Tharina beleef die nagmerrie waaraan voornemende bruide nie eers wil dink nie: om voor die kansel gelos te word. As troosprys laat die bruidegom vir haar ‘n brief en die vliegtuigkaartjie na hulle wittebroodbestemming, die dorpie Positano, waar daar plek bespreek is in die gastehuis van ‘n beeldhouer, Hugo Malan. Pleks van rustige wonde lek, beland sy midde in ‘n plofbare familie-opset. “Almal in die Malan-dampkring is so te sê sertifiseerbaar en nou soek hulle ‘n sondebok om nie self skuldig te lyk nie.” (p. 122)

Die skrywer skroom nie om die vonke behoorlik te laat spat tussen die hoofkarakters nie, met die newekarakters wat bepaald hulle deel bydra om sake vir Tharina moeilik te maak, selfs dodelik gevaarlik. Daar is misverstande, verkeerde aannames en blatante leuens betrokke wat alles meewerk om dit ‘n boeiende romanse te maak.

Die skrywer slaag ook baie goed daarin om nie die interessante landskap en besienswaardighede soos Pompeji en die Swart Madonna te laat oorheers nie en eerder funksioneel aan te wend om die storielyn te ondersteun. Rika Cloete het haar skrywerstande geslyp op moord, historiese fiksie en selfs huishoudelike noir, en terwyl sy self erken het dat romanse vir haar nuut is, dink ek sy het uitstekend gevaar met haar debuut-Romanza. Soos my goeie boekevriendin, Anschen Conradie, lees ek ook boeke van die voorblad tot agter deur, en dit het my opgeval dat daar in die inligtingsblad ‘n fout ingesluip het. Die Romanzas wat aan Rika Cloete toegedig word, is eintlik die werk van Rika du Plessis.

Hierdie Romanza, met sy sagte en mooi voorblad, is ideaal om te lees waar die wintersonnetjie lekker skyn, en vir ‘n wyle te ontvlug na die mooie Italië waar dit nou somer is.

Bestel die gedrukte boek hier.

Bestel die e-boek hier.