Die meerderheid van lesers deel die sentiment: te veel boeke, te min tyd. Gevolglik bly sekere skrywers ongelukkig in die slag. Só het Rudie van Rensburg se spanningsverhale by my verbygegaan en het ek hom as skrywer eers ontdek met sy humoristiese reeks oor die nimlike Hans van Kraaienburg. Juis daarom het ek gekies om aan hom ‘n paar vrae te stel vir my blog, In gesprek met, om iets te leer oor hierdie uiters suksesvolle skrywer en die boeke wat hom gereeld op topverkoperlyste laat kuier.

V: Rudie, vertel ons asseblief kortliks hoe jou loopbaan verloop het voordat jy begin skryf het?

A:  Ek het aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein gegradueer en kort daarna in 1977 my loopbaan as joernalis by die Volksblad in Bloemfontein begin. Vir die daaropvolgende tien jaar was ek by verskeie publikasies betrokke en het ook ’n draai by die Vrystaatse Universiteit se skakelburo as skakelbeampte gemaak. Aan die einde van 1987 het ek na Kaapstad verhuis, waar ek vir ’n rapsie meer as twintig jaar by Sanlam se hoofkantoor in onder meer die reklame- en korporatiewe kommunikasie-afdelings gewerk het. Aan die begin van 2009 het ek ’n pakket by die maatskappy geneem om my eie potjie te krap.

V: Die immer-gewilde vraag: skryf jy voltyds? En waar het dit begin?

A: Ek is in die gelukkige posisie om voltyds te kan skryf, wat ’n wonderlike voorreg is. Ek het ná my Sanlam-loopbaan vir twee, drie jaar voltyds geskilder (wat my ander groot passie is). As oud-joernalis het ek wel altyd ’n boek in my agterkop gehad. Tussendeur my skilderwerk het ek toe aan Slagyster, my debuutboek, gewerk. Toe dié manuskrip deur die uitgewer aanvaar word, het ek die kwaste eers opsy geskuif om my volle aandag aan my skryfwerk te gee. My besluit om minstens een boek ’n jaar te publiseer, het meegebring dat ek deesdae vir geen ander werk as skryf tyd het nie. 

V: Jy publiseer by Queillerie, ‘n druknaam van NB Uitgewers. As ek reg tel, sien ek soveel as 15 boeke, sedert Augustus 2013, een waarvan ‘n vertaling is van Pirana. Jy het jouself gevestig in die spanningverhaalmark met jou reeks oor Kassie Kasselman. Waar het jy die inspirasie vandaan gehaal om hierdie karakter te skep?

A: Sedert 2013 het ek 11 spanningsromans en 3 komiese romans geskryf. Ek was wel ook die samesteller van ’n bundel spanningskortverhale, waaraan ’n hele klompie skrywers meegedoen het (sal dit darem nie as een van my boeke tel nie). Ek het nie regtig van iewers inspirasie gekry om Kassie te skep nie. Ek het destyds net hard gespook om Kassie nie een van die stereotipe speurhelde te maak nie. Daarom dat hy nie regtig aantreklik is vir die teenoorgestelde geslag nie, ’n effense nerd is, aan Crème Soda (en nie sterk drank) verslaaf is, en ’n fanatiese posseëlversamelaar en geesdriftige boeremusiekliefhebber is – eienskappe wat nie sommer by ander speurhelde aangetref word nie.

V: Het jy aanvanklik voorsien dat daar soveel Kassie-avonture sou wees?

A: Ek het van die begin af oorweeg om Kassie die deurlopende karakter in my boeke te maak, maar was aanvanklik onseker of lesers regtig aanklank by hom gaan vind. Die baie positiewe terugvoering van lesers oor Kassie in veral my tweede boek, Kopskoot, het my toe finaal laat besluit om met hom te volhard.

V: Jou nuutste spanningsverhaal, Monster, is nou beskikbaar. Vertel asb kortliks iets daaroor. Haak dit aan by die Kassie Kasselmanreeks?

A: Monster volg op my boek, Vloek (2019), waar Carl Bester die hoofkarakter is. Bester was wel ’n belangrike karakter in my debuutboek, Slagyster, maar het nooit weer tot en met Vloek se verskyning in my boeke gefigureer nie.  My Bester-boeke dien in ’n mate as afwisseling vir my Kassie-avonture en het ’n meer internasionale geur.  In Monster speel Kassie byvoorbeeld glad nie ’n rol nie. Met Monster het ek geëksperimenteer met iets wat ek nog nie voorheen gedoen het nie: Die verhaal is ’n  gefiksionaliseerde weergawe van sekere ware gebeure in 2018. Dit begin by ’n ware gebeurtenis, die moord op ’n wêreldbekende Saoediese joernalis in sy land se konsulaat in Istanbul, en kring dan uit na Kaapstad, waar Saoediese agente en ’n siellose mesmoordenaar maar twee van die monster se vele tentakels is, wat Bester een-een moet afkap. Veel meer wil ek nie verklap nie.

