Met die lees van die hierdie uitsonderlike bundel, het ek telkens van mening verander oor watter storie nou eintlik my gunsteling was. Dieselfde geld vir die gedigte. Ek gaan volstaan met die uitspraak dat ons skrywers ongelooflik talentvol en kreatief is. Ek staan verstom oor die verbeeldingsvlugte waarop die leser geneem word, van onderstebo wêrelde, na ‘n seun wat verander in ‘n luiperd, tot by Laerskool Ewewig waar talente wissel van hare wat groei soos ‘n lugballon en ‘n gevaarlike linkergroottoon wat enigiets laat verkrummel.

Die bundel is saamgestel met die oog op die CAPS-kurrikulum vir graad 4 tot 7 en maak voorsiening vir leerders uit al die bevolkingsgroepe. Daarom gaan jy byvoorbeeld suiwer Afrikaans langs Kaaps kry, en tradisionele verhale uit die volkskultuur.

Van die poësie het ‘n tweede lees gewaarborg, en selfs trane laat loop, soos Noreen Nolte se Afskeid: “Is dit hoe die dood is? Seer van verlang en mooi van onthou?” (p.172)

Drie drama’s beloof pret vir deelnemers, met oulike teks. Daar is moeite gedoen om volledig rigting te gee wat karakters, dekor en rekwisiete betref.

Soos ek voorheen genoem het, is die volg van CAPS nie ‘n voorvereiste om hierdie interessante bundel te geniet nie.

Die bundel is saamgestel deur Marieta Nel en uitgegee deur Lapa Uitgewers. ‘n Rits baie bekende skrywers wys hulle slag met hierdie gelukkige stories. Daar is name soos Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Elsa Winckler, De Wet Hugo en Carina Stander, om maar ‘n paar te noem.

Bestel die gedrukte boek hier

Ook as e-boek hier beskikbaar.