“Stres laat ’n mens glo alles moet onmiddellik gebeur, maar geloof help jou om te weet dat alles op die regte tyd sal gebeur soos dit moet. Let go and let God. Niks gebeur sonder sy medewete nie.” (bl. 158) Hierdie goeie raad van haar stiefma, Belinda, was die draaipunt in die lang en heftige emosionele en geestelike stryd waarin Ali gedompel is na haar ongeluk. Soos in die vorige verhale oor die mense van Groeneweide, is daar diepte in die storielyn, wat betref die geestelike, of dan, inspirerende onderbou van die storie.

Die lekkerte van ’n reeks boeke is dat die karakters bekend is, maar die ander kant van die munt is die tydsverloop tussen die publikasies. Lentemelodie is die vierde in die reeks inspirasieverhale van Madelie Human wat deur Romanza uitgegee is. Ek kan met groot vrymoedigheid sê dat die sukses van hierdie nuutste romanse nie afhang van die lees van die vorige drie nie. Die skrywer werk genoeg terugflitse by om die vorige aflewerings te herroep. Boonop kry mens sommer lus om die hele reeks mettertyd te herlees.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier