Waar die wolwe huil

Waar wolwe huil is ’n langverwagte en baie welkome nuwe Romanza uit die pen van Magdaleen Walters. Dit is uitgegee onder die subgenre, Histories, omdat dit afspeel in Engeland en wel so ver terug as 1814. Al die oudwêreldse fleur van kastele, baronne en koetse van die rykes, in skrille kontras met die armes wat in stegies woon en raap en skraap om siel en liggaan aanmekaar te hou.

Ook kon dit onder die subgenre, Fantasie, resorteer, want mitiese figure en die liefde hoop mos gemaklik hand aan hand. Die versoeking is groot om Baron Lewis Bloodsworth se attribute te besing, maar ek sal eerder ruimte laat vir lesers om self te ontdek watter formidabele held hy eintlik is.

Edith Maberry het ’n hartseer verlede. As jong weeskind beland sy in ‘n werkshuis, later as metgesel vir die bedorwe dogter van Graaf Rodeback, waar sy gelukkig baie vaardighede aanleer. Dan beland sy op straat en moet in ’n obskure kroeg werk. Dit is dan ook daar waar haar pad kruis met dié van Baron Bloodsworth en haar lewe vir ewig verander.

Hoewel fantasie nie noodwendig my eerste keuse is nie, sal ek moet jok as ek sê dat ek hierdie Romanza nie van harte geniet het nie en heel boeiend gevind het nie. Die skrywer verdien beslis ’n pluimpie vir die wyse waarop sy die leefwyse en omgewing lewend gemaak het.

Die gedrukte, sowel as e-boek is beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf.

Al wat tel

“Los hierdie storie. Vir jou eie onthalwe. Moenie dat ek volgende week langs jou lyk staan en jou kollgegas se vrae beantwoord nie.” (p.106) Kolonel Jessica Bokaba van die Valke se waarskuwing val op dowe ore. Sedert ’n bekende sakeman Vrydagaand voor die gimnasium waar Ami Prinsloo oefen, doodgeskiet is, raak Ami roekeloos en doelgerig al hoe dieper betrokke by die saak.

Al wat tel is die derde aflewering in die reeks van Irma Venter oor Ami Prinsloo, ’n misdaadjoernalis van Nuus360. Sy roem haarself daarop dat sy alleen werk, maar binne die blitsige verloop van hierdie saak moet sy desnoods hulp aanvaar, onder andere van Geo en sy sekuriteitspan, en sy suster, Sarah. Die tussenkoms van ’n Duitse joernalis met ’n skokkende teorie oor ’n voorval in Mosambiek, laat die vraag ontstaan of dit verband kan hou met die moord. Is die geldwassery, korrupte polisie, die Rolex bende, ’n weduwee en ’n klaarblyklike minnares en nou ook die Mosambiek voorval, dalk op ’n makabere manier alles verbind?

Die gevaarlike terrein waarop Ami haarself bevind wissel vinnig tussen Sandton, Rosebank, Hartebeespoort, Upington, Mosambiek en die Kruger Wildtuin. Sy moet beserings, ontbering, wilde diere en ewe gevaarlike mense trotseer, met een doelwit voor oë: “Ek moet net seker maak dat almal se stories gehoor word. Dis al wat tel.” (p.355)

Om te skryf oor ondersoekende joernalistiek skep ’n wonderlike geleentheid om lesers ’n kykie te gee in ’n wye verskeidenheid relevante onderwerpe, soos onder andere kuberkraking, die prosesse wat gevolg word om groot bedrae kontant te skuif, selfs bewerings oor korrupte internationale figure en plaaslike politici word vernuftig in die storielyn verweef.

Al wat tel is ’n geslaagde toevoeging tot misdaadfiksie en behoort wyd byval te vind. Dit word uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers.

Luna Skitterster word gered

’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is vir enige kind ’n uitdaging, maar as jy boonop skamerig is, soos Nea, is dit ’n groot probleem. Veral as jy na ’n verjaarsdagpartytjie genooi word.

