Die openingstoneel van Marida Fitzpatrick se roman, Mara, het my reeds oortuig dat hierdie ’n buitengewone stuk skryfwerk is. Soos ek gevorder het en die spanning en misterie my bekruip het, het die gevoel bly groei, tot by die skop-in-maag-ontdekking nader aan die einde. Ek kon die ontknoping glad nie voorsien nie, selfs nie met my gewoonte om storielyne te probeer voorspel nie.

Die verhaal word baie effektief en uitsonderlik aangebied vanuit twee perspektiewe. Rakie is as eerstepersoonverteller aan die woord met die terugflitse na hulle kleintyd in Driefontein. Sy onthou die duiwels wat in haar ma invaar, die spot van skoolkinders, haar minderwaardigheidsgevoel, haar wens dat sy kon teken en klavierspeel soos haar boetie, haar begeerte dat haar ma haar kon liefhê soos vir Mara, haar tweelingsussie. Wat sy egter nie kan onthou nie, is hoe haar boetie dood is.
Die hede, wat gedryf word deur Rakie se obsessie om uit te vind wat met Viljoen gebeur het, word vanuit die derdepersoon oogpunt aangebied.

Die Bouwers se verhaal is ontstellend en hartseer. Elkeen van hulle moes hulle eie demone beveg en het hulself en mekaar skade berokken. Daar is vele teenstellings, soos arm versus ryk, wit versus swart, normaal versus sielsiek. Dit is ‘n boek wat mens nie laat los as jy die laaste bladsy gelees het nie.

Die skrywer het hierdie waardevolle toevoeging tot die domestic noirgenre in Afrikaans, onder leiding van Prof Henning Pieterse en Dr Francois Smith voorgelê vir haar meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. Dit is sopas gepubliseer deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers.