te-lees-hoop nie so hoog was nie, het ek die vorige twee eers herlees, want die karakters en die plot is kompleks. Die lys van karakters voorin help gelukkig om die geheue te verfris.

Die verhaal skop af waar Steyn nie op ’n goeie plek in haar lewe is nie. Sy is alleen, sku vir mense, ernstig depressief en het pottebakkersblokkasie, soos sy dink aan haar onvermoë om skeppend te wees. Namate die storielyn ontvou, en die spanningslyn opbou, kom die leser agter wat in haar lewe gebeur het wat haar op twee en veertig in hierdie jasmyntoestand het.

Daar is baie elemente wat dit ’n uitsonderlike storie maak: vriendskap, verraad, gruwelike wandade, verkragting, moord, poging tot selfdood, vergelding, en natuurlik die liefde. Bygesê, die liefde moes effe terugstaan sodat die familiedramas eers na behore kon verloop. Dit was alles behalwe die standaard meisie-ontmoet-held-en-tadaa… Die hoof- en newekarakters is goed ontwikkel, sodat ek as leser byna die gevoel gekry het dat ek hulle al iewers ontmoet het. Sophia was vir my ’n uitstaande karakter met haar onopgesmukte eerlikheid. Haar dikwels kru taalgebruik is ongeforseerd en in lyn met wie sy is. Voeg daarby die geslaagde karakterisering die uitsonderlike styl van die skrywer, en jy het ’n boek wat jy nie sommer graag wil neersit nie.

Vier jy Valentynsdag?

14 Friday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 3 Comments

In ons huwelik is Valentynsdag nie regtig ’n groot gebeurtenis nie. Die dag gaan maar meestal heel gewoon by ons verby. Tog bly die romantiese atmosfeer aansteeklik, en betrap ek myself dat ek by die keuse van ’n volgende leesding, juis ’n Romanza nadertrek op hierdie dag van liefde.

Deurwinterde romanseskrywer, Madelie Human, waag vir die eerste maal haar hand aan ’n inspirasieverhaal. In Herfswind ontmoet ons virherfswind Mari Pelser, pastoriedogter en orrelis van die gemeente. Haar ouers is onlangs oorlede, en binne die eerste hoofstuk maak sy sterk uitsprake oor “die God wat hulle aanbid het” (bl.9). Haar belewenis van die Here is gevorm deur haar pa se eng opvoedingstyl en die Bybeltekste waarmee sy gestraf is as sy nie na sy wense opgetree het nie.

Haar pa se opvolger, jonk, aantreklik en onervare, besef dat hy sy hande gaan vol hê om haar te oortuig dat God haar nie probeer straf nie, en daag haar uit om haarself te vergewe vir haar bitterheid.

Ek is gretig om te sien hoe die verhaal gaan ontvou, en ek sal mettertyd kom rapporteer.

Intussen gaan ek myself op hier dag van liefde ook besig hou met ’n hekeluitdaging van die Anja Trooskombersebediening. Skrywer, Moryn Hanzen, het vir ons van haar lieflike boeke geskenk om ons dames aan te moedig om blokkies met harte te hekel.

Hoe vier jy vandag die liefde?

 

Vywervrou #2, Mirre

11 Tuesday Feb 2020

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Ek is effens mosterd na die maal. Het sopas die tweede in die Vywervrou-trilogie klaargemaak, terwyl nommer drie reeds vandeesmaand verskyn. Die pluspunt is dat ek nou spoedig die detail van Corali se geskiedenis kan beleef. Daar was kritiek uitgespreek dat Mirre ’n herhaling is van die gebeure in Lira, maar ek het dit baie positief ervaar. Dit het my geheue verfris en omdat die klem verskuif het, het ek dit nie vervelend gevind nie.

Soos met Lira, vorder mens verrassend vinnig deur die bykans seshonderd bladsye. Ek hou daarvan dat die hoofstukke onderverdeel word in datums en karakters. Dit laat die baie komplekse storielyn gemaklik vloei. Die hoofkarakter word uiteraard deeglik uitgebou, maar ook die karakters van Boeta en Marilyn is uitstekend ontwikkel en voel dit asof mens letterlik ’n pad saam met hulle geloop het.

Boeta is in die eerste plek pynlik eerlik met homself oor sy foute en tekortkominge, en natuurlik van altyd af lief vir Mirre. Hy is ’n lojale karakter wat probeer om die regte ding te doen, al stamp hy homself bloedneus teen omstandighede wat hy nie kan beheer nie. Veral sy liefde vir sy kinders beïndruk, want dit is vir hom ononderhandelbaar.

Daar is baie wysheid en duur lewenslesse verskuil agter Marilyn se grys dreadlocks en boheemse voorkoms. Agter haar kru taal en abrupte aanslag, skuil empatie wat sy nie altyd kies om te wys nie. Haar stelling op bl. 194 is vir my tekenend van haar geaardheid: “Daar is net ’n graadverskil tussen kwesbaarheid en weerloosheid, en weerloos weier ek om te wees.”

Daar is ontstellende tonele van geweld en ek was byna ontmoedig deur die oënskynlike onmoontlikheid van die situasie waarin Mirre geplaas word deur haar man, die ongebalanseerde, André Dreyer. Maar wat bly vassteek by my, is die waarde van ware vriendskap. Die lewens van die Vywervroue is mos onlosmaaklik verweef. Daarom sien ek uit daarna om meer te leer van Corali. Ook om te sien hoe Mirre en Boeta, en Fynn en Lira se verhale verder verloop. mirre

 

 

 

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Create a free website or blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy