• About

penpunt

~ Waar die hart van vol is …

penpunt

Monthly Archives: April 2013

Spoke loop op Dwarskersbos

30 Tuesday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 6 Comments

Nog ietsie oor Petru-Nell se 2012 skryfskool op Dwarskersbos  …

Bo en behalwe die betrokke daaglikse koevert met storievonke, waarvan ek al vroeër vertel het, het Trudy ook elke dag ’n ekstra opdrag gegee. Een daarvan was om ’n spookstorie te skryf.

Tydens die volgende dag se besprekingsessie, het daar ’n paar interessante spoke te voorskyn gekom, maar dit was bepaald Elsabé wat die kroon gedra het! Toe haar Weskushumor en haar rooi gedaante mekaar ontmoet, was dit ’n spook van ’n ander kleur!

Vandag het ek die Vrouekeur van 3 Mei gaan koop, en daar pryk sy: Die Rooi gedaante van Dwarskersbos!Image

Ek het my huis toe gehaas, en so onder die kou van my broodjie deur, opnuut haar storie geniet. Daar is een betrokke reël in die verhaal, wat my telkens laat skaterlag. Ek sal graag wil hoor of daar ander is wat dieselfde sin raaklees as wat vir my so komies is. Kom gerus met die kommentare – dit sal interessant wees.

Geluk weereens aan Elsabé met haar eerste gepubliseerde kortverhaal.

Afgehandel …

29 Monday Apr 2013

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ 1 Comment

Tags

gemeente, kerk, leraar

Iewers moet ’n mens seker maar ’n streep trek – jy moet jou kop regkry, ’n deur agter jou toemaak, fokus verskuif, Dit klink eenvoudig genoeg, maar probeer dit uitvoer, dan is dit ’n toets wat mens nie met die eerste goeie voorneme slaag nie.

Gister is ons voormalige leraar bevestig in sy nuwe gemeente. As visie-voorsitter van ons kerkraad, was dit Willie se voorreg, maar ook sy las, om die gesin as’t ware aan die nuwe gemeente te oorhandig. Ek was baie trots op my man vir die wyse waarop hy dit hanteer het. Gelukkig het ons ons trane half opgebruik by die vorige week se afskeid in ons gemeente, en kon hy homself darem gestand doen ten aanskoue van die vreemde mense.

Dit was ’n pragtige en gewyde seremonie, deurspek met die erns waarmee so ’n amp na reg bejeën word. Vele mooi woorde en seënwense is uitgespreek. Ds Johan se intreeboodskap was kort, maar kragtig, opreg.

Dus, skouer aan die wiel, nie meer omkyk nie – maar ai, ons gaan hulle mis …

’n Lekker uitdaging

22 Monday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 3 Comments

Ter viering van Wêreldboekedag môre, het Cum Uitgewers vandag ’n uitdaging gestel: Lees hoofstuk 1 van enige van die boeke op hulle webwerf, en skryf jou eie slot in 500 woorde.

Ek het Die geheim deur Beverly Lewis gekies. Dit is die eerste boek in ’n reeks en daarom is ’n “cliffhanger” slot in orde, want 500 woorde is maar min om sin te maak, spanning te skep en tot ‘n einde te kom.

Die betrokke eerste hoofstuk vertel van ’n Amish gesin, klaarblyklike probleme in die huwelik, 4 kinders tussen die ouderdomme 22 tot 15, die ma wat ’n uitgerekte rouproses het na haar suster se dood.

My slot sien soos volg daar uit:  (verskoning vir die oop reël wat die blog tussen die hoofstukke invoeg – my skryftutors sal niks daarvan hou nie!)

Judah klim stadig uit die motor en maak die deur afgemete toe. Hy staan vir ’n wyle huiwerend in die straat voor die helder pienk dubbelverdieping huis.

Twee van die houtvensters aan die straatkant  is halfpad oopgeskuif en die blinders opgetrek. Blinders met fyn blompatrone versluier die res van die vensters. Aan die sykant van die smal, regop huisie, is ’n witgeverfde houtbalkon sigbaar. ’n Kort wit houtheining aan die voorkant, rond die idilliese prentjie af.

Vanwaar hy vasgesteek het langs die motor, span hy sy oë in om ’n kleinerige naambordjie langs die voordeur te lees: “Hier woon liefde”.

 Judah sluk swaar aan die emosie wat sy keel laat saamtrek en dreig om hom te ontspoor. Hoekom het hy ingestem om te kom? Wat gaan hy vir haar sê na al die jare? Met die grootste wilsinspanning begin hy die straat oorsteek.

’n Pienk huis! Hy skud sy kop en ’n effense glimlag pluk aan sy mondhoeke ten spyte van sy onstuimige gemoedstoestand.  Beslis Grace se handewerk. Sy het altyd sin gehad in helder kleure en mooi lappe. Dit was deel van haar rebellie teen die Ou Orde. Sy was nie tevrede om ’n tuiste te skep vir haar pa en haar familie nie. Sy wou ’n kunswinkel gaan open in Lancaster. Haar koppigheid het haar verbanning uit die kerk en die gemeenskap beteken.

Die kraak van die hekkie verbreek Judah se gedagtegang. Hy stap tot by die voordeur en huiwer, kyk om na Grace in die motor. Sy beduie driftig dat hy moet klop. Die geluid van die klopper, dan voetstappe op ’n houtvloer. Die deur swaai oop en Judah kyk in die melkblou oë van Lettie Byler. Hy sien die skrik oor haar gelaat skuif, sekondes voordat trane in haar oopgesperde oë poel en teen haar wange begin afloop.

 “Middag, Lettie, mag ek binnekom?”

Lettie skud haar kop stadig van kant tot kant en steek haar arms afkerend voor haar uit. “Jy mag nie, Judah, ek is verban. Gaan weg, jy mag nie met my praat nie.” Sy begin die deur toestoot, maar Judah keer.

“Lettie, wag. Ek sal verduidelik. Gee my asseblief ’n kans,”

“Hoekom is jy hier, Judah? Jy weet tog dat jy nie met my en Grace kan kontak maak sonder om self verban te word nie.”

“Ek het vandag Bird-in-Hand finaal verlaat nadat ek die volle waarheid oor Naomi aan die biskop gaan vertel het.”

Lettie slaan haar hande oor haar mond om ’n gil te smoor. Judah keer net betyds as sy inmekaarsak. Hy stoot die deur toe en neem haar na die naaste rusbank.

“Vyf jaar gelede wou jy weet of ek ongelukkig was met jou. Ek kom nou bely dat ek arrogant en ongevoelig was. En ja, ongelukkig. Ek het toegelaat dat jy die prys betaal vir my dwaling. Ek kan nie verwag dat jy my vergewe nie, maar ek is bitter jammer, Lettie.”

Wanneer Lettie se oë syne vind, sien hy geen veroordeling nie.

“Ek vergewe jou, Judah.”

                                                                                                499 Woorde

Maak my skoon lus vir storie skryf!

Tot volgende keer…

’n Dilemma

20 Saturday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 1 Comment

In my relatiewe kort blootstelling aan skryfdinge, het ek meer as een kursus gevolg, ‘n slypskool bygewoon waar ‘n bekende skrywer opgetree het, ‘n geestelike fiksie werkswinkel ook bygewoon. Daar het nie alleen ‘n skrywer nie, maar ook ‘n uitgewer die woord gevoer.

Een stukkie raad wat soos die spreekwoordelike goue draad deur al die onderwysings geloop het, was lees, lees, lees. Volgens almal wat weet, is dit ‘n absolute voorvereiste van enige sukses met jou pennevrug.

Ek het, ewe gehoorsaam, my leesgewoontes uitgebrei om verder te reik as Engelse geestelike fiksie. Ek het van ons Afrikaanse skrywers se werk begin lees, sekulêre werk en die beperkte aanbieding in die geestelike fiksie genre. Moet bieg dat ek nog nie my tande mooi in die swaar liturêre werke gekry het nie. Maar Rome is mos nie in ‘n dag gebou nie!

Dit bring my egter by ‘n dilemma: om te skryf, moet ek lees. As ek lees, het ek nie tyd om te skryf nie. Lees of skryf, skryf of lees?

Ek het die afgelope twee dae gepoog om die boek wat ek al einde Maart aangevat het, ‘n knou te gee, want ek verloor aanhoudend tred met die groot klomp karakters in die boek, juis omdat ek dit so hortend lees. Die boek staan weliswaar nou einde se kant toe, nog nie heeltemal daar nie, maar ek vorder. Aan die ander hand was die gevolg dat ek vir twee dae nie by my blog uitgekom het nie!

Dalk is die groot vraag nie “Lees of skryf” nie, dis dalk eerder: waar kry ek ‘n paar ekstra ure vir die dag!

Nou het ek alles gehoor …

17 Wednesday Apr 2013

Posted by amandacl in Mengelmoes

≈ Leave a comment

Word ek gekonfronteer met ’n snaaksigheid, hetsy goed of minder goed, is my reaksie dikwels: “Nou het ek alles gehoor” of “Nou het ek alles gesien”. Sekerlik ’n ietwat onsinnige uitlating, as ek nou mooi daaroor dink, want dit hou nie tred met die mens se kreatiwiteit en onuitblusbare soeke na verandering nie.

