Die immergewilde Fanie Viljoen het sopas nog vier titels by sy vorige agt klein boekies gevoeg. Dit belowe weer ure se genot vir ouers en kinders. Elke boekie is propvol interessante feite. ‘n Grapkas hier en daar met prettige opmerkings gaan die lagspiere aan die werk hou en die kleintjies verder vermaak. Hope pret in klein formaat!

Die Klein Boek van Hipercool Hondetoertjies kan ‘n jong maat help om sy hond basiese dinge soos sit, lê, bly en hand skud te leer, asook meer ingewikkelde toertjies soos dans en rol. Daar is wenke en waarskuwings oor verkeerde metodes. Bestel die gedrukte boek hier, en die e-boek hier.

Die Klein Boek van Skitterende Speelgoed bied feite oor ‘n verskeidenheid gewilde speelgoed, soos Barbie, Lego, die hoelahoepel en daardie tamagotchi’s waarna die ouers gewoonlik moes omsien! Het jy geweet dat Monopoly die gewildste bordspeletjie in die wêreld is? Koop die gedrukte boek hier en die e-boek hier.

Die Klein Boek van Mal Modes gaan waarskynlik groot byval vind by dogtertjies wat hou van skoene, klere, en haarstyle. Daar is egter ‘n paar grillerige feite, soos ‘n rok gemaak van vleis, en gevaarlike kledingstukke wat jou kan doodmaak. Koop die gedrukte boek hier en die e-boek hier.

Die Klein Boek van Skouspelagtige Sport dek ‘n wye verskeidenheid, van skaak (ja, dit is blykbaar ‘n sport), swem, sierskaats, Olimpiese sport, krieket en sokker tot by gimnastiek, netbal en rugby. Koop die gedrukte boek hier en die e-boek hier.

Aan die einde van elke klein boekie is daar ‘n toetsie om te bepaal hoeveel feite die kind kan onthou, en ‘n Super-Duper-Slimkop Sertifikaat wat die kind kwalifiseer as briljant, ‘n wenner, of manjifiek. En net om seker te maak dat die skrywer nie die feite versin het nie, sluit elke boekie af met ‘n bronnelys.

Kinders van sewe en ouer behoort hierdie boekies van harte te geniet, en die ouers natuurlik ook!

Uitgegee deur Lapa Uitgewers