V: Onder spanningsverhale is daar vir my duidelike grade van spanning en geweld. Dié met min grafiese detail tot by absolute rillers wat jou laat naels kou en jou hare laat rys. Waar sou jy jou verhale plaas op hierdie spektrum?

A: Dit is moeilik om al my spannningsverhale onder een sambreel te groepeer. Ek dink dit wissel op daardie spektrum tussen rillers (soos my boek Medusa) tot ’n paar wat meer tradisionele speurverhale is, met die fokus op die speurder se slim dinkwerk en vernuf om ’n skuldige op te spoor. Spanning is egter altyd ’n belangrike element waarna ek streef en soms is geweld nodig om substansie te gee aan die misdadiger se onstabiele persoonlikheid.  Ek hou ook daarvan om uit die misdadiger se perspektief te skryf, wat meebring dat ek nooit nét fokus op wat my speurheld dink en doen nie. Meestal werk hierdie benadering nogal goed om die spanningslyn van ’n boek te verhoog.

V: Mag ons gesels oor Hans? Jy het totaal afgewyk van jou baie suksesvolle speurreeks en ‘n unieke stel karakters geskep. Was dit ter wille van afwisseling in jou skryfproses, ‘n nuwe uitdaging, of om ‘n bepaalde behoefte in die mark te bevredig?

A: Ek het altyd maar ’n liefde vir komedie gehad, wat al in 2008 begin het met my toneelstuk, Die Begrafnis, ’n klugtige stuk wat ek onder die skuilnaam Phil Janse geskryf het, en toe bekroon is met ’n teaterprys en by al die kunstefeeste in die land opgevoer is. Toe ek boeke begin skryf het, het ek nooit vermoed dat ek my weer tot komedie sou wend nie en was ook nie eintlik van plan om dit te doen nie. Hans se “geboorte” was heel toevallig toe ek sommer vir die pret ’n komiese kortverhaal vir die Woordfees se kortverhaalbundel geskryf het. Dit het gehandel oor ’n omie (Hans) wat geweier het om ouetehuis toe te gaan. Ná die verskyning van dié bundel, wou Hans my egter nie los nie,  sy storie het gesoebat om ’n boek te word. En só het Hans steek die Rubicon oor ontstaan. Ek het dit toe as bloot ’n “asemskepboek” tussen my spanningsromans deur beskou en was nie van plan om verder daarmee voort te gaan nie.  Maar verskeie faktore, onder meer Hans se onverwagte gewildheid onder lesers, het my geïnspireer om voortaan ook jaarliks ’n Hans-boek te skryf. In Julie vanjaar sal die vierde Hans-boek verskyn.

V: Hans bars die bioborrel is die derde in hierdie reeks. Wat my bring by die volgende vraag: waarom skryf jy reekse, eerder as alleenstaande titels?

A: My verhale is altyd alleenstaande en volg nie opmekaar nie, maar die hoofkarakters bly dieselfde. Ek vermoed ek raak so verknog aan hierdie karakters dat ek nie van hulle afskeid wil neem nie. As leser verkies ek ook reekse bo losstaande titels.

V: Dit is dalk ‘n onbillike vraag, gegewe vele kortlyste gehaal en toekennings verwerf, maar wat sou jy beskou as die persoonlike hoogtepunt van jou skrywersloopbaan?

A: Dit is nie ’n onbillike vraag nie, maar ’n baie moeilike een om te beantwoord. Elke boek wat ek skryf, sal altyd ’n spesiale plek in my hart inneem. Dit is vir my byna onmoontlik om een as dié hoogtepunt in my loopbaan uit te sonder. Pryse en kortlyste is ’n aangename bonus, maar die positiewe terugvoering van lesers dien as my inspirasie om aan te hou skryf.

Baie dankie vir die kykie in jou skrywersloopbaan, Rudie. Lesers kan Monster en Rudie se vorige boeke kry by boekwinkels en aanlyn. Onthou dat Graffiti Boeke gratis koerieraflewering aanbied. Bestel Monster hier, en Hans bars die bioborrel by hierdie skakel.