Maar vanwaar hierdie skielike bedink en bevraagteken? Eenvoudig omdat ’n klein insident vanmiddag my opnuut laat glo het dat dít nou bepaald “alles” moet wees.

Ek het my grieperigheid net genoeg getrotseer om ’n paar dringende sake buite die huis te gaan doen, onder andere om vir wederhelf Zam-Buk salf te gaan koop; die lekker groot blik waarmee hy sy hakke beskerm teen krake en droogheid. Die eerste supermark had toe niks op die rak nie, en ons versit na die volgende een, nader aan die huis. Daar gekom, pryk ’n leë dosie stoksielig alleen op die rak waar die Zam-Buk moet staan.

My eerste vermoede was dat iemand die inhoud gegaps het, maar dis darem vergesog – of is dit? Vra toe vir ’n rakpakker daar naby, en word ewe kalm na die sigarettetoonbank gestuur, waar die inhoud gebêre word, buite bereik van gretige vingers. Standaard prosedure!

Nou het ek alles gesien!

Hoe jammerlik is die mensdom in hierdie land se standaarde nie. Hoeveel geld spandeer besighede nie om hulle voorraad en eiendom te beskerm nie? Hoeveel investeer huiseienaars in sekuriteit? Maar telkens staan ons verstom oor die vindingrykheid van die slenters wat bedink word om hande op iemand anders se goed te kry. Staan ons geskok oor die blatantheid waarmee eiendom betree word. Besef ons dat daar geen plan van aksie is nie.

Wat my noop om te erken dat ek nog glad nie alles gesien of gehoor het nie.

’n Storie in ’n koevert

16 Tuesday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ Leave a comment

Tags

sintuie, skryf, voel

Vroegoggend tydens die skryfkursus op Dwarskersbos, is daar koeverte uitgedeel – sonder name op – nie in ‘n bepaalde volgorde nie – sommer net uitgedeel. Byna soos ‘n gelukspakkie. Uitruil mag ons nie. Wat jy kry, is jou lot, een van jou skryfopdragte vir bespreking die volgende dag.

Die reaksies by die oopmaak van die koeverte was kostelik, want dit was tegelyk opwindend, interessant en skrikwekkend. Elke dag iets anders. Elkeen s’n het verskil. Ek herinner my aan ‘n oggend toe die koeverte fisiese voorwerpe ingehad het. Iemand het ‘n knoop gekry, ‘n ander een ‘n groen plastiese gogga van ‘n aard.

Een oggend het Trudy tyd afgestaan aan die belangrikheid daarvan om jou sintuie in te span in jou skryfwerk. Nadat sy die teorie behandel het, het sy ons afmarsjeer strand toe, gewapen met pen en notaboek. ImageDaar aangekom, moes ons kyk, ruik, voel, en natuurlik neerskryf. Soveel moontlik sintuiglik waarneem, van die winterson op ons vel, tot die reuk van die uitgespoelde seewiere, die geluid van die see, die vorms van die wolke, die tekstuur van die sand … elkeen besig met haar eie interpretasie van die ruimte rondom ons. Image

Die befaamde koeverte het daardie dag soos volg daar uit gesien: ‘n reuk, ‘n geluid, drie name van karakters, ‘n plek waar die verhaal moes afspeel, en ‘n voorwerp van konflik. En net daar is my eerste gepubliseerde kortverhaal gebore!

Stink voete, prrr prrr prrr, Petronella, Willempie en Mangels, en ‘n hoenderhaan in ‘n kusdorp … Nie geklink na storievonke vir een my gewone stories wat aljimmers neig na die ernstige kant nie. Ek moes vir die eerste maal my hand aan humor waag. Teen my verwagtinge in, het die storie heerlik gevlot toe dit eers koers kry en het dit byval gevind by my maters in verdrukking!

Dit het my gemotiveer om, terug by die huis, die storie uit te brei, die kusdorp te verruil vir ‘n klein plattelandse dorpie, te poets en te skaaf, en die gewraakte “send” knoppie te druk. Dit dan hoe Die losprys sy oorsprong gehad het in ‘n koevert.

Kreatief op Dwarskersbos!

