Daar is pragtige lewenswaarhede vasgevang tussen die kleurvolle bladsye van hierdie splinternuwe kleuterboek deur Marleen Lammers . Springbokkie vind sy identiteit in sy vermoë om te spring en te pronk en daarsonder voel hy niks werd nie. Dit verg die vriendskap, insig en slim planne van sy aapmaatjie om hom uit sy depressie te help. En die hulp van sy vriende om hom te laat spring, al het hy sy spring verloor!

Die bladsye is stewig genoeg en die afwerking sodanig dat driejariges self kan rondblaai sonder om dit te beskadig. Verder is die illustrasies deur Gwendolene van der Merwe so kleurvol en pragtig dat dit bepaald die aandag gaan hou. Ek sien sommer in my geestesoog ‘n jong lesertjie wat aan haar sibbe voorlees terwyl hulle aan haar lippe hang.

Hierdie oulike kleuterboek vir driejariges en ouer is uitgegee deur Lapa. Koop die gedrukte boek hier. Ook hier as e-boek beskikbaar.