Die uitbundige Keisha, die elfjarige verjaarsdagmaat, het wel een ding in gemeen met die skugter Nea, en dit is hulle liefde vir eenhorings. Deur haar nuuskierigheid gedryf, beland Nea tydens ’n wegkruipertjiespeletjie in die eenhorings se wêreld waar daar towertyd heers. ’n Pragtige jong eenhoring, Luna, is in die moeilikheid en Nea moet vir Keisha gaan haal om te kom help. Dan volg ’n wonderlike avontuur op die maats in die Saffierstroomryk.

’n Oulike vraelys aan die einde van die storie kan kinders help om hulself te toets om te bepaal watter soort maat hulle vir ander is. Daar is ook ’n bespreking oor die verskillende skakerings van die kleur blou, en inligting oor tower- en regte perde.

Die omslagontwerp asook die besondere illustrasies is die kunstige werk van Bronwyn Webb. Die skrywer, Peti Troskie, debuteer in 2021 met Lukas bou n superkar en word in 2022 bekroon met die ATKV Kinderboektoekenning in die Selfleeskategorie: Graad 4-5.

Luna Skitterster word gered is ’n heerlike fantasieverhaal wat byval sal vind by kinders van 9jaar en ouer wat selfstandig lees, terwyl jonger kinders die storie kan volg as daar voorgelees word. Die boek is ’n publikasie van Lapa Kinder- en Jeugboeke en is beskikbaar in gedrukte sowel as e-boekformaat.

’n Tyd om te sing

Amy Clarkson is die apteker op Mountain Creek, dogter van afgetrede en skatryk dokter en tandarts van die dorp waar sy grootgeword het. Haar gevestigde wêreld keer op sy kop die dag wanneer Jacques van die Christelike sanggroep, Storms en Stilte, by haar apteek instap. Aardskuddend, want hy is ook ’n kind van hierdie dorp en hulle het ’n geskiedenis.

Ruan Smit het tien jaar gelede uit haar lewe verdwyn sonder verduideliking, maar gou kan die leser agterkom dat daar ’n storie agter die storie is, een wat die skrywer met geduld, stuk vir stuk, met haar lesers deel.

n Tyd om te sing is in die Inspirasie subgenre uitgegee en daar kom inderdaad baie belangrike geestelike kwessies ter sprake, onder andere dié van ’n huwelik met ’n ongelowige en van sondeoortuiging. Ruan het tydens ’n Diensjaar vir Christus sy hart en lewe vir die Here gegee en sy geloof is vir hom prioriteit. Saam met sy ma en sy goeie vriendin bid hulle ernstig vir Amy, wat haar eie demo ne moet veg, waarvan haar hooghartige ouers die moeilikste is.

Om meer van Ruan se innerlike worstelinge met rykdom en vertoon te verduidelik, sal die storielyn verklap. Ek sal volstaan deur te sê dat dit mens nogal diep raak.

Daar is ’n goeie dosis misverstande wat die storielyn deurloop. Een daarvan juis rondom die pragtige lied wat Ruan geskryf het vir ’n ongeïdentifiseerde meisie. Die skrywer het ons verras deur die lirieke wat voor in die boek verskyn, te toonset en boonop ’n pragtige video opname daarvan te maak. Gaan luister gerus by: https://www.youtube.com/watch?v=w7-W0SJhXIo.

Maak ’n draai op Lapa Uitgewers se webwerf as jy ’n e-boek wil aanskaf. Die gedrukte boek is ook vrylik beskikbaar, aanlyn en in boekwinkels.

Veilige hawe vir die hart

Toe ek vroeër vanjaar geskryf het oor Tuiskoms vir die hart, die mooi storie van Marike en die getraumatiseerde arbeidsterapeut, Louis, het ek verkeerdelik die aanname gemaak dat dit die laaste in die reeks is oor die hartsake van ’n hegte vriendekring in die Boland. Ek het uit die oog verloor dat Paula, die dinamiese en kleurvolle kollega van Louis, en Louis se vriend, Derick, se harte nog nie lêplek gekry het nie.

Ná die debakel wat Derick veroorsaak het by die vriende se dubbele troue, het Paula ’n rits vooropgesette idees oor die man, terwyl hy op sy beurt moeite het om dié vrou te herken soos sy vriende haar aan hom voorgehou het. Wanneer hulle paaie kruis ontaard dit in bekgevegte en gekorswil wat nie altyd heeltemal goedig is nie. “Vir die Derick wat ernstig is, is sy nog skrikkeriger as vir die een wat haar siel voortdurend uittrek.” (p.71)

Ek wil die skrywer komplimenteer oor die fyn humor wat telkens die storielyn verlig, want daar is nogal heelwat ernstige kwessies wat onder die loep kom, waarvan alkoholisme een is. En daar is die onvermoë om eerlik te wees met jouself, eienskappe wat by beide Paula en Derick ’n beduidende rol speel. Die skrywer het die werklike rede vir die afstand wat Paula verbete voorgehou het, eers baie laat in die storie verklap, terwyl dit maklik oorbeklemtoon kon word deur ’n skrywer wat met minder versigtigheid daarmee omgegaan het.

Die leser sal heelwat detail uit voorafgaande aflewerings kan wys word met die lees van Veilige hawe vir die hart, maar die vorige drie boeke sal die leesgenot beslis aanhelp. Tuiskoms van die hart (Elsbet en Brent), Rusplek vir die hart (Olivia en Shaun) en Herberg vir die hart (Marike en Louis) is al drie in gedrukte sowel as e-formaat beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf. So natuurlik ook Veilige hawe vir die hart.

Anoniem

Oor sommige boeke kan ek onmiddellik my sprak sprook nadat ek die laaste woord gelees het, maar dan is daar ander wat eers moet lêplek kry in my gemoed voordat ek ’n indruk daaroor kan neerpen. Soos baie beslis in die geval van Anoniem, die vyftigste roman uit die pen van bekroonde en geliefde skrywer, Chanette Paul. Hier loop die storielyn so wyd en diep dat daar nie ligtelik daarmee omgegaan kan word nie. Selfs die skrywer bieg in die outeursnota dat dit die moeilikste boek is wat sy nog ooit geskryf het. Dit, terwyl dit vir my so logies geklink het dat sy hierdie tema sou kies vir haar mylpaalroman.

Daar is in wese eintlik meervoudige storielyne wat telkens terugwentel na Lula Prins, oftewel Tallie Lategan, of dan in die eerste plek Talulah Verduyn, welke identiteit sy gepoog het om te begrawe vanweë die aanslag wat dit op haar gewete maak.

Een sodanige storielyn, wat die skrywer met groot geduld eers baie laat in die boek oopskryf, is die rampspoedige verloop en veral die einde van Lula se huwelik met Handré Verduyn. Eers dan kan die leser verstaan waarom anonimiteit vir Lula so belangrik is dat sy haarself vestig op ’n klein dorpie in die Overberg. Haar verblyf aldaar, onderstreep sommer ook die twispunt van ekonomiese vooruitgang versus die behoud van ’n landelike omgewing se karakter en die houding jeens inkommers, veral van ’n blanke in ’n oorwegend bruin gemeenskap.

Dan is daar die storie van die drie Kruger broers, wat op verskillende maniere Lula se pad kruis. Daar is die twee belangrike vrouekarakters, May-Ella en Lilibet wat elk verdere diepte verleen aan ’n reeds komplekse storie.

En dan is daar die liefdesverhaal van Lula en Kriek Kruger. Kriek met sy “intense behoefte om weer te kan glo daar is eerbare vroue.” (p.106) Kriek, wat keer op keer ontnugter word, oorreageer en eers later optree en regstel.

Anoniem is ’n goeie voorbeeld van genrevermenging, die tendens wat Lula Prins verduidelik by haar eerste skryfskool op Heydendal. Die goeie skeut spanning, verweef met die verhoudingsuitdagings en ingekleur deur die moontlikheid van moord, is bewys daarvan.

Hier is veel meer as ’n goeie storie – dit ook ja. Dit het byvoorbeeld die vreemde wêreld van Irlen-sindroom vir my oopgebreek, iets waaroor ek totaal onkundig was. En dan natuurlik die binnewerking van die uitgewersbedryf wat onder die loep kom, die positiewe daarvan en ook die gebreke. En deurlopend is daar oorsaak en gevolg. “Vir elke aksie is daar ’n gelyke en teengestelde reaksie. Maar wie glo nou vir Newton. Tot ’n mens daartoe gedwing word.” (p. 391)

Vir deurwinterde skrywer, Chanette Paul, hoef ek geen lans te breek nie. Binne etlike dae nadat haar vyftigste boek verskyn het, pryk dit reeds op boekwinkels se rakke onder die gesogte #1. Maar indien daar mense is wat nog wik en weeg, gaan lees dit gerus. Dit is op Lapa Uitgewers se webwerf beskikbaar in gedrukte, sowel as e-boek formaat, en in goeie boekwinkels en aanlyn.

Soogdier-Safari Aktiwiteitsboek

Die titel van Heléne Booyens se nuwe boek, Soogdier-Safari Aktiwiteitsboek is effens misleidend, want hierdie produk is veel meer as ’n boek gevul met blokraaie, woordsoek, getallelere, soek-die-pad-raaisels en derglike aktiwiteite. Daar is meer as 45 speletjies wat alles sentreer rondom soogdiere en gewaarborg is om die aandag van jong natuurliefhebbers se aandag te behou.

Benewens die aktiwiteite, is die boek propvol interessante feite oor soogdiere, sommige baie bekend, maar ook van dié waarmee ons nie heeltemal so vertroud is nie. Unieke diere, soos geelvrugtevlermuise, het byvoorbeeld die onderskeiding dat hulle sorg vir die grootste migrasie in Afrika. Die langste, die swaarste, die ligste, die vinnigste – elke onderskeiding denkbaar, gekomplimenteer met mooi foto’s, maak van hierdie boek ’n heerlike aktiwiteit- en leesboek.

Hierdie boek is geskik vir kinders van ses jaar en ouer,   eenvoudige aktiwiteite vir die jonger lesers, tot oefeninge wat nogal heelwat meer uitdagend is vir bietjie ouer kinders.

Soogdier-Safari is uitgegee deur Struik Nature, ’n druknaam van Penguin Random House Suid-Afrika. Beskikbaar op Lapa Uitgewers se webwerf en in goeie boekwinkels.

Penpunt, die eerste jare

Aan die einde van 2010, het die Vriende van die Kempton Park Biblioteke, ‘n nuwe inisiatief geloods. ‘n Forum is gestig vir persone wat belangstel in enige vorm van die skryfkuns, en die eerste vergadering is baie goed bygewoon. By ‘n latere byeenkoms is daar besluit op die naam Penpunt Skryfskool. Die missie was om skryfkuns by lede te bevorder deur middel van kundige sprekers, praktiese skryfoefeninge en verskaffing van inligting rakende slypskole, kompetisies, kursusse en publikasie.

Francois Stemmet, ‘n bekende radioskrywer en oorklankingskunstenaar, het Penpunt Skryfskool kom toespreek oor die Forum vir Selfpublikasie, en Henk Viljoen het ook kom besoek. Hy het vertel van die nuwe gidse, Piekfyn Afrikaans Eerste Addisionele taal, waaraan Best Books op daardie stadium gewerk het. Hy het ons genooi om bydraes voor te lê. Min het ek kon raai dat ek jare later die illustreerder, Fanie Viljoen, sou “ken” via sosiale media. Trouens, die voorreg hê om hom as Lekkerleesboekrak se Skrywer van die Maand April 2024, voor te hou. Dit was juis Henk, wie ek genader het oor ’n bydrae oor sy werk saam met Fanie, wat my daaraan herinner het dat Fanie al die illustrasies gedoen het vir Piekfyn Afrikaans.

Piekfyn Afrikaans het vir Penpunt Skryfskool oorleef en het al uitgebrei na Leesboeke, Onderwysersgidse en Leerderboeke, en dek Grade 4 tot 9. Besoek gerus die webwerf van NB Uitgewers/Best Books om die volledige reeks te sien.

Nadat die Penpunt Skryfskool doodgeloop het, het ek die naam, Penpunt, wat my voorstel was, behou vir my blog wat ek in 2013 begin het, en het ek later ook die Facebookblad, Penpunt Skryfdinge, begin. Sederdien het die #amandinkso ook bygekom en het ek die voorreg om baie boeke te lees en my lesersindrukke te skryf.

Lia se held

Lia se droompos by @Las Modehuis is nie heeltemal wat sy gehoop het nie. Sy kry nie die geleentheid om haar eie ontwerpe met sukses voor te lê nie en moet gedurig onder die skerp tong van die baas, Charlotte, deurloop. Boonop is daar deesdae ’n dief wat waardevolle items uit kantore steel. Die enigste ligpunt is die finansiële bestuurder met die saffierblou oë wat gereeld opdaag presies wanneer Lia hulp nodig het.

Skrywer, Nadia de Bruin slaag goed daarin om ’n oulike superheldstorie te skep met einste Kian in die hoofrol van oppasser en helper, en dan ook natuurlik die onderwerp van Lia se verliefdheid. Met ’n oop einde, kan die leser heerlik die gedagtes laat loop oor hoe die storie verder gaan uitspeel vir Kian en Lia, wat hoeka van kleins af versot is op stories en flieks oor superhelde.

Nadia de Bruin is ’n onderwyseres wat versot is op lees. Van haar kortverhale is gepubliseer deur Lapa Uitgewers onder die destydse digitale vaandel van Romanzaliefde. Lia se held is ’n digitale fantasieliefdesverhaal van Viva-Uitgewers, kompleet met ’n klankbaan, voorgelees deur Esmarie Yssel van Pretoria FM.

Dit is werklik baie maklik om Viva-Uitgewers se boeke te bekom. Besoek net die webwerf, koop ’n boek en binne minute kan jy met jou selfoon of rekenaar aanlyn lees of luister.

Hoërskool Gruwel

Ek het onlangs die stelling gemaak dat vandag se jeug baie meer dapper is as wat ons was. Trouens, ek staan dikwels verstom oor die grusame, spokerige en grillerige storielyne wat klaarblyklik met groot ywer deur jongmense opgeslurp word.

Hoërskool Gruwel, die nuwe boek deur Liesl Janse van Rensburg, staaf my stelling een honderd persent. Staal jouself, want jy gaan monsters in verskeie gedaantes teëkom. Daar is vampiere, ’n kannibaal, ’n  weerwolf, iemand wat ander se lewensenergie steel. Die karakters is skrikwekkend, maar die skryfwerk is goed gekonstrueer en telkens, na elke verrassende en grillerige einde van ’n hoofstuk, het ek diep asemgehaal en voortgedu.  

Die storielyn kom tot ’n einde wat vir oulaas ’n rilling by die ruggraat afstuur. Monsters word na waarde gemeet om te bepaal of jy gered kan word. “As jy eers ’n gruwel is, is jy vir altyd ’n gruwel. Dit verander nie sommer oornag nie.” (p. 1 in Meneer X)

Liesl Janse van Rensburg het voorheen gesorg vir Leesgidse vir onder andere My ouma is ’n rock-ster, ’n Hart is net atome en Lukus bou ’n superkar. Hoërskool Gruwel is ’n boek oor tieners vir tieners en is uitgegee deur Viva-Uitgewers. ’n Waardevolle ekstra is ’n lys van nuttige woorde en uitdrukkings wat verskyn aan die einde van elke hoofstuk. Die boek is slegs in elektroniese formaat beskikbaar, maar baie maklik om te bekom deur die webwerf te besoek, aan te koop en af te laai om te lees op ’n rekenaar of selfoon.