Die onnutsige gesiggie van die Pippie Langkous karakter, kompleet met onpaarkouse, puntskoene, sproete en rooi vlegsels, is geen onbekende in Suid-Afrika nie. Sy was die ster van televisieprogramme, flieks, en selfs kinderteater. In 1975 het Nerina Ferreira haar stories in Afrikaans vertaal. Die her-uitgawe van die omnibus met drie boeke is deur Jaco Jacobs hersien en spog met hedendaagse Afrikaans waarmee oud en jonk maklik kan identifiseer.

Pippie is ’n alleenkind wat haar intrek geneem het in Huis Winderuis. Sy maak korte mette van enige poging om haar na ’n kinderhuis te verskuif; sy is mos ’n kind en sy het ’n huis! Haar stories is deurspek van verwysings na lande oraloor, plekke wat sy glo al besoek het. Ek moet bieg dat ek haar houding nogal arrogant vind, dit grens aan ongepoets. Haar optrede is onkonvensioneel, selfs gevaarlik. Dit gaan egter vir voorlesers ’n ideale geleentheid bied om bietjie voorligting by die stories te betrek. Hoe aweregs sy ookal mag wees, Pippie was deur die jare ’n groot gunsteling onder kinders.

Die Sweedse skrywer, Astrid Lindgren, word saam met drie ander skrywers gereken as diegene wat kinderliteratuur drasties verander het om meer uitdagend, selfs wilder, te wees, met fokus op die verbeeldingswêreld van die kind. Dit word baie duidelik geillustreer deur die avonture van Pippie.

Elkeen van die drie stories waaruit die omnibus bestaan, is basies ’n versameling van opeenvolgende kortverhale. Die lywige 358 bladsye sal sorg vir ure se leesgenot en is deur die uitgewers, Human & Rousseau geoormerk vir lesers van ses tot nege jaar.