15 Monday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 3 Comments

Dis hartjie-van-die-winter-koud op Dwarskersbos, maar in die Jubel en Juig gastehuis stoom dit van kreatiwiteit. Trudy Erasmus, van Petru-Nell Skryfbesigheid, bied ’n kortverhaalkursus aan vir ses dames. Van oral oor het ons saamgekom en rondom ons skootrekenaars vriende geword.Dwarskersbos Skryfskool Julie 2012 031

Soggens is daar teorie aangebied; kommas, punte, aanhalingstekens, skepping van karakters, dialoog, vertellerperspektief, toneelinkleding … Na middagete was dit tyd om mekaar se werk te bespreek. Mening lug oor ander se skryfwerk was aanvanklik baie ongemaklik, maar algaande het ons vrymoedigheid toegeneem.

Dan die harde werk: kamer toe om twee kortverhale te skryf voordat die son môre opkom! Ek het myself menige nagte oorgegee aan sjokolade en selfbejammering, ’n paar maal kort duskant volslae paniek gedraai as ’n storie aan die verkeerde kant van middernag nog steeds nie wil vlot nie.                                                                                                                                    Aan die einde van die week het elkeen tien kortverhale gehad om te gaan poets by die huis. En ’nDwarskersbos Skryfskool Julie 2012 005 handvol nuwe vriendinne en kosbare herinneringe.

Hoekom skryf ek?

14 Sunday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 6 Comments

Dit sal nie eerlik wees indien ek sou sê dat ek van kleintyd af ‘n skrywersdroom gehad het nie. Ek het wel op ‘n dag my hand aan ‘n storietjie gewaag, onder aanstigting van ‘n oom van my. Ek is bevrees dat ek nie verder as ‘n hoofstuk of twee gevorder het nie. Hierdie einste storievonk het egter onlangs vorm gekry in ‘n kortverhaal, ‘n Blom wat stom is, wat ‘n weninskrywing was in ‘n kortverhaalwedstryd.

Hoe het die skrywery dan begin?

Die Vriende van die Kempton Park biblioteke het in 2011 ‘n hernude poging aangewend om ‘n skrywersforum te stig. Ek het op uitnodiging ‘n byeenkoms bygewoon en ‘n skryfopdrag wat ons daar gekry het, het die spreekwoordelike bal aan die rol gesit. Kort na my eerste A4-poging, wat goed ontvang is deur die lede, het ek Skryfgeheime se kursus in algemene kreatiewe skryfkuns, onder leiding van Janie Oosthuysen, aangepak.

Oor die loop van ‘n jaar, het ek naels gekou en tande gekners wanneer ek ‘n opdrag moes instuur. Die kommentare was nie altyd noodwendig wat ek wou hoor nie, maar dat ek baie geleer het oor die skryfkuns, is verseker!

Die prys vir die kompetisie was ‘n weeklange skryfskool in die pragtige Dwarskersbos aan die Weskus. Wat ‘n voorreg was dit nie. Saam met vyf ander dames om ‘n tafel in die lieflike gastehuis, JubelnJuig, geswoeg onder leiding van Trudy Erasmus van Die Skryfbesigheid. Geskryf tot laat in die nag, soms aan onderwerpe wat heeltemal buite my gemaksone gelê het.

Ek sal nog vertel van stories wat daar in Dwarskersbos gebore is. Vir nou wil ek volstaan met ‘n stelling wat vreemd mag klink: ek is nie seker hoekom ek skryf nie!

Ek het nie ‘n storie wat ek ten alle koste moet skryf nie. Ek het nie storietjies op klein stukkies papier geskryf as kind nie. Ek was nie eers besonder lief vir opstelle nie. Dit is alles redes wat Susan Coetzer onlangs by ‘n werkswinkel aangevoer het, wat daarop kan dui dat jy van skrywersformaat is. Ek is nog nie oortuig dat ek die nodige dissipline het om ‘n roman te skryf nie, of dat ek skryffiks en liggaamlik fiks genoeg is om dit aan te durf nie.Barbier

Ek weet net dat ek baie daarvan hou om ‘n storie te voel vorm aanneem; dat ek hou van die uitdaging wat ‘n kortverhaal bied ten opsigte van woordekonomie. Ek hou daarvan om die eindproduk te lees, en vir die Here dankie te sê vir die vermoë om iets te skep.

En dis verskriklik lekker om ‘n verhaal in ‘n tydskrif te sien, en te weet dis jou storie!

Deur my trane …

13 Saturday Apr 2013

Posted by amandacl in Skryfgoed

≈ 1 Comment

Tags

skryf, skrywer

Ek maak my skootrekenaar oop in ‘n halfhartige poging om my kraaknuwe voorneme om gereeld te skryf, gestand te doen. Ek herinner my aan Janie Oosthuysen se woorde dat skryf ‘n ambag is, waarin mens jouself gereeld moet oefen indien jy enige hoop het op sukses.

Maar vanwaar die trane? Genadiglik is daar geen vars krisisse op hand nie – geen nuwe rooftogte, inbrake of ander onaangenaamhede nie. Weliswaar groot verlang na my kinders en my kleindogter in die Kaap, maar dit is ook nie die bron van die trane nie. Dit is ook nie die feit dat ons gemeente binne ‘n week herderloos gaan wees nie. Selfs nie die werkspanning waaronder my wederhelf gebuk gaan nie.

Dit is eenvoudig: ‘n reuse verkoue wat my oogkaste omskep in koorsige traanfabrieke! Ek besef, twee of drie paragrawe verder, dat ek my skrywe vinnig moet skryf, want hierdie oë wil nie kyk nie.

Die nag lê soos ‘n uitdaging voor my, want laasnag het ‘n ongemaklike kwota van afwisselende koorsigheid en koue gehad, saam met ‘n lastige hoes. Ongelukkig hou dit my ou man ook wakker as ek so sukkel, en dit laat my baie skuldig voel. Nie dat ek dit nou so sou kies of aspris sou doen nie!

Hierdie poging sal nie juis in die anale opgaan as ‘n meesterskryfstuk nie, maar skryf het ek geskryf, so deur my trane.

Vlees van my vlees …

12 Friday Apr 2013

Posted by amandacl in Gesinslewe

≈ 4 Comments

Tags

dogter, kleinkind

13 Maart 2013 was ’n dag soos geen ander wat ek nog beleef het in my jare so skuins duskant sestig nie.

Op hierdie dag het ek ’n bondeltjie in my arms geneem wat onmiddelik tot diep in my hart gekruip het, want sy is vlees van my vlees, die eerste kleinkind – die babadogter van my eie “babatjie” wat op daardie dag ook moeder geword het.

Ek het lank geneem om hierdie gedagtes te probeer neerpen, want hoe verwoord ’n mens so ’n grootse gebeurtenis? Die allesoorheersende emosie is sekerlik dankbaarheid. Vir ’n perfekgeskape klein mensie, en vir die feit dat sy ’n pa en ’n ma het wat haar gaan koester en grootmaak in die vrese van die Here. Vir twee oumas wat kan kloek, ’n oupa wat hom aan haar verwonder, daarby nog ’n oupagrootjie en ’n oumagrootjie! Sy het ’n rits ooms en ‘n tannie en ek het geweet, terwyl ek in die pasgebore gesiggie gekyk het, dat Lhente-Mari altyd ’n oorvloed van liefde gaan ontvang.

Maar toe ek en my man daardie aand groot-oog in die bed klim, was dit nie die piepklein lyfie en fyn gesiggie van ons kleindogter wat ons gedagtes oorheers het nie. Dit was kommer oor ons dogter; oor die stryd wat sy in daardie dag gehad het. ‘n Skokreaksie op die epidurale verdowing, die pynmedikasie wat haar sleg aangetas het. Haar teleurstelling omdat ’n keisersneegeboorte onvermydelik was.

Dit was genade toe die slaap uiteindelik die stryd teen ons benoude gedagtes gewen het. Nog groter genade om die volgende dag te sien dat ons dogter kort duskant depressie weggedraai het, en op pad is na herstel.Image

← Older posts

Subscribe

  • Entries (RSS)
  • Comments (RSS)

Archives

  • January 2021
  • December 2020
  • November 2020
  • October 2020
  • September 2020
  • August 2020
  • July 2020
  • June 2020
  • May 2020
  • April 2020
  • March 2020
  • February 2020
  • January 2020
  • December 2019
  • November 2019
  • October 2019
  • September 2019
  • August 2019
  • July 2019
  • June 2019
  • May 2019
  • April 2019
  • March 2019
  • February 2019
  • January 2019
  • December 2018
  • November 2018
  • October 2018
  • September 2018
  • August 2018
  • July 2018
  • June 2018
  • May 2018
  • April 2018
  • March 2018
  • February 2018
  • January 2018
  • November 2017
  • October 2017
  • September 2017
  • August 2017
  • July 2017
  • June 2017
  • May 2017
  • April 2017
  • March 2017
  • February 2017
  • January 2017
  • December 2016
  • November 2016
  • April 2016
  • November 2015
  • February 2015
  • January 2015
  • July 2014
  • May 2014
  • February 2014
  • January 2014
  • September 2013
  • August 2013
  • July 2013
  • June 2013
  • May 2013
  • April 2013

Categories

  • Gesinslewe
  • Mengelmoes
  • Skryfgoed

Meta

  • Register
  • Log in

Blog at WordPress.com.

Cancel
Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy